Menu terloops
In Recaps & Resensies [25 Jul 2024]

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Hier is die top-5 boere


Op vandeesweek se episode van ‘Boer soek ’n vrou’: Wat jy moet weet oor die honderde briewe, ’n skokaankondiging én die topvyf boere word aangekondig.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom aanlyn

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Hier is die top-5 boere

(Hooffoto: Gys Loubser)

Vir Marciel Hopkins, die aanbieder van die 16de reeks van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou, is liefdesbriewe iets wat deesdae baie skaars is. 

“Maar om iemand se woorde in jou hande vas te hou en dit in te neem, is ’n kosbare oomblik wat nie maklik is om te beskryf nie,” sê sy.

Die eerste sarsie briewe word afgelewer

Eerste aan die beurt is Quintus (39). Hy kan nie help om te wonder of hy een van die vyf boere gaan wees wat die meeste briewe ontvang nie. Hy erken onsekerheid en twyfel het beslis in sy kop kom rondskrop.

Annelize van Kroonstad laat hom dadelik dink sy’s iemand met ’n sagte hart. 

Corlea se kort video, getiteld Corlea soek vir jou . . . beïndruk hom ook en die drietal jong manne in skooldrag waarsku hom met “Quintus, jy weet nie wat ons weet nie!” en die res van haar kollegas vertel hom dat hy nie verder hoef te soek nie.

Daandré (26) volstaan by sy vertroue in die Here om hom te lei na waarnatoe hy moet beweeg. En hy glo 100% sy trouvrou is in die sak vol briewe wat Marciel kom aflewer het. 

Gaan dit dalk Renate wees wat op soek is na iemand om diep lief te hê? Sy beskryf Daandré as iemand met ’n nederigheid in sy oë en ’n sagte stem. Hy is effe uit die veld geslaan en weet nie mooi hoe om daarop te reageer nie.

Op haar beurt het Sonja vir Daandré ’n potloodskets van homself gestuur. Ook gedigte uit haar eie pen. 

Marciel sê vir Daandré sy wil ernstig met hom praat oor Boer soek ’n vrou – maar weer eens word alles net daar in die lug gelaat.

Goeie nuus 

Quintus kan nie langer wag om te hoor wat Marciel vir hom te sê het nie. Sy skop af met die slegte nuus: “Jy gaan tien teen een nie vanaand baie slaap nie, want jy gaan deur al hierdie briewe moet lees,” en daarmee word daar nog twee sakke wat boepens staan van briewe vir hom ingedra.

Hy gaan een van die deelnemers wees wat amptelik op die blitsafsprake gaan. 

Boer soek 'n vrou, Quintus
Quintus het erken hy was onseker of hy genoeg briewe sou kry. Foto: Gys Loubser

“Is ek nou top-5?”, wil hy weet en skud sy vuiste triomfantelik in die lug. Ja, dié boer is opgewonde! Maar hy het net 24 uur om deur die briewe te gaan om 10 moontlike maats te kies, en Marciel raai hom aan om hulp in te roep.

Kollega Reinier en buurman Kosie is byderhand om broodnodige hulp, en waarskynlik ook ’n bietjie raad, te verleen.

Was daar genoeg briewe vir die boer van Brits?

Daandré was opgewonde om op die blitsafsprake te gaan. Maar ook vir hom moet Marciel die nuus deel dat daar nie genoeg briewe in die sak was nie… Marciel, die platjie, het hom egter ’n streep getrek!

Drie sakke vol briewe word ingedra en sy sê: “Dis nou amptelik. Jy gaan blitsafsprake toe!”

Boer soek 'n vrou, Daandre
Marciel het amper vir Daandré met ’n slap riem gevang! Foto: Gys Loubser

Hy is baie verras, juis omdat hy nie seker was of hy selfs tien briewe sou ontvang nie. Vir hom voel dit soos ’n droom dat daar werklikwaar meisies daarbuite is wat van hom hou – en wie weet, dalk sy trouvrou kan wees.

Vriende CJ en Lodewyk se hulp is ingeroep om te help met die briewe deurlees en die top-10 te kies.

Nog briewe!

Jacques (27), die man wat bekend is vir sy kwinkslae, is volgende aan die beurt. Hy is baie opgewonde toe hy die sak vol briewe sien wat Marciel kom aflaai het.

Miné van Pretoria skryf dat sy dadelik deur die sonskyn wat hy uitstraal, vasgevang is en dat sy besef het sy moet hom ontmoet. Kan dit wees dat hierdie woorde die boer laat bloos?

Maar het Suleen self haar saak by Jacques gekelder deur ’n video te deel waar sy haar hond vashou?  “Nee, f*k, die hond gaan nie plaas toe kom nie!” kom dit laggend van hom.

Marciel wil by hom weet watter een van die twee meisies moet hulle bel. Sy’s slaggereed met haar slimfoon om die regte knoppie te druk, al gooi Jacques verwoed wal.

Dis toe Miné wat antwoord. En ’n gloeiende Jacques, sonder enige slim grappies, gesels ewe bedees met haar.

Sit neer die foon

Marciel stel Jacques gerus dat hy nie weer die meisies hoef te bel nie. Hy het ander werk om te doen, en dis om 10 van hulle te kies vir blitsafsprake.

Boer soek 'n vrou, jacques
Jacques was baie opgewonde, maar oorweldig, oor sy plek in die top-5. Foto: Gys Loubser

Dis vir hom ’n baie oorweldigende gevoel toe die besef insink dat hy deel van die top-5 deelnemers gaan wees.

Vriend Leroy en buurvrou Cara sit gretig handjie by met die lees en sorteer van briewe, alhoewel Leroy teleurgesteld voel dat nie een van die briefskrywers vir hulle biltong gestuur het nie.

Skok!

By Hendri (32) se plaas is daar twee groot sakke briewe wat afgelaai word. Maar daar’s ’n skok-aankondiging: Hy gaan onttrek. Maar vir die beste rede ooit – hy het iemand ontmoet!

Hy het wel genoeg briewe ontvang om met die proses voort te gaan, maar Hendri is baie beslis – hy het sy spanmaat gesoek en hy het haar gekry. Laggend erken hy dat hy baie verlief is. En die twee sakke word teruggelaai in die bakkie.

Sakke, sakke en nog sakke

Niel (31) erken hy het sleg geslaap in afwagting op Marciel se besoek en die impak wat dit op sy lewe vorentoe kan hê. 

Hy kon sy oë nie glo toe een na die ander sak vol briewe die leefvertrek ingebring word nie. In ’n stadium lyk hy soos ’n vlakhaas wat in die kollig vasgevang word en hy erken sy hart klop nou teen 120 slae per minuut!

Niel het inderdaad die meeste briewe van die seisoen ontvang. En sy vriend André en skoonsuster Nicole is slaggereed om saam met hom deur die honderde briewe te werk.

Niel
Niel het die meeste briewe hierdie seisoen ontvang. Foto: Gys Loubser

Geskiedkundige oomblik vir die Wes-Kaap 

Gaan JW (24) se huis nog leeg bly of is daar ’n liggie in die tonnel? Hy sê dis vir hom ’n baie spesiale en warm gevoel wat hy binne homself kry nadat hy van die briewe gelees het en ervaar het hoe mense hom sien.

Marciel vertel vir hom dat jonger boere wat vir Boer soek ’n vrou inskryf, nog nooit genoeg briewe ontvang het om met die proses voort te gaan nie. Dit is hoofsaaklik omdat die ouderdomsgroep so klein is en briefskrywers mag nie jonger as 21 wees nie.

Maar JW het meer as die kwota ontvang – ’n hele paar sakke word ingedra!

Om hom deur die briewe te help werk, maak hy staat op sy suster Alicia en een van sy vriende, DJ.

JW
Ondanks sy jong ouderdom, het JW genoeg briewe ontvang. Foto: Gys Loubser

Die top-5 boere is dus:

  • Niel (30) van Dannhauser, KwaZulu-Natal het die meeste briewe ontvang
  • Quintus (39) van Winburg, Vrystaat
  • Jacques (27) van Venterstad, Oos-Kaap  
  • Daandré (26) van Brits, Noordwes
  • JW (24) van Villiersdorp

Boer soek ’n vrou (S16) word vanaf Donderdagaand, 18 Julie 2024, om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies