Menu terloops
In Recaps & Resensies [18 Jul 2024]

‘Boer soek ’n vrou’ is terug met hoopvolle harte


Borrelende Marciel Hopkins, die aanbieder van die 16de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks ‘Boer soek ’n vrou’, is slaggereed om weer boere reg oor die land te help liefde vind.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom aanlyn

‘Boer soek ’n vrou’ is terug met hoopvolle harte

Die nuwe seisoen van Boer soek ’n vrou het met ’n stunning eerste episode begin waarin ons die harte van tien boere – ou seer, letsels, nuwe hoop en opgewondheid inkluis – saam met aanbieder Marciel Hopkins leer ken het.

Die boere praat oor liefde

Boer soek ’n vrou
Boer André het verklap dat die liefde hom effe bang maak… Foto: Skermgreep

“Om te boer, is soos om iemand lief te hê want elke dag het sy uitdagings.” Dis die woorde waarmee boer Janco vanjaar se eerste episode van Boer soek ’n vrou, afskop.

“Liefde maak my bang en opgewonde op dieselfde tyd, maar die onbekendes in die lewe is die goed om na uit te sien,” sê boer André.

Vir boer Lulani is liefde “wanneer jy jouself, sonder enige filter, vir my wys wanneer ek sê dis perfek, dis wonderlik, dis presies wat ek wil hê.”

“Om te boer; dit gaan oor groei. In liefde is dit dieselfde. Jy laat mekaar groei en dinge bereik en jy bereik dit net deur liefde vir mekaar te hê,” sê boer Jaandré.

Boer Jacques glo in liefde want “daar moet magic wees” terwyl liefde vir boer Quintus ’n goeie wegspringplek is, maar “liefde is nie net iets wat … Jy het dit gekry en nou’s dit klaar nie. Liefde is harde werk”.

“Ek weet hoe dit voel om iemand te verloor waarvoor jy lief is. So dis hoekom elke dag so belangrik is en die pad na liefde is om weer daai lewensmaat te vind wat vir jou oneindigbaar lief is,” sê boer Sanel.

“Ek sal wil weet wanneer ek liefde gevind het want die persoon sal so diep in my hart inkruip – ek sal voel met daai gut feeling… Hierdie is die regte keuse,” kom dit van boer Niel.

Boer JW voel op sy beurt dat sy groot huis baie leeg is en dat daar beslis plek vir twee is. En vir boer Henri is besluite van die hart soms moeilik, veral as daar besluit word dis die mens met wie jy jou lewe wil deurbring. Hy beplan nie om om meer as een keer voor die kansel te staan nie.

Boer soek ’n vrou
Boer Hendri beplan om net een keer die knoop deur te haak. Foto: Skermgreep

Marciel ontmoet die boere

Boer Niel (saai- en veeboer) – Dannhauser, KwaZulu-Natal

Hy erken sy hande is nie gemaak vir praktiese goed nie – veel eerder om die skip se stuur vas te hou. Hy hoop op ’n bonus vir vanjaar se oes – ’n mooi brief van ’n oulike dametjie . . . Hy mis die veiligheid om kwesbaar te kan wees by iemand vir wie hy omgee.

Boer Jacques (skaap- en beesboer) – Venterstad, Oos-Kaap

Dié lewende hawe-bemarker geniet sy werk baie omdat hy op die manier by al die boere uitkom en na hulle stories kan luister. Maar hy noem dat daar nie baie tyd is vir verhoudings nie.

Boer Lulani (bees- en skaapboer) – Philippolis, Vrystaat

Sy kry dit reg om Marciel te leer om ’n koei vir dragtigheid te ondersoek – beslis ’n eerste! Sy glo ook die liefde is nie iets wat jy beplan nie en dit vang mens dikwels onkant.

Boer soek ’n vrou
Boer Lulani het Marciel hard laat werk op die plaas! Foto: Skermgreep

Boer Daandré (groenteboer) – Brits, Noordwes

Hy glo vas jy moet onder begin om te waardeer wat jy het, en dan kan jy vorentoe gaan.

Boer Hendri (gemengde boerdery) – Dewetsdorp, Vrystaat

Hy en Marcel het mekaar sowat tien jaar gelede op kampus geken. Tot haar groot verbasing sê hy dat hy ’n bietjie aan die stillerige kant is. Hy geniet die fisieke kant van plaaswerk omdat hy ook die resultate kan sien van wat hy elke dag doen.

Boer Sanel (wild- en beesboer) – Dwaalboom, Limpopo

Nadat haar man aan Covid-19 gesterf het, het sy klippe gekou en deurgebyt. Sy glo sy gaan weer ’n maat kry. Al is dit dalk nie daardie perfekte deksel nie, as hy weet wat die liefde is en God ken, dan sal dit pas.

Boer Sanel se hart ken groot seer, maar sy glo daar is tog nog liefde wat op haar wag. Foto: Skermgreep

Boer Janco (Gemengde boerdery) – Colesberg, Vrystaat

“Ek wil net ’n beter ek wees. Ek kan nie daar vir ander mense wees as ek nie solid is nie.” Hy erken dat hy baie hard op homself is omdat hy nie daarvan hou om mense teleur te stel nie. En dat hy ingeskryf het want “daai mooi donkerkop of mooi blonde loop nie hier tussen die koppietjies rond nie”.

Boer André (Vee-, wild- en pekanneutboer) – Naboomspruit, Limpopo

Hy het tot dusver die liefde vermy omdat hy nie wou seerkry nie. Nou het hy ’n kopskuif gemaak en besef as hy nie nou waag nie, gaan daar dalk nooit ’n geleentheid kom om sy eie familie te hê nie.

Boer JW (Appel-, pere- en skaapboer) – Villiersdorp, Wes-Kaap

Vir hom is die belangrikste dat sy meisie nie hoef mooi te wees vir almal nie, solank sy net vir hom mooi is. Hy wil ook nie baie spesifiek wees nie, want dalk is sy droomvrou heeltemal anders as die idee wat hy in sy kop het.

Boer Quintus (Gemengde boerdery) – Winburg, Vrystaat

Hy hou daarvan om dinge self met sy eie hande reg te maak en te verander soos wat hy daarvan hou. Soos die ou tafel wat hy by die skool gekoop het en pragtig gerestoureer het. Die onthulling van die blad het Marciel se asem weggeslaan, want op die nuwe blad het hy die Boer soek ’n vrou-logo aangebring. En hy’s gereed om te settle . . .

Boer soek ’n vrou
Die blad wat Boer Quintus gemaak het. Foto: Skermgreep

Hoe gaan die boere weet ‘wie’s die regte een’?

Boer Jacques soek rooi lippies en glo vas hy gaan van die eerste oomblik weet wie die regte een vir hom is. Hy soek iemand wat daar sal wees vir hom, en nie iets anders nie . . .

Boer Lulani soek op haar beurt iemand wat saggeaard is en gaaf teenoor haar is. “Elke mens verdien liefde en ek voel daar is definitief iemand wat 100% by my sal pas en 100% my malgeit sal aanvaar.”

Boer Daandré vertel vir Marciel hy wil hê die liefde moet hom onverwags betrap. Foto: Skermgreep

Oor ’n lieflike waatlemoenskyf, vertel boer Daandré hy het alles oorgegee. Sy wens is dat dit kom “soos ’n poep . . . Onverwags”. En sy hart is reg om vorentoe te beweeg.


Boer soek ’n vrou (S16) word vanaf Donderdagaand, 18 Julie 2024, om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies