Vandeesweek se Goue Middeweg-uitdaging was ’n taai een. Die spanne moes koekstruif (trifle) nuwe feesvlerke gee met die voorwaarde dat tradisie en vernuwing mekaar halfpad moet ontmoet. Elke span moes 12 klein koekstruiwe binne 70 minute gemaak het. Alhoewel die jellie reeds voorbereid was, moes die spanne hul eie vla en koek gemaak het.
Nadat die koortjie klappers aan die deelnemers oorhandig het, was die inhoud van elkeen van die klappers ’n bestanddeel wat in hul koekstruif moes wees.
Shireen Kadalie en haar seun, RJ, se spookasem-koekstruif en Hanna en Dirk se skuimpie-koekstruif het hulle onder die top-twee beland – maar dit was Shireen en RJ wat jubelend hul wen gevier het. Maar vir wie het die spreekwoordelike son gesak in die Sonkamer?
Caroline Linde en haar dogter, Anél van Niekerk, se springmielie-koekstruif en Yvette Malan en haar dogter, Francisca Momberg, se slap vla het hulle in die pekel laat beland.
Herman het Yvette en Francisca se koekstruif eerder as ’n melkskommel ervaar – en dit het hulle hierdie keer gesink.
Yvette Malan (60) kom van ’n plaas 45 km noord van Ellisras waar sy die afgelope 20 jaar die eienaar van Yvette Malan Eiendomme is. Haar dogter, Francisca Momberg (35), is die batebestuurder van Lephalale Mall. Sy reis graag en woon in elke land ’n kookklas by.

Yvette vertel:
Deel jou ander kinders ook jou en Francisca se liefde vir kosmaak? Of is dit jy en Francisca wat altyd sorg vir ’n feesmaal as almal saamkuier?
“Marguerite, wat ’n geoktrooieerde rekenmeester is, is eintlik die mees onverskrokke kok. Sy pak enigiets aan. Ons het vir Gilbert Sasha, ’n sjef van Zimbabwe, gehad toe die kinders jonk was en hy het haar leer koekbak en kook.
“Ek sou egter nie saam met haar aan Kokkedoor: Son & see kon deelneem nie. Sy is te kwaai. Fran is sag met my. Arnold en Hugo deel net ons liefde vir eet.”
Watter aspek van Kokkedoor: Son & see was vir jou die uitdagendste? En hoekom?
“Beslis die koue en die lang ure. Ons kom van die Bosveld af en ken nie eintlik van nat en koud terselfdertyd nie. Die ure het my ook gevang. Ek beskou myself as fiks en aan die gang maar die lang ure . . . Ek dink my lyf is nou 60!”
Het jy vantevore oorweeg om vir een van die Kokkedoor-seisoene in te skryf? Of selfs vir ander kos-kompetisies?
“Nee, nog nooit nie.”
Watter uitdaging van Kokkedoor: Son & see het jy die meeste geniet? Of is daar een wat uitstaan as die slegste ervaring ooit?
“Ek het definitief die braai-uitdaging die meeste geniet. Ek het nog nooit vantevore self gebraai nie, maar deesdae is dit my handelsmerk. Die braai het my heeltemal uit my gemaksone gedwing. Terug by die huis het ek dadelik vir my ’n nuwe braai laat bou. Te pragtig.
“Vir my was die slegste ervaring ooit toe my ciabatta nie wou rys nie. Ek was stomgeslaan. Niks, net mooi niks, kon dit laat rys nie. Dit was ’n eerste vir my.”

As dit jou beurt sou wees om deur iemand bederf te word met wens-kos . . . wat sal jy op daai droom-spyskaart wil sien?
“Ek het September met my 60ste verjaarsdag my kos-droomwens gehad. My dogters het my bederf met ’n ete by La Motte by Jan se restaurant. Die kombinasie van eenvoud – brood en botter – en fyn kos met perlemoen in spanspek, was so ’n belewenis.”
“Mascarpone met ’n geflopte vla-mengseltjie” het jy jul koekstruif aan Herman verduidelik. Was die druk te groot om die vla reg te kry? Hoe gaan jy vla van nou af vorentoe benader?
“Ek en Fran was albei verantwoordelik vir sekere elemente en die vla was my verantwoordelikheid. Wat ek nooit besef het nie, was dat daar nie vlapoeier in die spens was nie. Ek maak die beste vla in die wêreld. Fran het onmiddellik ingestem om die vla (wat sy nog nooit gemaak het nie) oor te neem. Toe raak dit een eier-massa. Ek dink ons het probeerslae met 12 eiers gehad. Ek kon net nie die tegniek verstaan nie. Arme Herman het geduldig vir my probeer verduidelik hoe om te werk te gaan, maar iets het net nie geregistreer nie.
“Ek maak my vla gewoonlik met 1 liter kookwater 150 gram vlapoeier en ’n blik kondensmelk. Almal staan altyd tou vir my Ultramel-vla in ’n kits.”
Wat anders sal jy onthou van die ervaring?
“Met die koekstruif-uitdaging het ek 4-uur die oggend wakker geword, in die koue uitgegaan en aan Fran se deur geklop.
‘Fran, Fran ek het dit.’ Fran, altyd ordentlik: Ja Mamma?’
‘Ons maak worshondjies uit piesangs wat oor die glasies loer.’
‘Hoe maak ons die worshondjies, Mamma?’
‘Ons sny piesangs middeldeur, sit ogies en oortjies op en dan loer hulle oor die rand van die glasies.’
‘Hoekom worshondjies, Mamma?’
‘Want Herman is baie lief vir honde.’
‘Mamma gaan klim terug in die bed en gaan slaap.’
“Wel, die volgende dag het almal baie gelag oor my worshondjies. Toe is dit eiervla wat ons gekelder het en nie die worshondjies nie.”
Francisca vertel:
Jy het tergend verwys dat jou ma wat ook jou buurvrou is, jou “Sixty60”-bron van produkte is. Wat is die item wat jy die meeste by haar “leen”? En sy op haar beurt by jou?
“My ma is deesdae meer gereeld op die plaas, so omtrent elke middag kry ek ’n boodskap: ‘Fran, my Sixty60 word tussen 15:00–16:00 by jou kantoor afgelewer.’ Ná werk stop ek dan by haar huis, gee twee piep-piep toete, en dan hardloop sy uit om haar bestelling te kom haal.
“Dan stuur ek sommer ’n boodskap terug: ‘Mamma, kan ek ’n bietjie Sixty60 by jou huis gaan doen?’ Sy antwoord altyd dadelik ja, gewoonlik met iets soos: ‘Kyk sommer, ek het laas week ekstra olyfolie en Butro vir jou bestel, dit was op special.’
“Min weet sy dat ek reeds weet wat in haar koskaste, yskas en vrieskas aangaan . . . Die laaste twee produkte wat ek by haar gaan ‘Sixty60’ het, was wyn en eiers.
“Aan die ander kant kom leen sy ook dikwels die produkte terug wat ek by haar gevat het, dié waarvan ek haar nie vertel het nie, want sy dink haar paprika of bakpoeier is skielik klaar. Ons het maar ’n oopdeur-beleid: ek leen by haar, sy kry terug by my, en tussen die twee buurvroue word daar gereeld ge-‘Sixty60’.”

Hoe belangrik was dit vir jou om hierdie reis saam met jou ma aan te pak?
“Dit was vir my ’n ongelooflike voorreg om hierdie reis saam my ma aan te pak, nie net omdat sy my ma is nie, maar omdat sy my buurvrou, mentor en beste vriendin is. Om haar langs my te hê, het alles soveel makliker gemaak. Ek het weer besef hoe besonders ’n ma is: iemand wat dra, leer, bid, dra weer, en nooit moeg word om lief te hê nie.
“My ma is eintlik die ware kok in ons familie en ek is net die een wat probeer byhou. Ek het soveel foute in die kombuis gemaak, maar sy het my altyd met geduld en liefde geleer om rustig te raak, asem te haal, te stop en weer oor te begin. By haar kan ek net myself wees met al my foute en tekortkominge – ek het nog nooit vla sonder vlapoeier gemaak nie – en sy bly altyd die een wat in my glo en my aanmoedig.
“Ons het saam die koekstruif gemaak en ek moes eintlik net die vla maak. Ek kon net nie die vla sonder vlapoeier maak nie. Terug by die huis het ek haar gevra of ek moet leer hoe om vla sonder poeier te maak, en sy het met ’n glimlag geantwoord: ‘Fran, kom ons probeer dit weer, maar onthou, ek het altyd vlapoeier in die huis.’
“Dit was so ’n eenvoudige oomblik, maar dit het vir my gewys hoe sy altyd met geduld, geloof en ondersteuning by my staan hoe sy my leer, my dra en my laat glo in myself.”
Het jy enige waardevolle lesse tydens Kokkedoor: Son & see geleer? En iets oor jouself?
“Tydens Kokkedoor: Son & see het ek baie waardevolle lesse geleer, nie net oor kosmaak nie, maar oor die verhouding tussen ’n ma en dogter. Ons leef in ’n wêreld waar daar soveel gebroke ma-dogter-verhoudings is, en ek het weereens besef wat ’n absolute seën dit is om ’n goeie, hegte verhouding met my ma te hê. Die grootste les wat ek geleer het, is dat jy so ’n verhouding nooit vanselfsprekend moet aanvaar nie. Jy moet elke dag op jou knieë gaan en dankie sê, die foon optel en terugbel, ’n boodskap stuur, of gaan sit en tee drink selfs al herhaal sy soms dinge wat jy al gehoor het.
“Dit is die klein, alledaagse gebare wat die band versterk en jou herinner aan hoe kosbaar ’n ma se liefde en teenwoordigheid is.
“Ek het ook iets oor myself geleer en dit is dat ek gelukkig is en dat ek mag hê wat ander so dikwels na soek: ’n ma wat nie net leer nie, maar ook dra, ’n ma wat onvoorwaardelik lief het. Hierdie besef het my dankbaar gemaak en my laat waardeer hoe elke oomblik saam met haar ’n geleentheid is om liefde te gee en te ontvang.”
Het jy gunsteling-glanskokke, plaaslik en internasionaal, wat jou inspireer?
“Ek moet eerlik sê, ek is baie lief vir verskillende kokke om verskillende redes. Jan Hendrik van der Westhuizen bly ’n inspirasie want elke bord wat hy maak, lyk soos kuns: fyn, elegant en so mooi saamgestel dat ’n mens amper jammer voel om dit te eet.
“Dan is daar Jamie Oliver wie se styl ek waardeer omdat sy kos eenvoudig en maklik is om te maak, selfs op die dae wanneer mens vinnig iets op die tafel moet kry.
“Maar my gunsteling van almal is beslis Herman Lensing. Sy disse is nie net besonders mooi nie, maar sy resepte is ook ongelooflik maklik om te volg. Dit voel altyd asof hy die perfekte balans vind tussen stylvol en eenvoudig, iets wat my sommer elke keer weer laat lus raak om nuwe geregte uit te probeer. Herman se kos het daardie tuis-gevoel, maar steeds met genoeg flair dat ’n mens trots is om dit vir enige iemand voor te sit.”
Wat is jou beste kos-herinnering wat jou altyd sal bybly?
“My beste kos-herinnering wat my vir altyd sal bybly, is nie net omdat dit oor kos gaan nie, maar oor my ma. Van kleins af het sy my geleer dat ’n bord kos meer is as iets om te eet: dit bring mense bymekaar, dit troos gebroke harte, dit vul leemtes van verlange.
“Kos was nog altyd haar manier om liefde te wys, om te sê ‘alles gaan oukei wees’, en om die gewone dae besonders te maak.
“Van kindsbeen af het sy ons kosblikke met soveel sorg en liefde gepak. Sy het elke moontlike ry-geleentheid gebruik om huiskos Pretoria toe te stuur toe ons op universiteit was. Sy het nog altyd geweet dat haar kos ons nader aan haar laat voel.
“Dit is daardie eenvoudige, stil gebare: ’n kosblik, ’n bak geurige kos, ’n tuisgebakte koek wat my altyd sal herinner aan haar liefde en haar omgee-hart.

Hoe was dit om vir Herman en Yolani beter te leer ken tydens Kokkedoor: Son & see?
“Om Herman en Yolani beter te leer ken tydens Kokkedoor: Son & see was ’n voorreg op sy eie. Wat vir my uitgestaan het, is dat hulle albei ten spyte van hul ongelooflike talent en naam in die koswêreld regtig net gewone, opregte mense is met ’n diep liefde vir kook en vir mense.
“Hulle het ’n passie vir dit wat hulle doen, en jy voel dit in elke gesprek, elke aanmoediging en elke stukkie raad wat hulle gee. Hulle het nooit bo ons gestaan nie; hulle het langs ons gestaan.”
Wat het jou die meeste verbaas/verras van die produksieproses van Kokkedoor: Son & see?
“Nadat ons klaar geskiet het, het ek besef hoe ongelooflik groot hierdie wêreld agter die skerms werklik is. Die produksiespan werk maande lank aan elke detail van die program. Niks gebeur per ongeluk nie. Elke deel van die stel, elke kamerahoek, elke uitdaging, elke resep . . . dit alles word in fyn detail beplan.
“Wat my die meeste geraak het, is hoe trots elke persoon op sy of haar bydrae is. Van die kameraman tot die grimeerkunstenaars, die drywers tot kombuis, van die regisseur tot die jongste produksie-assistent… Elkeen werk ongelooflik hard, en tog doen hulle dit altyd met ’n glimlag.
“Dit is dié mense wat ons rustig laat voel het, wat ons opgebou het wanneer die spanning hoog geloop het, wat agter die skerms gesorg het dat ons net kan fokus op kook. Hulle het ons letterlik op hul hande gedra.
“Wanneer ek dus aan my Kokkedoor-ervaring dink, onthou ek nie net die kompetisie nie. Ek onthou die mense wat dit moontlik gemaak het, die hartklop van die hele produksie.”
Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.
Lees ook
‘Kokkedoor: Son & see’: Vakansiepot… of flop? Als wat jy oor episode 4 moet weet
‘Kokkedoor: Son & see’: ‘Eet, kook en leef… familie bo alles!’
‘Kokkedoor: Son & see’: Kom ons braai! Als wat jy van episode 3 moet weet
‘Kokkedoor: Son & see’: ‘Kook met jou hart, wen met jou kop’
‘Kokkedoor: Son & see’: Die verlede ontmoet die hede met die eerste ‘Kokkedoortjie’-wenner op die stel