Menu terloops
In Recaps & Resensies [8 Aug 2024]

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Trane van hartseer en vreugde oor plaaskuiers


In hierdie episode van ‘Boer soek ’n vrou’ kuier die boere en die vroue wat hulle gekies het by Surval Boutique Olive Estate in Oudtshoorn – en dis hier waar hulle elkeen drie vroue vir plaaskuiers kies.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom aanlyn

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Trane van hartseer en vreugde oor plaaskuiers

“Elke verhouding is uniek en iets waaroor ek seker is, is dat jy saam moet kan pret hê om die lewe te kan geniet,” sê Marciel Hopkins, programaanbieder van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou met die aanvang van die vierde episode.

Boer Quintus

Hy sê jy kan nie iemand opsom uit wat in ’n brief staan nie. En tydens ’n kuier onder ’n lieflike koelteboom begin hy sy vyf keuses beter ken. Is Bianka regtig die reëlbreker soos wat sy in haar brief aangedui het? En is daar enige verslawings? Koffie, draf, werk en flieks word geopper. Ria erken haar verslawing is om te eet . . .

Die groot vraag is natuurlik wie die een gaan wees wat vir boer Quintus, wat erken dat hy maklik grappies maak, so ver gaan kry om sy diep en romantiese kant te wys?

Toe word dit speletjiestyd om mekaar beter te leer ken. Die foto’s wat deur die vroue ingestuur is, word op ’n swart bord geplaas en dan moet daar geraai word aan wie die foto’s behoort.

Boer Quintus is ten volle bewus van die onderlinge kompetisie in die groep. Hy wonder of die handskoene later gaan afkom. 

Alleentyd

Ria sê sy voel meer gemaklik in boer Quintus se geselskap. Vir Bianka is dit nou die regte tyd om aan te beweeg ná haar man se afsterwe. Emsoné erken een van haar guilty pleasures is om nou en dan te rook alhoewel boer Quintus duidelik teen rook, veral in sy huis, gekant is. Maar sy voel die oogkontak tussen hulle twee beteken wel iets positief.

Monique sê sy’s reg vir ’n bietjie romanse in haar lewe. En dat sy baie liefde het om te gee. Sy noem ook dat as sy sou weet sy gunsteling-bederf is “pep . . .” en voor sy die woord klaar kan uitspreek, vul hy aan: “Peppermint Crisp-tert”. Nou ja toe!

Boer Quintus se keuse

Ria, Veronica en Emsoné word plaas toe genooi. 

Boer soek 'n vrou
Boer Quintus met die drie vroue wat hy gekies het. Foto: Skermgreep

Boer JW

Die groepie sit heerlik op kussings op die grond en gesels rondom ’n tafel gelaai met heerlike eetgoed. Hy sê sy twee honde gaan hom bystaan in sy keuse, want diegene wat plaas toe genooi gaan word, moet hul harte ook verower.

“Moenie te veel worry oor die ouers nie, worry oor die honde,” laat hy laggend hoor. 

Alhoewel hy effe op sy senuwees met die groepskuier is, sien boer JW ook daarna uit om vrae te vra. 

Nicolene erken wanneer sy na boer JW kyk, moet sy haarself ferm aanspreek om te fokus, want sy het die skoot hoog deur. “Diep verlore” noem sy dit. En vir Danelle is dit duidelik dat dié jong boer werklik na elkeen van hulle luister.

Dieselfde speletjie om mekaar beter te leer ken, word ook deur boer JW en die vyf vroue gespeel. Dit wissel van babafoto’s tot hoërskoolpret, gunstelingkos en troeteldiere.

Boer JW is glad nie gelukkig met een van die dames se gunsteling-disse nie: Nevé is gek oor soesji maar hy sê dit gaan vir hom moeilik wees om haar te soen nadat sy dit geëet het. 

Hy begin al voel wie nie plaas toe genooi gaan word nie.

Alleentyd

Michaela vestig haar hoop daarop dat boer JW iets in haar sal raaksien want sy  het beslis iets in hom raakgesien. Op haar beurt maak Danelle dit duidelik dat meningsverskille dadelik opgelos moet word en boer JW erken hy vermy konflik so ver as moontlik. 

Boer JW sê vir Mieke hy het baie liefde om te gee, maar dit moet vir die regte persoon wees en dat daardie persoon nie met hom sal mors nie. Mieke sê haar emosies kry die oorhand en daar is sterker gevoelens wat na vore kom noudat sy die ander kant van hom van nader leer ken het. 

Nevé voel sy’s gereed om gevestig te raak en ook met ’n familie te begin. Intussen voel boer JW sy instink is besig om in te skop.

Boer JW se keuse

Danelle, Mieke en Nevé is die drie wat boer JW se twee honde se harte moet verower.

Boer soek 'n vrou
Boer JW met sy verkose vroue vir die plaaskuiers. Foto: Skermgreep

Boer Niel

Hy weet nog nie hoe hy uit die vyf mooi vroue gaan kies nie. Maar vroeg-vroeg waarsku hy dat as een van hulle sy vrou gaan word, hy haar waarskynlik mal gaan maak met sy passie vir gholf.

Marjohandé is net baie spyt hy het nie sy kakieklere aan nie. Aniska weet nie heeltemal hoe sy oor boer Niel voel nie, maar as sy vir hom kyk, vergeet sy onmiddellik van alles.

Die vonkelwynprop skiet die hoogte in toe hy en sy gekose vroue die foto-speletjie begin speel. En dis ’n senuweeagtige boer Niel wat die foto’s begin opsit want die dag is nie net in sy hande nie, die dames speel ook ’n rol daarin.

Mikal dink dit gaan moeilik wees om keuses te maak want sy voel al die dames in die groep is baie soortgelyk.

Alleentyd

Boer Niel sê dis lekker om met Aniska te sit en gesels. Hy sê sy gee hom daai vlindergevoel waarvan hy hou, en sy voel dieselfde. 

“Ek dink ek is verlief,” erken sy.

Mikal is meer as tevrede met boer Niel se antwoorde rondom verhoudings. Van doekies omdraai, is daar min te bespeur toe Marjohandé tyd met hom spandeer. Sy beskryf hom as aantreklik met ’n mooi hart – en dat sy baie van hom hou. 

“Ek wil nie net plaas toe gaan nie, ek wil dié vrou wees,” kom dit ferm van haar.

Boer Niel se keuse

Hestia, Aniska en Mikal kan nie breër glimlag nie. Ja, hulle gaan met die sjarmante boer Niel op sy plaas kuier.

Boer Niel met die vroue wat op die plaas gaan kom kuier. Foto: Skermgreep

Boer Jacques

Hy soek na persoonlikhede, die agtergrond maak nie vandag vir hom saak nie.

Vir Wilmie is dit ’n taai situasie omdat sy voel sy moet bly wie sy is, maar sy moet ook tussen die ander deur hom raakgesien word. Miné voel op haar beurt daar is baie groot persoonlikhede rondom die tafel en dit maak dit moeilik om ’n woord in te kry. Sharezaan besef boer Jacques “het nie ’n filter gekry nie” en sê vir hom sy dink nie hy is gereed vir haar vrae nie. Nicole wil hom graag beter leer ken omdat hy vir haar na ’n gawe mens lyk.

Tydens die speletjietyd om mekaar beter te leer ken, word daar baie gelag. Boer Jacques erken daar is meisies met bitter sterk persoonlikhede, maar ook twee wat oordonderend is. 

“Dan is daar twee wat weet wie hulle is en dit pla hulle nie,” sê hy. 

Alleentyd

Dánika wil by boer Jacques weet hoe hy sy keuses uit die briewe gemaak het. Hy sê  haar brief was baie oulik en dit lyk of sy gawe familie en familiewaardes het. 

Vir Miné is geluk ’n besluit wat jy neem. Wilmi erken sy’s lief vir skoolhou en sy sal wil voortgaan daarmee, maar dit hang af . . . Marezaan droom van ’n groot familie met ’n liefdevolle man. 

Nicole het geen ervaring of kennis van ’n plaas nie, maar kleintyd-kuiers op ’n skoolmaat se skaapplaas verhoed haar om skaapvleis te eet. Boer Jacques maak dit duidelik dat dit op die plaas sal moet verander, want daar kraai skaapvleis koning.

Boer Jacques se keuse

Hy laat Marciel na haar asem snak toe hy sê hy gaan eers kies as hulle voor hom staan. Maar hy stel haar gerus dat hy na sy instink gaan luister.

Sharezaan, Nicole en Dánika is meer as slaggereed om plaas toe te gaan, en sê die “plaas weet nie wat hulle weet nie!”

Boer soek 'n vrou
Dié vroue gaan by Boer Jacques op die plaas kuier. Foto: Skermgreep

Boer Daandré

’n Lieflike toneel op die dek begroet boer Daandré en die vyf dames. Hy sê hy voel kinderlik opgewonde omdat die soeke na ’n vrou iets is waarvoor hy so lank gehoop en gebid het. Maar nou voel hy ook senuweeagtig.

Zandelee is baie gelukkig om boer Daandré in sy “stadsklere” te sien en sy dink hy lyk baie mooi. Lize-Mari sê daar is gewoonlik goedjies wat pla wanneer die maanskyn en rose-periode verstryk het, maar hier sien sy beslis net perfeksie!

Liné dink sy en boer Daandré deel dieselfde belangstellings. Maar nie wat draf aanbetref nie . . .

Boer Daandré verbaas die vyf meisies toe hy erken dat hy nog nooit in ’n vaste verhouding was nie. Sy rede? Hy wou nie iemand se tyd mors nie.

Dis spanningsvol vir Elizette omdat hulle almal om boer Daandré se aandag meeding. Sy sê sy is geneig om maar terug te staan vir ander. 

Marisca, wie se voet aan die slaap geraak het van kruisbeen sit op die dek, het byna gestruikel. Maar boer Daandré is gou by om te help. Sy het dit as ’n goeie ysbreker gesien en erken sy het letterlik en figuurlik klaar vir hom geval.

Tydens die foto-speletjie wys boer Daandré dat hy aandag aan die detail gee en raai die meeste van die foto’s raak. 

Boer Daandré voel dat van die dames ongemaklik mag voel en skryf dit toe aan twee van hulle wat die groep oordonder.

Alleentyd

Lize-Mari stel boer Daandré gerus dat sy dink dat sommige naweke waar die meisies of vrouens nie by ingesluit is nie, is gesond. Sy ervaar beslis welkome gevoelens van verliefdheid.

Liné sê niks is altyd net wit en swart nie, alles moet volgens die situasie oorweeg word.

Boer Daandré se keuse

Die jong boer sukkel om sy emosies onder beheer te kry en die trane blink in sy oë toe dit tyd raak om sy keuses te maak.

Elizette, Marisca en Lize-Mari is vol hoop oor wat hulle op die plaas gaan ervaar aan die sy van boer Daandré.

Boer soek 'n vrou
Dié vroue gaan by Boer Daandré op die plaas kuier. Foto: Skermgreep

kykNET soek boere vir 2025

Inskrywings vir boere vir die 17de seisoen van Boer soek ‘n Vrou, wat in 2025 op kykNET uitsaai, is nou oop. Boere kan só inskryf

  • Besoek www.kyknet.tv 
  • Bel: 079 614 2229
  • Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com

Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies