Jan Combrink het ’n paar dinge in gemeen met sy karakter in Die Toring, vertel dié akteur. Nes die aantreklike Theo Burger, is Jan sportief én hy sê nie sommer nee vir ’n uitdaging nie. Maar anders as Theo, wat op ’n plaas grootgeword het, lê Jan se wortels stewig in Kaapstad.
“Ek is ’n stadsjapie deur en deur,” deel Jan. “Ek was op Laerskool en Hoërskool Jan van Riebeeck, en albei die skole was naby genoeg aan ons huis dat ek skool toe kon stap. Om in ’n stad soos Kaapstad te bly, beteken natuurlik ook dat daar altyd iets was vir ons as ’n gesin om te doen.”
Verbeeldingsvlugte van ’n ander aard
Jan het ’n lewendige verbeelding as kind gehad; hy het selfs drome gekoester om ’n vegvlieënier te word. “Ek was veral mal oor vliegtuie uit die Tweede Wêreldoorlog,” vertel hy. “Ek het egter later besef daardie droom was onrealisties, en ek het my verbeelding in ’n ander rigting gestoot, spesifiek rondom teken en toneelspeel.”
En so het die toneelgogga op hoërskool gebyt. “Ek was in 2017, toe ek in graad 11 was, deel van die produksie Die niks wat uiteindelik in die top-5 van die ATKV-tienertoneelkompetisie was. Ek het toe besef ek het die vermoë om toneelspel verder te vat.”
Jan het Hennie Stik in die dramareeks Juffrou X gespeel, maar sy groot deurbraak het gekom toe hy die rol van Tristan Field in die reeks Summertide losgeslaan het. Theo in Die Toring is sy eerste hoofrol in ’n Afrikaanse reeks.

“Die dag toe ek gehoor het ek het die rol gekry, het ek in ’n parkie naby my huis gaan sit en musiek geluister. Dit was ’n oomblik van trots en dankbaarheid vir ’n nuwe hoofstuk in my lewe.”
Die Toring bestaan uit 90 episodes, en Jan het net die grootste lof vir sy medespelers wat akteurs soos Franka Kirby, Nichola Viviers, Jolene Martin, Cantona James, Adrian Steyn en Deon Lotz insluit. “Ons het ongelooflik goed saamgewerk en het later soos familie geword. Net om die stel met die ander spelers te deel – dít was die hoogtepunt.”
Jan se ander passies
Jan is baie aktief, en sy groot belangstelling op die oomblik is gevegskuns. “Boks en Muay Thai is my gunstelinge. Nie dat ek binnekort in die kryt gaan klim nie, want ’n Jan met ’n blou oog gaan vreemd op kamera lyk,” sê Jan. Boonop doen hy ook modelwerk en het onlangs ook begin tokkel op die kitaar. “Ek het onlangs begin kitaar speel, wat vir my ’n nuwe stokperdjie is. Ek het nooit instrumente as kind gespeel nie, so hierdie is ’n lekker uitdaging.”
Hy het drome om saam met die regisseurs Nico Scheepers (Nêrens, Noord-Kaap, Donkerbos) en Jaco Bouwer (Niggies, Spinners) te werk. “Ek is mal oor hul style en dink hulle vat die Afrikaanse filmbedryf in ’n nuwe rigting.
“’n Droomrol is beslis ’n cowboy. Ons land het soveel opsies vir daardie tipe stories, en as ek die geleentheid kry om ’n rowwe perderuiter te speel, is ek daar!”
Die Toring word Maandae om 21:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.