Vir die eerste keer in die huidige seisoen van Die brug loop Noordhuis met ’n kortkoppie voor met hul vlotbouery. Twee spelers van elke span word geruil en so kies Wilhrisca weer koers terug na Suidhuis.
“Revenge is a dish served very cold,” het Luwellen voorspel. En gaan Die brug se spelers van die Suidhuis hul houding tot nou toe jeens Wilhrisca dalk berou?
Op haar beurt is Hilana diep verpletterd oor die manier waarop Suidhuis haar uitgewerk het, maar by Noordhuis word sy hartlik verwelkom.
O f*k, dis ’n skok
Die vraag op almal by Suidhuis se lippe was: Waarom is Pietersburg terug? En Hirome is geskok oor Hilana se vertrek na Noordhuis.
“Ek weet nie of ek moet lag of huil nie,” erken Hanri aan Melissa. Een ding staan soos ’n paal bo water vir “Pietersburg”, oftewel Wilhrisca, en dis dat die Suidhuis-spelers skynheilig is en dat niemand regtig bly is om haar te sien nie.

Boonop staan hul vlotbouvaardighede haar nie aan nie.
“Wat my aandag getrek het, was die k*k wat hulle aanjaag op hulle vlot,” kom dit pront. En toe sy vir hulle vertel dat die Noordhuis gemiddeld 2 vlotte per halfuur in die water kry is daar duidelik konsternasie op die spelers se gesigte te bespeur.
Tot waar hulle begin somme maak en een plus een nie twee maak nie.
Hoe gaan dit met Hilana?
By haar nuwe Noordhuis-tuiste doen die spanlede alles moontlik om haar welkom te laat voel. En toe Durand uitvind van haar spesiale versameling wat sy by die Suidhuis begin het, is hy die eerste een om vir haar ietsie besonders te gee om by haar versameling te voeg. Hilana se emosies lê nog vlak want hierdie is nie die manier waarop sy by ’n nuwe span wou aansluit nie.

Soos wat Lelani aan haar twee bondgenote, Rechaux en Anisca verduidelik, het sy aanvanklik gedink Hilana kan ’n feeks wees. Tot waar sy met haar begin gesels het en besef dat dit allermins waar is.
Dalk is hierdie die beste bestemming vir die sagmoedige Hilana . . .
‘I’m happy with myself’
Wilhrisca sê reeds van skooltyd was daar mense wat van jou gehou het en nie gehou het nie. En dat sy dit oorleef het. Dan beland jy in die grootmenswêreld en dieselfde gebeur.
“Dis deel van die wêreld, jy weet. Aanvaar dit. I’m happy with myself,” gaan sy voort en sê dat sy in alle geval nie daarvan hou om in te pas nie.
“Ek is nie ’n puzzle piece nie. Jy gaan my nie pas in daai blokkie nie. Ek is nie eens ’n blokkie nie.”
Al wat vir haar saak maak, is dat haar kind gelukkig is. Wilhrisca self het moeilike tye as kind beleef. Haar ma het alkohol en medikasie misbruik, stringe kêrels gehad met elke aand ’n ander man in die huis. Sy vertel as kinders moes hulle maar net hul ore toedruk . . . “Ek het grootgeword in karavaanparke, somtyds op die agtersitplek van ’n kar vir die aand [geslaap].”
Dit was haar lewe van een- tot omstreeks tienjarige. Modelkompetisies het teen ’n duur prys vir haar gekom – met prysgeld wat sy gewen het, is die volgende paar biere mee gekoop. Die volgende paar jaar was dit hoofsaaklik sy en haar pa en het hy sy passie vir vinnige motors met haar gedeel. En hy het haar ook hard grootgemaak terwyl hy haar terselfdertyd oor waardering geleer het.
Wilhrisca moes baie brûe bou, veral op emosionele vlak. En dit het ’n uitwerking gehad op haar reaksie toe haar ma gesterf het. Ook hoe sy haar seuntjie grootmaak. Daar word ’n ander kant gesien van die blondekop wat gewoonlik onverstoorbaar, eintlik hardekwas, voorkom.
Boudag 6
By Noordhuis is dit Tiaan wat homself beskikbaar stel om waarnemer te wees en by Suidhuis wys Melissa vir Jaco aan as waarnemende speler.
Hilana se ywer en krag beïndruk haar nuwe spanlede, en as ’n bonus deel sy ook die tegniek wat Suidhuis inspan met die bou van hul vlotte. Op haar beurt doen Wilhrisca dieselfde met haar spanlede en haar vaardigheid met die handboor is indrukwekkend.
Maar sy maak ook die beste van die tyd om ou koeie uit die sloot te grawe, veral dié tussen Luwellen en Melissa.
Die toevallige boer op ‘Die brug’
Hy erken dat kosmaak en brood bak nie heeltemal sy forté is nie, al is dit sy beurt om vandag die honger mae te voed. Maar omdat hy ’n boer is, voel hy hierdie kom van nature na vore. Hy bring sy kant op die plaas en op Die Brug.

In 2020 is sy ma oorlede en drie maande later ook sy pa. Sy pas was juis die een wat altyd wou boer. En dis waar Tiaan, sonder enige boer-agtergrond, gekies het om ’n boer te word – om sy pa se droom te bewaarheid.
Maar 2020 was nog lank nie klaar met Tiaan nie. Hy is ook in dieselfde jaar geskei en hy het sy werk verloor. Tot waar hy ’n plaas raakgeloop het. Van ’n klein begin het hy jaar op jaar groter gegaan en vandag boer hy met soja en mielies.
Koffie en kontant
Teen dié tyd kan Durand nie meer sy lus vir koffie beteuel nie. Hy wil by Hilana weet of hulle nie dalk iewers ’n versteekte skat van koffie raakgeloop het nie.
Op haar beurt besef Hilana dat, anders as by Suidhuis, daar geen koffie (wat Hannes in die derde episode bo die R10 000-kontant gekies het) of ontbyt (wat sy in die vyfde episode bo die R20 000-aanbod gekies het) by Noordhuis is nie. Iemand het iewers geld gevat, maar wie?
Versoeking klop aan die deur
By Noordhuis is dit Tiaan wat die skatkis ontdek terwyl hy met twee emmers veld se kant toe koers. Die keuse wat hy moet maak is óf R10 000 in sy sak óf ’n veeldoelige stuk gereedskap uit Leatherman se stal vir die hele span wat die vlotbouery vir almal makliker gaan maak.
By Suidhuis is dit Jaco wat daardie “Lees my”-nota ontvang. En omdat Hannes en Hilana elke keer ten gunste van die span gekies het, en nie die kontant gevat het nie, staan dié spaarvarkie nou op R30 000. Wat gaan hy kies?

Die begin van ’n nuwe vriendskap?
Toe Wilhrisca by die Suidhuis die ou koeie begin uitgrawe het, het sy aan Melissa en die res van die spelers verduidelik dat hulle vir Luwellen beter moet verstaan. Hy is ouer as hulle en hy’s gevestig in wat hy doen. Hy gaan nie maklik buig nie. Maar, het sy belowe, sy gaan ook met hom gesels om sy kant van die storie te hoor.
Terwyl dit vir die spelers van die Suidhuis voorkom asof Wilhrisca en Luwellen inderdaad mekaar begin verstaan, verloor hulle effe fokus op die vlotte en besluit om eerste met Luwellen te gesels – voordat Wilhrisca dit kan doen.
Maar Luwellen is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie…

Die fakkel in die lug
“Bou of brand” is die boodskap wat met die pos-kan by die twee houthuise aankom. “In die speletjie kan brûe gebou of gebrand word. Wees opreg en beantwoord die volgende vrae eerlik. Onthou, Die Brug weet alles,” lees Hirome by Suidhuis die boodskap voor aan die spelers.
Tiaan voel onmiddellik asof hy in die spervuur gaan wees by Noordhuis. Wat as daar gevra gaan word of iemand die geld gevat het? “Ek weet nie of ek my span in die oë kan kyk vir R10 000 nie.”
Die vrae skop op ’n ligte noot af. Maar stadig maar seker raak dit al hoe moeiliker en Hilana beland weer in die spervuur. By Suidhuis gebeur dieselfde met Wilhrisca. Maar toe die vrae draai by watter speler die minste vertrou word, is daar oopmond-verrassings by beide huise.
En wat gaan die antwoord wees op dié vraag: Wie dink die spelers gaan nie die geld deel nie? Gaan die antwoorde dalk van die fragiele vriendskappe sink?
Maar niks het die twee spanne voorberei op die laaste vraag nie. Wie se naam gaan die meeste opduik?
Vlot-telling
Danksy Wilhrisca se raad kon Suidhuis dit regkry om die gaping tussen die twee houthuise te verminder. Hulle is nou, met 61 vlotte oor, een vlot voor Noordhuis waar daar nog 62 vlotte te water gelaat moet word.

Volgende week
Elke spanlid moet die 10de vraag beantwoord. Is dit hier waar brûe onherstelbaar verbrand gaan word of gaan daar nuwe alliansies gevorm word? Uit wie se mond kom die woorde dat Suidhuis nie ’n eerlike huis is nie?
En gaan Wilhrisca dalk haarself onder die bus gooi met haar reguit manier van praat?
- Die brug word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
- Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.