Ten spyte van die kriewelrigheid by Suidhuis het hulle wel daarin geslaag om die agterstand met hul vlot-telling te laat krimp. Hulle moet nog 41 vlotte voltooi. Noordhuis moet nog 37 bou. Maar die tyd loop vinnig uit. Nietemin maak Noordhuis klaar planne oor die geld wat hulle gaan wen. Hierdie oormaat selfvertroue mag hulle dalk net in die voet skiet . . .

Die groot gewag – en dit gons
Anders as die vorige oggende, wag beide houthuise tevergeefs op die lughoring om die stilte te verbreek en hul werksdag aan te kondig. Dis asof altwee spanne iets onheilspellends in die lug aanvoel, maar presies wat dit is, weet niemand nie.
By Noordhuis word daar kettie geskiet om die tyd te verwyl en dis Tiaan wat die teiken tref. Suidhuis se spelers hoor die gejubel waar hulle in afwagting op die lughoring wag – en begin benoud wonder of hulle iewers iets gemis het.
Terwyl Johan by Noordhuis strategie praat met Lelani, vertel sy hom dat sy vas glo Wilhrisca gaan iets by Suidhuis aanvang om haar span te saboteer – ten gunste van Noordhuis.
Gryswater vertroebel sake
Wilhrisca vertel vir Jaco dat sy ’n draaitjie moet gaan loop, maar die toilette is in ’n haglike toestand. “Die ander staan net f*kken rond en hoop en bid een van ons doen dit,” kla sy by Jaco. En met reg. Sy het immers vir die res gewys wat om met die gryswater te doen. Maar dis skynbaar te ver vir hulle . . .
“Die kaptein het nog nie eers ge-kaptein nie,” kom dit vies van haar toe Jaco sê Melissa het nog nooit die gryswater-ding gedoen nie.

Toe nie die lughoring nie . . .
Terwyl daar onderling plannetjies gesmee word, is dit die fakkel wat almal laat wip van die skrik en nie die verwagte lughoring nie. Hul senuwees is duidelik aan’t flarde. “Leiers” is die titel van die briefie wat met die pos-kan geland het.
“Julle gaan nou stem vir ’n nuwe leier. Maar julle stem die keer vir ’n leier by die ander houthuis,” bars die bom. En spelers word gewaarsku dat dit nie ’n groepsbespreking is nie. Elkeen se stem is sy of haar eie stem. Geen besprekings nie.
By Suidhuis voel Elsje dat hierdie nie werklik ’n regverdige opdrag is nie, maar dan erken sy: “Die brug is nie regverdig nie.”
Terwyl sommige spelers ou bondgenote benoem, is daar ’n paar interessante name – én redes – juis hoekom sekere spelers hul keuse sou wees vir ’n nuwe leier. Die gesamentlike braai het ’n groot rol gespeel wat dit aanbetref het.
Hilana besef sy moet baie versigtig te werk gaan sodat haar keuse vir leierskap aanklank vind by haar Noordhuis-spelers. Die vrees bestaan dat hulle haar sal uitskop as sy dit nie doen nie.
By Suidhuis is Hanri oortuig dat Noordhuis se spelers vir die sterkste speler daar by hulle sal kies, en vir haar is dit Jaco.
Die stemme word getel
Dis ’n gewigtige oomblik toe Melissa by Suidhuis met die stemboksie instap. En die spanning is tasbaar, veral ook by haar. Gaan hierdie dalk beteken sy moet haar sak pak – of gaan sy oorleef?
By Noordhuis is die atmosfeer ’n bietjie ligter, maar tog is daar ook ’n ondertoon van spanning. Lelani maak van die geleentheid gebruik om almal te bedank vir hoe hulle haar as leier ondersteun het. En dat hulle almal so goed as ’n span saamgewerk het.
By Suidhuis het Hanri gebid vir nog ’n stembriefie in die boksie – want daar was net een stem vir Hirome en die res almal vir een persoon . . . Wilhrisca!
By Noordhuis is daar verskeie benoemings en dis slegs met net een stem meer as die res van die spelers dat ’n nuwe leier aangewys word – Johan.
’n Tweede briefie
“Here it comes,” is al wat Jaco kan uitkry toe Melissa die tweede briefie oorhandig om voorgelees te word.
By Noordhuis vrees die nuwe leier die inhoud van die briefie, want as daar nou iemand uitgestem moet word, gaan dit Lelani wees . . .

Iemand se tasse moet gepak word, maar dis nie die uittredende leiers nie. Inteendeel, die nuutverkose leiers moet hul tasse pak – want hulle is deur die ander houthuis gekies. Praat van drama op steroïedes! Daar is uitroepe van skok en by Suidhuis selfs trane wat loop. Wat ’n meesterlike onderduimse skuif deur die Die brug. Ja, hier word nie gespeel nie.

Nuwe uitdagings op die nuwe leiers
Een van die nuutverkose leiers sien die potensiaal om die nuwe span verder aan te help want hulle het hulp nodig. Sy afskeidswoorde aan sy ou span is: “Sien julle op die brug!”
Daai briefie het twee gevoelens in hom na vore laat kom. “Die een is . . . dis verskriklik jammer dat ek nou hierdie moet verlaat. So, onmiddellik het ek gevoel, oukei, daai’s nou bietjie gedane sake. Die ander onmiddellike gevoel in my is die gevoel dat ek gaan kyk hoe kan ek daardie huis help om voor te kom.”
Grootste riglyne in die lewe
Johan vertel tydens sy jare op die myne het hy met ’n groot verskeidenheid mense gewerk, verskillende tale, verskillende ouderdomme. Hy erken baie mense het kwaliteite waaroor hy nie beskik nie.
Maar hy put baie daaruit om die beste in ander na vore te bring. Dis volgens hom wanneer jy ander mense se sterk punte raaksien en benut, dra dit by tot goeie eindresultate.
“Psalm 37 vers 3 is nog altyd een van my groot riglyne in die lewe,” vertel Johan. “Dit is ‘vertrou liewer op die Here en woon en werk rustig voort’. So, die ‘woon-gedeelte’ sal my familie, die mense by wie jy is, jou vriende wat jy het . . . en weereens sê dit ‘werk rustig voort’. So, doen wat jy moet doen.”
Vir hom is bye die reuse-voorbeeld van hoe mense eintlik moet saamwerk. “Dis ’n swerm van 30 000 bye wat absoluut gedissiplineerd hulle ding doen. Hulle het almal verskillende take in daai korf en elkeen doen dit ábsoluut perfek.”

Hy vertel ook dat hy nie oor die verlede tob nie, maar kyk na dit wat voorlê. En dat hy vasbeslote is dat daar klaargemaak moet word met ’n ding waarmee daar begin is. Johan vertel ook meer hoekom hy juis aan Die Brug deelneem, maar wat gaan sy strategie wees om te bepaal wie oor die brug gaan stap?
Hoe gaan die ‘nuwe besems’ werk?
“Onthou julle, waar daar ’n wil is, is daar ’n weg – al is dit risky,” is Wilhrisca se afskeidswoorde aan die Suidhuis-spelers wat met gemengde gevoelens toekyk toe sy vir die derde keer die rivier oorkruis.
Met haar aankoms by Noordhuis word sy luid toegejuig en welkom geheet. Maar . . . nie almal is op dieselfde bladjie nie. Rechaux is een van die wat nie baie gelukkig is nie, en wens hulle het vir iemand anders gestem. Ook Lelani het haar bedenkinge.
By Suidhuis is daar groot vreugde dat daar nou nog ’n man bygekom het. Op sy beurt is Johan uit die veld geslaan met die daaglikse boodskappe wat op hul kennisgewingbord vasgepen is. Daar is positiewe boodskappe van aanmoediging soos “aanhouer wen” en dat opgee beslis nie vir hulle op die spyskaart is nie.
Aksie!
Die onheilspellende lughoring laat die onderskeie spanne vervaart na die vlotbouery spaander. Tiaan erken dat Johan ’n haas uit die hoed kan ruk by Suidhuis en dat Noordhuis se spelers nie nou op hul louere moet rus nie.
Hilana voel effe uitgeskakel met die viertal bestaande uit Lelani, Rechaux, Anesca en Wilhrisca. Gaan sy en Tiaan saam staande kan bly?
Intussen is Lelani nie beïndruk met Wilhrisca se leierskap nie en voel dat haar instruksies om die plastiekdromme in die middel ook aan die pale vas te maak, tyd mors wat hulle nie kan bekostig nie.“Man, vee net jou g*t aan haar af,” kom dit pront van Anesca.
By Suidhuis loop dinge skeef vir Johan toe hy sommer vroeg-vroeg die spaan breek. Genadiglik kom Jaco se praktiese plan om twee spane te kombineer, tot hul redding. Maar o wee, toe Johan weer in die kano klim – kantel hy onmiddellik en word hy druipnat deur die ander tot op die kaai gehelp.
’n Strategiese vraag laat ’n bom los
Ná vandag is daar nog net drie boudae oor. En alhoewel daar gebou moet word, is daar ’n paar vrae wat aan Johan gevra moet word. Dis Hanri wat ewe strategies wil weet of hulle koffie by Noordhuis gehad het. En Leatherman-veeldoelige gereedskap? Nee, glad nie.
Kykers sal onthou dat Wilhrisca as waarnemende speler in die derde episode by Noordhuis tussen R10 000 en koffie moes kies. Sy het nie die koffie gekies nie . . .
In die sewende episode was dit weer Tiaan van Noordhuis wat die kontant bó die Leathermans-gereedskap vir die span gekies het. Johan was die enigste Noordhuis-speler wat nie die kontant aanvaar het as waarnemende speler nie. Toe begin hy somme maak oor wie die waarnemende speler voor hom was.

“Dit het my so ’n bietjie ’n hou in die maag gegee oor vertroue,” erken hy, veral omdat hy tydens die tien vrae wat die spanne moes beantwoord, gesê het hy vertrou Tiaan die meeste.
“By Suidhuis het niemand die geld gevat nie. So, hierdie mense het vier uit vier vir integriteit en vertroue,” kom dit van ’n ontnugterde Johan.
Nou’s die vet in die vuur en hy is meer gemotiveerd as ooit vantevore om te wen. En Elsje skenk boonop haar Leathermans-gereedskap aan hom, ’n gebaar wat hom diep ontroer.
Die driekwart-baken
Ten spyte van die hernude energie by Suidhuis om Noordhuis te klop, is dit weer Noordhuis wat eerste by die volgende baken inklok. Daar’s groot uitbundigheid toe die spelers by die baken kom – en almal spring sommer net daar in die water.
Gaan hulle wel daarin slaag om die voortou te bly neem?
Lees ook
’n Wonderlike verrassing – met ’n kinkel
Toe die spelers na die onderskeie houthuise terugkeer, wag daar ’n ongelooflike verrassing op hulle – ’n tafel wat kreun onder wonderlike kos en soetgoed.
Maar . . . daar’s ’n briefie wat sê “Lees my”. En daar verander vreugde in frustrasie, want die tye wat op elkeen van die heerlike versoekinge aangebring is, is die tyd wat die spanne sal inboet in hul poging om die brug klaar te bou. Gaan die soetigheid wen? Of verstandigheid?
“Ons het nie alles op hierdie tafel nodig nie. Ons moet kyk na wat ons rêrig, rêrig gaan nodig hê,” is Jaco by Suidhuis se antwoord.
By Noordhuis is daar die besef dat hulle nie eintlik meer kos oor het nie. Hulle sal tyd moet inboet. Noordhuis se aanvanklike keuse van vleis, eiers, meel en ietsie soet gaan hulle 2 uur en 15 minute kos. Wilhrisca sê sy wil eerder hul tyd afrond en die span kan nog ’n 15-minuut item kies teen ’n totale koste van 2 ½ uur. Dis Hilana wat voorstel hulle moet die suiker neem – ten minste kan dit oor dae uitgerek word.

By Suidhuis is daar nog so bietjie van als oor en Hanri dink hulle moet liefs niks kies nie en die tyd benut om voor te kom. Maar hulle kies grondboontjiebotter (15 minute) en mieliemeel met ’n sousie (30 minute).
Vlot-telling
Die Suidhuis het goed vordering gemaak en is nou net een vlot agter Noordhuis. Daar is nog 26 vlotte wat gebou moet word.
Agter die kap van die byl
Wilhrisca het een en een bymekaar gesit en besef Tiaan het as waarnemende speler die kontant bo die span gekies. “Ek is ’n model, so ek kan nie hierdie ding gebruik nie,” verkondig sy en oorhandig daarmee haar Leathermans-gereedskap aan hom wat sy tydens haar tyd by Suidhuis ontvang het. En so maklik soos dit word daar ’n nuwe band gesmee.
Gaan hierdie nuwe vriendskap wel die strategiese oorweginge van die ander spanlede oorleef?
Anesca verklap aan Wilhrisca dat hulle van die eerste geleentheid wat opduik, vir Tiaan moet uitstem. Hulle wil immers ’n net-vroue-alleen-span oor die brug stuur . . .
Volgende week
Gaan Noordhuis se spelers dalk hul spandabelrigheid met tyd berou? Gaan die blinde sambok harder tref as wat die spelers ooit kon dink?
Die fakkel in die lug bring ’n enorme uitdaging tot binne-in die hart van die houthuise. Drama, drama, drama – en iemand gaan die prys daarvoor betaal.
- Die brug word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
- Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.