Menu terloops
In Gons [29 Apr 2025]

Chumani Pan oor ‘Diepe Waters’-rol: ‘Eer om in sy skoene te stap’


Met sy rol op ‘Diepe Waters’ keer die akteur Chumani Pan terug na die skerm as ’n Xhosa-prins wat worstel met sy koninklike lot. Hy vertel meer.

Chumani Pan oor ‘Diepe Waters’-rol: ‘Eer om in sy skoene te stap’

Kykers ontmoet vandeesweek nog ’n nuwe karakter in sepieland – dié keer is dit die akteur Chumani Pan as die Xhosa-prins Siseko Bhonga op Diepe Waters. Kykers sal Chumani onthou vir sy vertolking van Lux in Projek Dina.

Hoe pas die prins in die storie in?

Siseko Bhonga is die seun van Koning Mzukisi Bhonga en ’n Xhosa-prins wat in tradisie grootgemaak is, maar ook deur die moderne wêreld beïnvloed is. Al is hy selfversekerd, intelligent en empaties, is Siseko huiwerig om die lot wat sy koninklike bloed van hom vereis, ten volle te aanvaar. Hy worstel dus met die verwagtinge van hom as erfgenaam en die lewe wat hy werklik begeer.

Diepe Waters Chumani Pan
Chumani vertel hy was uit sy nate om deel van die Diepe Waters-rolverdeling – en terug op kykNET – te wees. Foto: Skermgreep

As hy sy karakter in drie woorde moet beskryf, sê Chumani: “omgee, liefdevol en saggeaard.” Hy vertel ook dat sy voorbereiding vir die rol navorsing oor koninklike pligte en protokol ingesluit het — veral binne die Xhosa-monargie — ’n wêreld waarmee hy reeds ietwat vertroud is.

Chumani vertel hy was uit sy nate om deel van die Diepe Waters-rolverdeling te wees. “Ek was baie opgewonde toe ek die rol gekry het. Ek was lanklaas in ’n kykNET-reeks, en ek het die kanaal en sy kykers baie gemis. Ek het nog nooit die rol van ’n prins vertolk nie, so hierdie rol voel vars en spesiaal vir my. Siseko is ’n respekvolle en nederige man — iemand met sterk waardes en ’n diep hart. Dis ’n eer om in sy skoene te stap.”

Diepe Waters Chumani Pan
Chumani Pan is vol lof vir sy mede-akteur Tracey-Lee Olivier, wat die rol van Pam vertolk. Foto: Skermgreep

Maar bo en behalwe tradisie en plig, bring Siseko ook ’n ligte, speelse sjarme na die skerm, meen Chumani. “Hy het ook ’n komiese kant,” sê hy. “Dit was lekker om dit te verken, veral omdat ek nie gereeld rolle kry waar ek snaaks kan wees nie.”

Chumani beskryf die Diepe Waters-rolverdeling en -span as “ ’n werklik talentvolle en vriendelike groep,” met spesiale lof vir aktrise Tracey-Lee Oliver (Pam), met wie hy dadelik gekliek het sedert hul eerste oudisie saam.

Uiteindelik hoop hy dat kykers iets van liefde en bestemming uit Siseko se storie sal neem. “Siseko se storie herinner ons daaraan dat liefde jou kan vind wanneer jy dit die minste verwag. En op die mees onverwagte plekke en tye.”


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies