Menu terloops
In Gons [4 Okt 2024]

‘Klein paradys’: Ontmoet die deelnemers


In kykNET se nuwe leefstyl-realiteitsreeks, ‘Klein paradys’, is daar vir ses spanne ’n koel R1 miljoen op die spel. Ons vertel jou meer oor die eerste seisoen se deelnemers.

‘Klein paradys’: Ontmoet die deelnemers

Soos die gesegde lui: klein, maar getryn. In kykNET se nuwe leefstyl-realiteitsreeks, Klein paradys, is daar vir ses spanne ’n koel R1 miljoen op die spel, maar om dit wen moet hulle wys dat hulle ’n leë mikro-eenheid binne net vier weke in spoggerige vyfsterverblyf kan omtower. Die reeks begin op 24 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Die spanne wat aan Klein paradys deelneem is: 

Mika en Jannie: Die jong verliefdes

Klein paradys

Sy is ’n 23-jarige argitektoniese ontwerper van Durbanville wat al ’n nasionale ontwerpprys ontvang het, en hy is ’n 36-jarige entrepreneur en mededirekteur van ’n nasionale infrastruktuur-konsultasiemaatskappy en woon in die Paarl. Hulle sê hulle werk albei goed onder druk en wanneer dit by gereedskap kom, stem hulle saam dat ’n versteksaag (mitre saw) hul gunsteling is, maar Jannie sal ook ’n koordlose boor byderhand wil hê. Mika se lewensleuse is om teen die stroom te swem – iets wat haar dalk net in Klein paradys handig te pas gaan kom.

Alicia en Claudia: Die sussies van Bloemfontein

Klein paradys

Alicia (31) is ’n binnehuisversierder, en Claudia (29) is ’n tatoeëerkunstenaar. Hulle woon in Bloemfontein en is nie bang vir hard werk nie. Hulle weet egter dat susters nie altyd om dieselfde vuur sit nie en dat dit ’n speek in die wiel kan wees wanneer hulle op Klein paradys besluite moet neem. Alicia se gunstelinggereedskap is ’n koordlose 18 V-boor, maar ’n verfkwas is vir Claudia genoeg. Albei se motto in die lewe is: Dis leeuwêreld!

Juan-Louis en Elri: Die pelle van Potch

Klein paradys

Juan-Louis (28) is ’n kinematograaf, en Elri (29) is ’n argitek. Hulle woon in Potchefstroom en is al ses jaar lank huisvriende. Beide mans het al regrukprojekte saam met hulle vroue aangepak, maar hierdie is die eerste keer wat hulle saam werk. ’n Versteksaag is Elri se gunsteling, en Juan-Louis gaan nêrens sonder sy “mesmoertang”, óftewel Leatherman, nie.

Klaas en Yvett: Die deftige duo

Klein paradys

Klaas is ’n 50-jarige sakekonsultant, en Yvett (40) is die eienaar van ’n skoonheidsalon. Hulle woon in Pretoria-Oos in Gauteng en glo hulle sterk punte – Klaas se praktiese vaardigheid en Yvett se styl en haar vermoë om probleme op te los – gaan hulle gedugte teenstaanders maak. Hy het altyd ’n boor byderhand, en Yvett sê sy hang eerder in hardewarewinkels rond as in winkelsenstrums. Haar gunstelinggereedskap is ’n kwas, met ’n maatband net ’n kortkop agter, en haar lewensleuse is om alles tot die beste van haar vermoë te doen.

Maggie en Gerrie: Die eklektiese egpaar

Klein paradys

Die 36-jarige Maggie is ’n navorsingskommunikasiespesialis en haar man, Gerrie (40), is ’n finansiële adviseur en oudjoernalis. Hulle woon saam met hulle kinders in Durbanville buite Kaapstad. As hulle hul styl moet beskryf, sal dit kleurvol eklekties wees. Sy gunstelinggereedskap is ’n bandsaag en hare is ’n naaldwerkmasjien of verkwas waarmee jy alles kan verbloem, reken sy. Albei se lewensleuse is “gaaf en braaf”. 

Johann en Lee-Ann: Die skoonfamilie

Klein paradys

Toe Lee-Ann, ’n 38-jarige binnenshuisontwerp-student van Pretoria, van die kompetisie gehoor het, het sy haar swaer Johann, ’n 34-jarige struktuuringenieur van Durbanville, gevra of hy haar spanmaat sal wees. Hulle glo sy passie vir doen-dit-self-projekte en praktiese benadering saam met haar liefde vir klein spasies ontwerp en probleme buite die boks oplos, maak hulle ’n wenspan. Johann se “multitool” is sy gunsteling wanneer dit by gereedskap kom, en Lee-Ann is weer gaande oor “dans” met ’n bandskuurmasjien.

Wie nog?

Die aanbieder van Klein paradys is Robbie Kruse. Robbie het sy loopbaan by Tuks FM by die Universiteit van Pretoria begin en was daarna ’n omroeper by verskeie groot radiostasies. Hy was ook lank een van Bravo! se aanbieders. Robbie is ’n restaurant-eienaar, is betrokke in eiendomsontwikkeling en tree gereeld as seremoniemeester op.

Brandt Bester, ’n sakeman en skrynwerker, is die projekbestuurder van Klein paradys. Sedert 2013 spesialiseer hy in die vervaardiging van meubels en installering van houtwerkprojekte. In Januarie 2022 het hy BB Craft School gestig, en sy fokus is nou uitsluitlik daarop om houtwerkopleiding aan te bied. Sy doel is om meer mense die geleentheid te gee om die vreugde van houtwerk te ontdek en te ervaar en iets met hulle eie hande te skep. Brandt streef daarna om mense te help om daardie eerste stap te neem en selfvertroue op te bou deur te wys dat hulle self dinge kan doen.Hy is ook ‘n direkteur van die Living To Live NPO, wat daarop fokus om behoeftige individue met opleiding en vaardigheidsontwikkeling te ondersteun sodat hulle selfvertroue kan opbou, ’n werk kan kry of hul eie dienste kan aanbied om ’n volhoubare inkomste te genereer.

Die beoordeelars

Tuis se redakteur, Wicus Pretorius, is ’n kenner van nuwe tendense en het ’n goeie oog vir ontwerp. Sy medebeoordelaars is Magdalena Bobotoni, uitvoerende hoof van huishouding by die deftige Saxon Hotel in Johannesburg en met 20 jaar ondervinding in die gasvryheidsbedryf, en Jessica Pieters, die kreatiewe gees agter The DIY Studio op TikTok en wenner van Netwerk24 se Smaakmaker van die Jaar-toekenning in die doen-dit-self-kategorie. Met haar kreatiewe en sjarmante projekte het sy ’n groot aanhang op sosiale media opgebou en inspireer sy daagliks duisende mense om selfdoenprojekte aan te pak.


Klein paradys begin op 24 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies