“Wanneer daar liefde is op ’n plaas, kan enige uitdaging oorkom word,” belowe Marciel Hopkins, programaanbieder van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou.
Maar hoe gaan dit werk met drie dames wat om een man se hart meeding? Die poppe mag dalk net vroeg-vroeg reeds begin dans . . .
Hier is meer oor die gekose dames wat op die onderskeie plase kom kuier het en hoe Dag Een afgeloop het.
Boer Quintus (39) van Winburg, Vrystaat
Emsoné, ’n oorspronklike Vrystater van Petrus Steyn se wêreld, maar nou ’n onderwyseres in KwaZulu-Natal, is een van die drie dames wat boer Quintus vir die kuier op die plaas gekies het.Saam met haar op pad na boer Quintus se plaas, is Veronica en Ria. En hulle swoeg om hul tasse teen die trappe uit te sleep.
Ria, wat na haar ouma vernoem is, sê sy is gek oor haar werk by die kleuterskool, veral omdat die kinders meer energie gee as wat hulle vat in teenstelling met grootmense waar dit andersom kan werk.
Veronica, al die pad van Pretoria, is ’n video-redigeerder wie se werk troues, besigheidsgeleenthede en landbou-aktiwiteite insluit.
Op die plaas
Boer Quintus wil hê die meisies moet dit geniet, maar hulle moet besef hy kan niks aan die weer doen nie. Hy sien die hitte en droogtetyd ook as ’n goeie teken sou hulle van die plaaslewe hou onder hierdie moeilike omstandighede.
Die kamers vir sy drie gaste het temas: ’n beertjie-kamer, ’n bokkie-kamer en ’n jakkals-kamer. Hy laat hulle hul kamers kies deur op die verskillende metaaldiertjies teiken te skiet. Dit faal egter toe die verfbal-geweer weier, en weer weier.
Maar Emsoné sê hy’s iemand wat op sy voete kan dink – want nadat verskeie pogings om die geweer te laat werk, misluk het, kom hy met ’n kettie na vore. Sy Plan C. Ria is die eerste een wat ’n kolskoot met die kettie tref. Sy gaan beertjie-kamer toe. Veronica tref die jakkals-kamer en Emsoné se tasse word in die bokkie-kamer neergesit.
Maar dinge roer op boer Quintus se plaas. Gou-gou is hulle op pad na waar daar ’n trekker op hulle wag.
Die plaaslewe is vir Veronica iets wat sy as ’n reality shock beskryf omdat dit so verskil van haar lewe in Pretoria. Maar sy dink daar’s hoop vir haar en boer Quintus. Terselfdertyd voel Ria veilig by hom en glo dat dit in orde sal wees as sy dalk iewers iets dom aanvang of ’n fout maak.
“Ek is vrek-gelukkig. Ek het ’n oes wat misluk . . . verdroog, maar as jy verby dit als kyk en jy kyk om jou, die lewe wat jy het, die moontlikhede, die opsies is hiersô. Ek kan nie help om opgewonde te bly nie,” kom dit van boer Quintus.
Later die dag noem hy dat daar nou legkaart gebou kan word. Dis eers toe hulle die volledige prentjie sien, dat hulle besef die legkaart is ’n foto van hulle al vier saam nadat boer Quintus hulle gekies het.
So tussen die bouery deur word daar tog wel ’n paar ernstige gesprekke gevoer. En dat gevoelens besig is om te ontwaak, is nie te betwyfel nie.
Boer JW (24) van Villiersdorp, Wes-Kaap
Nevé is afkomstig van Caledon in die Overberg. Sy het ervaring op seiljagte opgedoen maar mik nou om eiendomsagent te wees.
Mieke, ’n Kaapse nooi van Durbanville, is ’n Matie-student wat besig is om haar graad daar klaar te maak. Die een ding wat sy met haar plaas toe bring, is haar kitaar.
Die Vrystaat word ook op die plaas verteenwoordig in die vorm van Danelle. Sy is oorspronklik van Kroonstad en gee nou skool in Heilbron. Maar Danelle se storie het ’n kinkel by! Haar pa, boer Hannes, was deel van die 13de seisoen van Boer soek ’n vrou en vir haar voel dit baie spesiaal om ’n soortgelyke reis as wat hy gehad het, te ervaar.
Op die plaas
Boer JW dink as iemand duidelik belangstelling toon in die plaas en wat hy daar doen, sal dit vir hom sterk uitstaan. Maar natuurlik moet sy meer in hóm belangstel . . . Verder dink hy die drietal lyk nou selfs mooier as toe hy hulle ontmoet het. Hy is ook dankbaar vir die somer want nou kan hy ook kyk hoe mooi hulle bene is. Die dames is op hulle beurt baie beïndruk met die moeite wat boer JW gedoen het om hulle welkom te laat voel.
Kort voor lank is hulle in sy appelboord waar daar geleer word hoe om appels reg te pluk. Boer JW vergelyk die pluk van vrugte met hoe ’n vrou behandel moet word.
“Hoe saggies jy haar hanteer, dan bly die appel mooi in die krat. As jy ’n vrou mooi saggies hanteer, dan bly haar glimlag op haar gesig, so dan mag sy ook bloos soos die appel,” is sy wyse woorde.
Ná die appelboord-toer, is dit speeltyd. Die glip-en-gly-waterbaan sorg vir hope pret. Iets wat al drie van hulle baie geniet het, was om boer JW se boere-tan te sien!
Boer Niel (30) van Dannhauser, KwaZulu-Natal
Hestia is ’n onderwys-assistent in Stilbaai, maar sy vat iets ekstra saam plaas toe: krukke! Sy’t skeefgetrap op die skoolterrein en hinkepink nou, maar sy is vasberade om nie ’n enkele oomblik op die plaas mis te loop (of te val) nie.
Oud-Pretorianer Aniska het ’n opwipwinkel in Stilbaai met haar eie klerebesigheid en sy studeer ook deeltyds. Maar haar kop woel reeds met die gedagte dat daar twee ander dames in die motor saam met haar op pad na boer Niel is.
Mikal is oorspronklik van De Doorns, maar bly die afgelope paar jaar in Stellenbosch waar sy as ’n logistieke en administratiewe koördineerder werk.
Op die plaas
Boer Niel erken dit was ’n uitdaging om die huis reg te ruk vir sy drie gaste. Sy familie het ingespring en gehelp, die geskenkies wag en natuurlik is die vrieskaste vol vleis, reg vir braai.
Aniska het nie gesukkel om vleiende woorde te vind oor die herontmoeting met boer Niel nie. Behalwe dat sy dink hy is uitsonderlik sexy, is sy gek daaroor dat hy lekker ruik en dat dit bly talm.
Dit neem nie lank voordat die dames en boer Niel koers kies na die beeste op die plaas nie. Die diere is in pragtige kondisie en hy skryf dit toe aan sy broer, Gulus, se liefde en toewyding aan die diere. Hy erken sy ouers sal lag as hulle sien hy spring sélf ook in om hier uit te help om die beeste te spuit. Hy leer dit doen saam met die meisies en sê van hulle doen dit selfs beter as hy.
Hestia is in vervoering oor die omgewing, wat natuurlik boer Niel tussen die beeste en die lande insluit…
Mikal kan haarself beslis al sien bly op ’n plaas, meer spesifiek hierdie plaas. En op haar beurt noem Aniska dat dit vir haar belangrik is om fisiek aangetrokke te voel tot iemand, ten spyte daarvan dat die uiterlike soms met tyd taan. Maar boer Niel is vir haar ’n ander saak want hy is vir haar ook mooi van binne.
Terwyl die groep laatmiddag met ’n koue enetjie in die hand in die landery kuier, vertel boer Niel vir hulle dat hy na iemand soek met ’n sagte hart, maar ook iemand wat ’n “go-getter” kan wees.
Boer Jacques (27) van Venterstad, Oos-Kaap
Dánika het op ’n vrugteplaas naby Uniondale grootgeword, maar woon nou in die Kaap waar sy vrugte uitvoer vir ’n lewe. Sy erken sy het sterk opinies en ’n persoonlikheid wat daarby pas, maar sy soek iemand wat sterker is as dit. Maar sy het nog nie “daai een gekry nie”.
Sharezaan, ’n tandarts, kom oorspronklik van Uitenhage in die Oos-Kaap, maar sy bevind haarself deesdae in Graaff-Reinet.
En daar is nog ’n tandarts onder die drie: Nicole, afkomstig van Pretoria! Vir haar is een van die pluspunte van boer Jacques dat hy nie van sy vrou verwag om haar eie loopbaan prys te gee nie.
Op die plaas
Boer Jacques is opgewonde oor die koms van sy drie gaste. Hy sê hy wil nou uitvind wie’s oulik en wie’s nie oulik nie. En hy sal ook mooi moet luister gedurende die week.
Sharezaan weet net een ding: haar hart het bollemakiesies gemaak toe sy weer vir boer Jacques sien. Maar dis Dánika wat nie op haar laat wag nie. Terwyl die tasse nog op die grasperk staan, vra sy vir boer Jacques of sy ’n oomblik met hom kan kry. Alleen, natuurlik.
Sy sê sy moet hom iets vertel wat baie swaar op haar hart lê en dis iets waarna sy glad nie uitsien nie.
“So, Jacques, ek het nou al die pad gekom om eintlik vir jou slegte nuus te gee,” skop sy af. “Ek kan nie aangaan met die plaas-week nie, al wil ek baie graag.”
Boer Jacques is nie baie gelukkig om dit te hoor nie. Sy verduidelik dat daar twee familie-krisisse was en haar betreklik-nuwe werkgewer het haar verlof gegun, maar dis nou hul besige seisoen en sy kan nie langer van die werk wegbly nie.
Boer Jacques sê dis maar sleg vir almal, maar dat dit is hoe die lewe werk. Nicole erken hulle is ook onkant betrap met Dánika se nuus en sy begin wonder of sy en Sharezaan nie nou as back-up-planne gesien gaan word nie.
Daar heers ’n tweestryd in Dánika se gemoed – moet sy liefde of ’n loopbaan kies waaraan sy so hard gewerk het? Die trane vloei vryelik toe sy die pad terug saam met Marciel aanpak. Sy troos haarself daarmee dat boer Jacques dalk nie haar deksel is nie.
Intussen kuier boer Jacques heerlik met Nicole en Sharezaan. Sharezaan voel dat die kuier voor die vuur heelwat beter is as wat sy verwag het, omdat sy voel Dánika was die een wat beter daarin geslaag het om dinge meer lewendig te hou.
Nicole is die een wat dit waag om vir boer Jacques te vra hoe hy oor Dánika se vertrek voel. Hy sê hy het vrede in sy hart want hy kan haar nie vir haar omstandighede blameer nie.
Hy erken dat dit sleg is omdat Dánika nie daar is nie. Hy stel egter vir Nicole en Sharezaan gerus dat nie een van hulle moet voel hulle is tweede beste nie.
Boer Daandré (26) van Brits, Noordwes
Ter voorbereiding van die plaaskuier, het boer Daandré seker gemaak hy is uitgerus vir wat voorlê en het ook die vorige aand kerk toe gegaan. Hy het ’n rustigheid in hom, en hoop.
Marisca is van Centurion en sy is ’n graad 3-onderwyseres. Haar idee van liefde is mense wat ’n pad saam kan stap en mekaar ondersteun.
Lize-Mari is ’n oogkunde-assistent en sy bly nou in Hartswater in die Noord-Kaap. Sy dink tussen haar en boer Daandré is daar sterk ooreenstemmings rondom waardes.
Elizette is ’n fisioterapeut wat op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword het. Boer Daandré het haar beïndruk van die eerste oomblik wat sy hom gesien het en sy plat-op-die-aarde-ingesteldheid het beslis die belangstelling nog verder aangewakker.
Op die plaas
Dis tyd om soetrissies te gaan oes en almal moet inspring en help. Boer Daandré verduidelik hoe die proses werk om soet-, rooipeper- en geelrissies te oes.
Marisca wil graag boer Daandré se aandag trek en vir hom wys sy is wel daar. Sy wil nie meer terugstaan en stil wees nie.
Elzette is nie baie gelukkig dat sy haarself in ’n ander ry soetrissies bevind nie en dit nie so maklik was om aan die gesprekke deel te neem nie.
Nadat die moeë soetrissieplukkers ’n koue lafenis onder ’n koelteboom geniet, draai die gesprek gou in ’n ernstige rigting. Boer Daandré wil weet of enige van die drie al gevas het. Vir hom is dit gerusstellend dat dit wel die geval is.
Vir hom was dit ’n heerlike geselstyd omdat daar geen ongemak in die groep opgeduik het nie.
Op die rivieroewer laat die middag word daar ’n heildronk ingestel op Dag Een. Maar Elizette voer ’n innerlike stryd met haarself. Sy besef sy is geneig om goed te veel te oordink om haar hart te beskerm. Aan die ander kant is hierdie ’n geleentheid om haarself meer na vore te dryf.
Marisca vat dit rustig en wil nog nie haar hart oopmaak vir die liefde nie. Maar tog voel sy dat daar ’n vonkie is wat besig om te ontwikkel.
Lize-Mari is egter bekommerd want sy voel haar hart is haar ver voor. Sy besef haar hart kan dalk gebreek word. Aan die ander kant is daar die moontlikheid dat dit nie gaan gebeur nie.
Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer.