Menu terloops
In Sepies [9 Jul 2025]

As sepies dokter-dokter speel… ses ongelooflike mediese storielyne wat kykers laat kop skud of trane laat afvee het


Kyk, as daar een ding is wat ons sepies keer op keer regkry, is dit om kykers se gunsteling-karakters met ’n mediese krisis te skok – al is dit hoe belaglik…

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
As sepies dokter-dokter speel… ses ongelooflike mediese storielyne wat kykers laat kop skud of trane laat afvee het

In die wêreld van sepies gebeur die ergste dinge met die mees geliefde karakters. Van hartprobleme en messteke tot breingewasse en beroertes. Maar in ware sepie-styl is daar altyd hoop, geloof en ’n onverwagte wonderwerk om die draai – al is daai wonderwerk in die vorm van ’n swartmark-hart. 

Of jy nou jou oë rol omdat dit belaglik is, of trane afvee omdat dit aan jou hartsnare trek, hierdie karakters se gesondheidsprobleme is ’n bewys dat selfs al bring die lewe jou tot stilstand, dít nie noodwendig die einde van jou storie beteken nie. 

Ons kyk terug na van die mees dramatiese (of belaglikste) siektes en beserings wat karakters in Skemergrond, Suidooster, Binnelanders en Diepe Waters al moes trotseer.

1

Junior in Skemergrond

Nadat Junior (vertolk deur Ayden October) sy pa se voorskrifboekie gesteel en pille gedrink het om van sy familie se moeilikhede te ontsnap, het hy in ’n ernstige ongeluk beland. Ai, die goed wat tieners soms aanvang! Toe hy in die hospitaal wakker word, was hy tydelik verlam. Sy beurs en drome van ’n rugbyloopbaan was verby en hy moes sy plek by die akademie prysgee. Maar Junior het nie net gaan lê nie. Hy het vrede gemaak met sy nuwe realiteit, rolstoel-dansklasse begin neem, sy liggaam stadig herbou en uiteindelik het hy weer begin loop. Soos iets uit die Bybel of daardie beroemde toneel uit Forest Gump! Vandag veg hy saam met sy familie teen Christine om hul plaas te red… En stap rond asof niks ooit gebeur het nie.

2

Nicolette in Binnelanders

Nicolette (vertolk deur Kate Roothman) het net een droom gehad: om ’n chirurg te wees! Maar toe ’n kollega-kêrel haar per ongeluk in die hand steek, is daardie droom amper verpletter. Die senuweeskade was ernstig, en sy het amper moed opgegee en baie dom besluite geneem. Maar al het sy meer as een terugslag gehad en ’n paar dramatiese flop-operasies, het sy haar pad teruggeklou. Vandag is Nicolette deel van ’n top-program by die hospitaal. En al beland sy steeds dikwels in die moeilikheid, lyk dit asof sy beslis een van die dae ’n chirurg gaan wees. 

3

Ty in Suidooster

Toe Ty (vertolk deur Maurice Paige) se gedrag begin verander het met aggressie, verwarring en emosionele uitbarstings het almal geweet daar is groot fout. Dit was nie net stres nie, maar ’n breingewas. Die operasie was gevaarlik en sy familie moes hul grootste vrees in die oë staar. Teen alle verwagtinge het Ty heeltemal herstel, en jare lank as ’n toegewyde man en pa saam met se gesin geleef. Uiteindelik het die gewas teruggekom en sy lewe geneem, maar daardie ekstra paar jare het vir lekker drama en trane gesorg.

4

Karla in Diepe Waters

Karla (Danielle Swanepoel) het altyd haar neus in ander se sake gesteek (en doen dit steeds), maar toe sy by Zelda (Sandi Schultz) en Charity (Dane de Waal) se planne inmeng, is sy aangeval en ernstig beseer. Haar skouer het so erg seergekry dat haar swemloopbaan tot stilstand gekom het. Dit was ’n intense en spanningbelaaide tydperk op Diepe Waters. Maar Karla het nie toegelaat dat dit haar onderkry nie. Ná ’n moeilike herstelpad het sy teruggekeer as die top-swemmer by die Swartmarlyne, en nou mik sy vir haar goue medalje in Barcelona. Maar gaan haar oupa vir haar kaartjie betaal of gaan sy weer hierdie keer uitmis?

5

Naomi in Binnelanders

Toe Naomi (vertolk deur Je-ani Swiegelaar) se hart skielik ingee, het Louis (Germandt Geldenhuys) alles in sy vermoë gedoen om haar te red. Hy het ’n hart op die swartmark gekry, maar dit is deur ’n sindikaat bekom, en ’n kollega se broer het as gevolg daarvan gesterf. Toe Naomi uiteindelik wakker word en hoor wat gebeur het, wou sy die hart nie aanvaar nie. Haar huwelik het amper in duie gestort, maar liefde het geseëvier en sy het Louis vergewe. Hulle het hul huweliksbeloftes hernu tydens een van die mees roerende episodes en al kan sy nie meer verpleeg nie, het sy ’n spesiale pos by die hospitaal losgeslaan. 

6

Nazeem in Suidooster

Nazeem (vertolk deur Irvine van der Merwe) het vir ’n verandering probeer om iets goeds te doen vir sy suster Bridgette (vertolk deur Denise Newman) deur vir haar ’n stuk van sy lewer te skenk. Ongelukkig, soos dit maar in sepies gebeur, het hy tydens die operasie ’n beroerte gehad. Hy is verlam en moes teen sy sin leer om hulp te aanvaar. Dit het ’n kettingreaksie veroorsaak en Lee-Ann (Portia Joel) moes ’n manier vind om hom by Bridgette se huis in te smokkel. Bridgette het die man mos van sy JPD-aandele beroof, al het hy haar lewe gered! Maar dit lyk asof dit nou tot een van die grootste versoenings in sepiegeskiedenis gelei het. Ek sit gereed met my popcorn vir hierdie show. Almal hoop vir ’n wonderwerk… en dalk is dit nog op pad, maar kom ons kyk maar wat die toekoms vir Nazeem inhou.


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies