Daniel Coetzee se Suidooster-karakter, Riaan, is iemand met beginsels, wat glo in reg en geregtigheid. Sedert dié talentvolle akteur in April by Suidooster aangesluit het, blyk dit dat kykers kan nie genoeg van hierdie “hunky” akteur kan kry nie.
terloops het met hom gesels.
Vertel vir ons meer van jou ervaring by Suidooster sedert jy vroeër vanjaar deel van die permanente rolverdeling geword het.
“Vir my voel dit asof ek huis toe gekom het. Die ander akteurs en die hele produksiespan het my met ope arms verwelkom en ek is opgewonde oor wat hierdie reis vir my inhou.
“Dit is nie net ’n nuwe hoofstuk vir my wat Suidooster betref nie, maar ook een in Kaapstad. Dit voel onwerklik. Dit is inspirerend om te sien hoe die akteurs en produksiespan moeite doen om beide op en weg van die stel, kontak met mekaar te hou.
“Ek kan soms as gereserveerd en stillerig gesien word, maar dit het hulle nie gekeer om my beter te leer ken nie. Die hele Suidooster-span word gerugsteun deur liefde. Dis fassinerend om dít te sien en deel van hierdie familie te wees.”
Wat is jou opinie oor jou karakter, Riaan? Is daar enige ooreenkomste tussen julle twee?
“Ek en Riaan is baie dieselfde en terselfdertyd ook teenoorgesteldes. Ek kan myself met hom vereenselwig omdat ons altwee baie hardkoppig is, en lief vir ons werk is – dalk ’n bietjie té veel. Ons is ongemaklike skepsels en bleeksiele, en ons wil net die allerbeste vir die mense vir wie ons omgee hê.
“Riaan is eintlik ’n baie interessante karakter om te vertolk omdat hy, anders as die geval met myself, sy mening duidelik lug. En hy is gewoonlik onbewus van die gevolge wat dit vir ander kan inhou.
“Ek bewonder sy dapperheid en die feit dat hy volgens sy waardes en oortuiging leef. Hy’s ridderlik en eerbaar, en ek hoop om soveel as wat ek kan van hom in hierdie opsig te leer.”

Wat was vir jou die uitdagendste toneel wat jy tot nou toe in Suidooster moes speel?
“Beslis Riaan se aanvanklike interaksie met Bridgette en Lee-Anne. Hy het sy eise aan hulle bekend gemaak voordat hy hul projekbestuurder by JPD geword het.
“Dit was uitdagend omdat beide Denise Newman (Bridgette) en Portia Joel (Lee-Anne) kragtoer-akteurs is en hul teenwoordigheid op die stel was oorweldigend. Ek onthou ek het oor my woorde gestruikel en het so verward geraak dat ek dink my toneelspel by die venster uitgevlieg het.
“Na wat soos die 50ste keer se skiet van die toneel gevoel het, kon ek danksy die hulp van Ingrid Paulus daarin slaag om Riaan se karakter ten volle te omhels.
“Ek weet hierdie is nie die moeilikste uitdaging wat ek nog vorentoe in Suidooster gaan ervaar nie, maar wanneer dit aanbreek, sal ek myself daarin herinner dat ek soveel kere staande gebly het voor vrees.”
Kan jy ’n snaakse oomblik op stel deel?
“Een van die snaaksste oomblikke vir my was toe ek ’n toneel met Stella (Tova Julius) moes skiet. Ek moes op ’n baie teatrale manier telkemale op ’n rubber-hoender gly, en ek het dit gedoen.
“Dit was die eerste keer wat Riaan sy tawwe uiterlike laat kraak het. Ek het gegil en deur die lug getrek in slapstick-komediestyl . . . Een glo my, dis nie maklik om sowel realisties as teatraal in die stof te byt nie.
“Ek het wel sleg gevoel vir die kunsdepartement in ag genome al die harde werk wat hulle ingesit om die stel te bou waar ek so rondgeval het.
“Tog was daar ’n deel hiervan wat nie snaaks was nie, wel, ten minste nie vir my nie. Dit was toe die boks wat Riaan gedra het, teruggevlieg en my getref het. Om voor te gee dat dit nie seergemaak het nie, was ware toneelspel!”
As dit vir jou bedoel is, sal dit kom. Vertrou op jou instink en vaardighede om jou daar te kry. Ek het soveel keer in my lewe gefaal en dit het lank geneem voordat ek besef het dis nie iets om oor skaam te voel nie.
Daniel Coetzee
Wat geniet jy om te doen as jy vrye tyd het?
“Ek het nie juis baie stokperdjies nie, maar ek geniet dit om op verskeie maniere kreatief te wees: skilder, teken, die uitvoer van monoloë en om impressions te doen.
“Ek geniet dit om die natuur te verken, daarom is Kaapstad soos ’n speelgrond vir my, met eerstes soos om Leeukop uit te klim, om in Clifton te gaan kajak en om robbe te sien.
“Noudat ek hier in Kaapstad is, is daar ’n hele paar stokperdjies wat ek op die proef wil stel, soos branderplankry, snorkel en valskermsweef. Ons sal moet sien of my hoogtevrees my gaan toelaat om valskermsweef te doen, maar ek is vasberade om te probeer!”
Wat is die een ding wat mense nie van jou weet nie, en wat hulle dalk mag verbaas?
“Mense mag dalk verbaas wees as hulle uitvind dat Engels my eerste taal is en wanneer ek praat, sal jy nie dink ek speel in ’n Afrikaanse sepie nie.
“Ek is ook gek daaror om impressions te doen, aksente na te boots en klankontwerp vir animasie te skep. Om die waarheid te sê, ek wou aanvanklik ’n stem-akteur geword het toe ek by AFDA Johannesburg studeer het.
“My lewe lank het ek enige vorm van mondelikse aanbieding gehaat – toesprake, heildronke, enigiets wat beteken het ek moet voor ’n groep mense praat. Maar helaas, tydens my studies is ek gedwing om dit te doen. Die ervaring was so bevrydend dat ek ’n liefde vir optredes op die verhoog en voor die skerm ontwikkel het.
Wat is die belangrikste les wat jy geleer het rondom self-sorg en geestesgesondheid?
“Die belangrikste les wat ek rondom geestesgesondheid geleer het, is dat dit ’n persoonlike reis is. Daar behoort geen skaamte of skuldgevoelens te wees wanneer jy jouself eerste stel nie, want dis juis dan wanneer jy die mees outentieke jy is. En jy sal mense aantrek wat op dieselfde golflengte as jy is. Soos Dr. Seuss dit perfek opgesom het: “Those who mind don’t matter, and those who matter don’t mind.”
Het jy enige raad vir hoopvolle akteurs wat in die televisiebedryf wil werk?
“As dit vir jou bedoel is, sal dit kom. Vertrou op jou instink en vaardighede om jou daar te kry. Ek het soveel keer in my lewe gefaal en dit het lank geneem voordat ek besef het dis nie iets om oor skaam te voel nie.
“Om te faal is die eerlikste refleksie van jou karakter en hoe jy dit hanteer. Dit is belangrik om uit daardie oomblikke te leer want om groei is deel van faal. En eendag, wanneer daar ’n onderhoud met jou gevoer word, het jy ’n storie om te vertel – een van uithouvermoë wat die stryd die moeite werd gemaak het.”

Wat is op jou emmerskoplysie?
“My emmerskoplysie is nimmereindigend, maar daar is wel ’n paar. Ek wil my vrees vir hoogtes oorbrug, hetsy deur valskermsweef of rekspronge. Ek wil baie graag gaan duik in ’n haai-hok en diepsee-snorkel doen. Ek wil pen op papier sit en daarmee saam as ’n vervaardiger ’n verhoogproduksie die lig laat sien.
“Dan wil ek ook teruggee aan ’n saak waaraan ek glo, soos geestesgesondheid of omgewingvolhoubaarheid.
“Een van my grootste drome is om ’n stem-akteur vir ’n animasie te wees en ook tot die klankontwerp daarvan by te dra.
“Aan die einde van die dag is my hoofdoelwit selfontwikkeling en ek is gretig om enigiets na te volg wat my gaan help om dit te bereik.”
Wat is jou leuse in die lewe, en hoekom?
“Ek het vandat ek 16 was, dieselfde leuse. Tydens ons gr.10-kamp moes ons ’n boodskap aan ons toekomstige self skryf. Die een wat ek nodig gehad het, was: Ek het geleer dat dapperheid nie die afwesigheid van vrees behels het nie, maar dat dit oor vrees getriomfeer het.
Nelson Mandela se boodskap, “The brave man is not he who does not feel afraid, but he who conquers that fear,” het tydens die moeilikste tye my bygebly. Dit het gehelp om my selfvertroue te versterk. Dit herinner my dat, ongeag hoe uitdagend iets is of hoe bang ek voel, ek het die krag om dit te oorkom.
Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.