Menu terloops
In Recaps & Resensies [3 Okt 2024]

‘Boer soek ’n vrou’: Een boer twyfel, ’n ander is dolverlief


Wie gaan met die stofsuier ronddans, wie se pa het die bal aan die rol gesit en by watter boer heers daar twyfel? Hier is wat in vandeesweek se episode van ‘Boer soek ’n vrou’ afgespeel het.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom nou

‘Boer soek ’n vrou’: Een boer twyfel, ’n ander is dolverlief

“Wat sê die mense met wie jy jouself omring, van jou menswees?,” is die vraag wat Marciel Hopkins, programaanbieder van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou van nader gaan ondersoek tydens die 12 episode van die reeks. 

Vir die boere is die skoen nou aan die ander voet – hulle ontmoet hul gekose dames se geliefdes!

Boer JW (24) van Villiersdorp

Kroonstad. Dis waar boer JW homself nou bevind, want dis waar sy Danelle haarself bevind. Hy is opgewonde oor die weersiens want die week was vir hom net te lank sonder haar borrelende geselskap.

“Ja, die verlange het ’n bietjie gegroei van laas naweek af. So, dit was baie, baie lekker om haar weer te sien. Ek is nie iemand wat al baie ge-video call het nie, maar dit was amper al wat die week gedoen het,” erken hy laggend terwyl hulle twee al te liefies sit en hand vashou op die rusbank.

Die senuwees knaag wel oor die komende ontmoeting met Danelle se pa en sy meisie, Sharon. Kykers sal haar pa natuurlik herken as boer Hannes van seisoen 13 (2021) van Boer soek ’n vrou.

Boer soek 'n vrou
Dit was “baie, baie lekker” om mekaar weer te sien, vertel boer JW. Foto: Skermgreep

Ontmoet die ouers

Sharon sê met die eerste oogopslag was dit duidelik dat die twee baie gemaklik is met mekaar.

“As jou kind gelukkig is, dan is jy gelukkig. En ja, Danelle . . . ja-nee, sy is happy,” sê Hennie.

Intussen is Danelle se grootste wens dat boer JW en haar pa ten minste oor die weg moet kom. Hulle hoef nie beste vriende te wees nie, maar hy moet weet haar pa is haar go to-mens.

“Die gevoelens raak net by die dag sterker en sterker. So, ja, as mens dit verlief kan noem, dan’s dit seker nou maar wat dit is,” verklap Danelle.

Hennie noem dat sy eerste indrukke van boer JW gunstig is, maar hy sal hom beslis beter wil leer ken voordat hy finaal sy opinie oor hom vorm. 

Op sy beurt vestig boer JW sy hoop op ’n goeie indruk omdat hy hulle mooi gegroet het en deurentyd in die oë gekyk het. En natuurlik kon die geskenk van appels en pere van sy plaas ook net help.

Hennie terg en sê hulle sal maar later oor die lobola moet praat en wil weet of hy dan nou net appels en pere gaan kry. En nog ’n vraag, kan die Wes-Kapenaar teiken skiet?

Hennie, Danelle en boer JW is kort voor lank agterop die bakkie en die geweer word oorgehaal. Danelle kán en sy tref die kol elke keer. Gaan die jong boer haar beïndruk met sy skietvermoë? Die senuwees lol, en hy kan die teiken net drie keer tref. Die teleskoop het hom wel bygekom en daar is ’n bietjie bloed te bespeur op sy voorkop.

Boer soek 'n vrou
Kolskoot! Foto: Skermgreep

Boer JW besef hoe belangrik dit vir Danelle is dat haar pa hom leer ken. Dis nie net hy en Danelle wat die pad gaan stap nie, haar pa is deel daarvan.

’n Piekniekmandjie en vonkelwyn is volgende op die twee liefies se spyskaart. Hulle is baie bly dat die vyf dae wat hulle weg van mekaar was, nou verby is. Vir eers.

“Ek is definitief verlief. Ja, Danelle laat voel my baie spesiaal. Sy gee hierdie warm gevoel binne-in my, daar’s definitief butterflies en al daai goed. Ek sal sê dit kom van altwee kante af,” kom dit van ’n baie gelukkige boer JW.

Vir Danelle is dit net wonderlik dat hulle twee tyd in mekaar se geselskap kan deurbring.

Ontmoet vriende en familie

Danelle se groot wens is dat almal die tydjie saam sal geniet, en natuurlik om meer tyd met boer JW deur te bring.

“Die senuwees het ’n bietjie ingeskop, ek dink ’n mens wil almal beïndruk en ’n goeie indruk skep,” kom dit van boer JW wat duidelik op sy senuwees is. Maar Danelle is byderhand en stel hom aan almal voor, van haar ouma tot haar getroude vriende. 

Haar vriendinne Mia en Kristen erken hulle het haar nog nooit so gemaklik gesien nie. Hulle is gek daaroor dat sy so gelukkig lyk en glo die twee is ’n goeie paartjie want dit lyk asof Danelle haarself kan wees rondom haar boer.

“Sy sê darem vir my sy hou van jou, sy’s lief vir jou . . . so,” trek Danelle se ouma Sannetjie boer JW se siel uit. Hy sê is baie dankbaar dat hy nou weet hoe Danelle oor hom voel.

“Was sy altyd so, as sy opstaan is dit soos ’n radio wat jy aansit, sy gaan net aan?” wil boer JW van Danelle se ouma en vriende weet. Ja, inderdaad . . .

Lizelle en Toit is ook heel tevrede met die Wes-Kaapse boer. Hy staan nie terug om vir Danelle te terg nie.

Toit sê hy en Henno, Danelle se oom, wil weet wat boer JW se intensies met Danelle is na byvoorbeeld ’n jaar.

Eventually, dalk om met haar te trou,” kom dit van ’n blosende boer JW. “Hy’t ’n ses-jaar plan, hy’s legit,” kom Lizelle tot sy verdediging.

Henno se vrou, Retha, dink die twee kan pasmaats wees na aanleiding wat sy deur die loop van die aand waargeneem het en dat hulle die beste in mekaar uitbring.

“Hy’s by haar, die ander was saam met haar, maar nie by haar nie,” kry hy die stempel van goedkeuring van Henno.

“Ek het so lank gewag om daai persoon aan my sy te hê, en hy is net perfek aan my sy . . . ek love dit,” erken Danelle.

“Nee-wat, hier kom miskien ’n ding,” is Hannes se mening. 

Boer JW en Danelle word deur hul vriende uitgevra oor hoe hulle die pad vorentoe sien wat betref take in en om die huis.

“Ek sal met die stofsuier ronddans, dan kan sy die skottelgoed doen,” kom dit van boer JW.

“Ek sal definitief hier inpas. ’n Mens het nou sekerheid en jy weet, en jy sien uit vir die toekoms. So, dis baie lekker. Ja, daai gevoel . . . ja, want sy laat voel my gemaklik en ek kan myself wees rondom haar. Dis rêrig ’n lekker gevoel.”

Boer Jacques (26), Venterstad, Oos-Kaap

Hoe gaan boer Jacques die onbekende hanteer, meer spesifiek Hartenbos en sy mense? Nicole is opgewonde om hom aan haar kant van die wêreld bekend te stel en dat hy haar in haar omgewing gaan sien.

Hy vertel dat hulle nie baie gesels het sedert sy van die plaas af vertrek het nie omdat dinge baie dol was die week. Maar hy sien uit na lekker kuier. Nicole is gereed daarvoor en die twee bevind hulle by Kaaimans Adventures waar hulle gaan kano.

Nicole sê sy het tot die besef gekom dat die Oos-Kaapse boer nie net ’n grapmaker is nie, maar dat hy ook baie diep en ernstig kan wees.

Op sy beurt erken boer Jacques dat dit nogal ’n groot ding is om iemand se ouers te ontmoet. Vir hom gaan dit daaroor of hy by hulle kan inskakel as daar ooit iets gaan gebeur, maar in hierdie stadium is dit nog net vriendskap vir hom.

Boer soek 'n Vrou
“Nicole het lekker bly sit soos ’n lady, toe moes ek haar deur die klippe trek,” vertel Jacques oor hul roei-avontuur. Foto: Skermgreep

Gelukkig werk die twee se roei-vermoë in hul guns met boer Jaques wat volgens Nicole 100% van die roeiwerk doen terwyl sy die kano navigeer om rotse en goed te vermy. Later trek hy ewe ridderlik die kano deur die vlak water terwyl Nicole rustig sit en ontspan.

“Nicole het lekker bly sit soos ’n lady, toe moes ek haar deur die klippe trek. My voete is sag en die klippe maak ’n ou se voete seer hier onder in die water,” kom dit half-klaend van hom en hy sê hy het maar gemaak of hy niks seerkry nie.

Ontmoet die ouers

Nicole stel hom voor aan haar ma Minnelese, stiefpa Chris, pa Henry, broer Dean en stiefbroer Lian en -suster. 

Minnelese se eerste indruk van boer Jacques is goed. Sy sê Nicole het ’n baie sterk man in haar lewe nodig omdat sy self ’n baie sterk persoonlikheid het. Ook sy selfversekerdheid het haar beïndruk.

Boer soek 'n vrou
Nicole koester die hoop dat dinge tussen haar en boer Jacques verder as net vriendskap sal gaan. Foto: Skermgreep

Op sy beurt is Chris meer versigtig om ’n opinie te lug, maar hy dink dat daar baie raakpunte tussen die twee is. Henry dink daar’s beslis potensiaal omdat dinge met ’n vriendskap begin.

“Dis die beste plek om hulle verhouding op ’n goeie voet te begin,” sê hy.

Nicole koester wel die hoop dat dinge tussen haar en boer Jacques verder as net vriendskap sal gaan. Ook dat haar vriende vir boer Jacques gaan ervaar soos wat sy hom sien.

Op sy beurt sê hy dat hy nie juis baie tyd het om senuweeagtig te wees nie want daar’s te veel goed wat gelyk in sy kop aangaan.

Ontmoet vriende en familie

Nicole was aanvanklik onseker oor hoe haar vriende en familie met haar nuwe vriend oor die weg gaan kom, maar toe daar eers met boer Jacques gesels word, het dinge mooi gevloei.

Sybrand, een van Nicole se vriende, beskryf boer Jacques as ’n baie gawe ou. “Hy’s baie oop, hy lag baie lekker. ’n Ou wat lekker lag, beteken hy kan homself geniet. Hy steek niks weg nie.”

Ronél en Callie is ook beïndruk met hom. Sy voel hy luister na wat daar te sê is en neem dit in. “Hy is ingestel op ander, en sy is presies dieselfde,” sê Ronél.

Vriendin Marika en neef Ruan voel ook Nicole is meer gemakliker met hom saam met haar vriende. “Ja, hy bring haar uit haar kassie uit, hy challenge haar ’n bietjie,” sê Marika.

Dean sê hy voel boer Jacques pas maklik in, maar hy wil tog eers uitvind wat in die boer steek en of hy werklik sal inpas. Lian staan vas agter Dean op hierdie een.

Chris sê Nicole het die kans gewaag en as dit uitwerk, sal dit goed wees. As dit nie uitwerk vir hulle twee nie, is daar dalk ’n goeie vriendskap wat hieruit gebore word. Maar wat vir hom en Minnelese uitstaan, is die verandering wat hulle by Nicole gewaar.

Ronél skiet sommer vanuit die heup en wil by boer Jacques weet of hy dink hy is goed genoeg vir Nicole. Minnelese is effe geskok en haar vurk kletter neer met ’n, ‘Whoa!’. Maar die gelag neutraliseer die vraag so bietjie.

Nicole self is ’n bietjie onseker oor wat die pad vorentoe inhou. Gaan dinge net oorwaai?

Boer Niel (30) van Dannhauser, KwaZulu-Natal

Die KZN-boer bevind hom in een van die mooiste dele van die Wes-Kaap, die Hexriviervallei, waar hy Mikal se mense gaan ontmoet.

Die twee het reeds hul eerste afspraak gehad toe een van boer Niel se neefs aan die einde van die laaste week op die plaas getrou het. En volgens hom was dit baie lekker gewees!

Ontmoet die ouers

“Die oom en tannie het my rêrig baie gemaklik laat voel, ek het onmiddellik tuis gevoel hiersô – amper asof ek op my eie plaas was,” vertel boer Niel oor sy ontmoeting met Mikal se ouers, Marius en Tanja.

“My ouers het geweet ek gaan eendag terugkom met ’n boer,” vertel Mikal.

Die gesprek draai na Mikal se unieke naam en Marius vertel hoe dit gebeur het. Hy het eendag by sy chemiese stoor ingeloop en toe’s daar ’n boks met die naam Mikal M op die kant. Dit was gif . . .

Marius sien boer Niel as ’n spontane mens wat maklik is om mee te gesels. En terwyl daar heerlik op die stoep geskerts word, lig Marius hom in dat hy nou ’n ander rugbyspan moet ondersteun: die Stormers. 

Volgens Mikal het haar ouers geweet sy gaan eendag met ’n boer by die huis aankom. En hier’s hy nou! Foto: Skermgreep

“Oom, ek het rêrig my Stormers-trui hier, né. Ek wou hom aantrek, maar toe dog ek nee, dis ’n bietjie vroeg,” laat hoor hy tot almal se vermaak.

Op ’n houtbruggie langs die water, word die vonkelwyn se prop geskiet en dinge vorder mooi tussen die twee. Boer Niel voel Mikal begin so stadigaan meer oop met hom wees. En die gevoelens neem toe.

“Ek dink ek moet jou net kom haal in De Doorns, en net, jy weet, sê ‘Pak jou goed, kom’. Dis hoe ek voel,” sê hy vir Mikal.

Later word boer Niel deur die wingerd touwys gemaak deur Marius. Na dese gaan hy beslis weet wat die verskil tussen tafeldruiwe en wyndruiwe is. Vir Mikal was dit ’n baie spesiale ervaring omdat sy kon sien hoe haar pa dit geniet het. Sy het dit ook geniet om haar wêreld met boer Niel te deel.

Op ’n houtbruggie langs die water, word die vonkelwyn se prop geskiet en dinge vorder mooi tussen die twee. Foto: Skermgreep

Ontmoet vriende en familie

Mikal voel ’n aansit-ete is nie ideaal om mense beter te leer ken nie. Sy kies pizzas vir die aand se braai met haar familie en vriende.

“Ek was benoud soos jy nie kan verstaan nie, né. Die hype is opgebou en ek hoor hoe skree die vriendinne . . . jôgh, dit was erg,” erken boer Niel.

Maar kort voor lank is die ys gebreek en hy begin verstaan hoekom die mense daar Mikal se vriende en vriendinne is. “Hulle is klás mense.”

Sus Emma hou baie van boer Niel: “Hy’s verskriklik oulik en hy pas so goed hier in hier by ons. Hy’s ’n mense-mens en ek sien, al klaar, hy is baie goed vir my suster.”

Haar vriendinne, Lize en Janka, kan nie uitgepraat raak oor hoe gelukkig Mikal lyk nie. Vriende Hugo en Christiaan is ook seker dat boer Niel lekker by hulle sal inpas en dat hy die soort ou is wat Mikal nodig het. Kollega Brahm en vriend Charles voel gerus omdat Mikal hulle verseker het sy sal goed tussen die beeste en die mielies op die plaas aanpas.

Tanja dink ook haar dogter en die boer pas goed bymekaar. Hulle lag vir mekaar en vir mekaar se grappe en sy dink ook daar’s ’n vonkel in altwee se oë.

Mikal geniet ook hoe boer Niel besig is om al hoe meer oop te maak teenoor haar. Hy erken dis ’n “m**rse’ hoë muur” maar dat hy nou besig is om daaroor te klim.

Boer Quintus (39) van Winburg, Vrystaat 

Hy het net so rondom 2 uur se ry vanaf Winburg om by Viljoenskroon sy bakkie te gaan parkeer vir die kuiertjie met Ria. En hy sien uit na die ontmoeting.

Sy vertel vir hom dat sy die tyd op die plaas geniet het, selfs al het hy heeltyd vir hulle verskillende werkies gegee om te doen. Van alles was die houtwerk die lekkerste. Dit was toe sy en Emsoné die stoel help restoureer het.

Vir Ria is dit belangrik dat boer Quintus moet besef dat sy die klein goedjies in die lewe geniet. Foto: Skermgreep

Ria dink sy en boer Quintus kan ’n wenspan vorm as hulle bereid is om van hul eie manier van doen en dink af te wyk om saam dinge te doen.

Boer Quintus is baie gretig om te sien hoe Ria se familie met mekaar is. Is hulle liefdevol en is hulle mense van wie hy kan hou?

Hy wil by Ria weet wat die dag se agenda is. Sy vra hom in reaksie daarop of hy nie iets uit sy huis mis nie want sy’t iets gegaps. Hy besef dat dit sy voorskoot is wat verdwyn het. 

Ontmoet die ouers

Teetyd met Ria se ouers, Jan en Janette, is duidelik in die kol met boer Quintus se soettand. Maar Jan is nie verniet pa van vier dogters nie. Hoe gaan hy hierdie boer takseer?

Hy wil net die beste vir sy dogters hê: “Jy wil nie ’n skollie hê op jou werf nie.”

Dit was einste Jan wat vir Ria met ’n WhatsApp-boodskap aangemoedig het om vir “hierdie ou” in te skryf. Ria het aanvanklik gedink haar pa maak ’n grap.

Janette dink die twee sal goed bymekaar pas want hulle is gewone mense wat alledaagse dinge as belangrik ag en moeite en tyd daaraan spandeer. En hulle lyk gemaklik met mekaar.

Ria is gelukkig met hoe sy boer Quintus op haar dorp ervaar en hoop dat daar meer as vriendskap sal ontwikkel. Ria stel boer Quintus voor aan Jolly Mollie en nou word dit duidelik waarom sy voorskoot saam met Ria huis toe gekom het. Hulle gaan royal icing-koekies maak!

Hy voel asof Ria hom eindelik begin verstaan en dat sy in die kol was met die koekiebakkery. Dis boonop iets wat sy dogtertjie ook sal geniet en ’n aktiwiteit wat hulle saam kan doen.

Vir Ria is dit belangrik dat boer Quintus moet besef dat sy die klein goedjies in die lewe geniet. Hy skryf haar naam met die versiersel op die koekie, maar Ria kan nie sy naam ingepas kry nie.

“So, julle hou darem van mekaar. Dankie tog,” kom dit van ’n verligte Jolly Mollie. 

Van trekker regmaak in die week tot koekies bak in Viljoenskroon, en alhoewel hy die koekies as fyn werk beskryf het, het hy dit wel baie geniet.

Omdat Ria nie seker was wat voorlê nie en of sy en boer Quintus by mekaar gaan wees wanneer dit verjaardagtyd vir hulle is nie, word daar summier ’n verjaardagkoek gebak om te geniet. En hulle kan saam die kersies uitblaas.

Ontmoet vriende en familie

Ria vestig haar hoop op ’n vrolike aand met vriende en familie en boer Quintus erken hy voel wel ’n bietjie senuweeagtig.

“Ag, hy’s vrek oulik,” besluit sus Luisa, skoolhoof Sonja en kollega Yzani. Sonja is vas oortuig die twee pas bymekaar.

Haar vriende, Steve en Ria, is ook beïndruk oor hoe hy met Ria werk en met haar praat.

“Ek dink op ons ouderdom weet mens meer wat jy wil hê. So, ek dink nie mens poer-poer net met enige oppervlakkige verhouding nie,” sê haar vriende Carla en Enrico.

Yzani merk op dat hy lekker met die mense gesels, en dis hoe sy Ria ook opsom. Ria hou van mense en sy dink die twee pas mooi bymekaar. En Louisa sê daar was beslis ’n opgewondenheid by Ria te bespeur die dag voor boer Quintus opgedaag het.

Ria se pa wens haar net ’n goeie lewensmaat toe.

“Ek moet sê, dis nogals lekker om Ria aan my sy te hê. Ek moet net go vir dit. Maar daar is definitief hierdie stemmetjie in my wat sê ‘hoorie, wees versigtig’. So, dis ’n ewige baklei in myself oor vir watter stemmetjie gaan ek luister,” erken boer Quintus. En hy erken dit was vir hom ’n goeie dag gewees.

Boer Daandré (26) van Brits, Noordwes

Van Brits na Centurion – dis waar boer Daandré hom bevind om vir Marisca te gaan kuier en haar geliefdes te ontmoet. 

Hy is opgewonde om haar te sien want al het hulle wel telefonies kontak gehad het, is dit nie dieselfde as in lewende lywe nie.

Die twee ontmoet by Aandbloem-gastehuis, ’n klipgooi van waar Marisca woon. Dis skoolvakansie en alhoewel dit ’n kort een is, word Marisca gou uitgenooi om op die plaas te kom kuier.

“Ek het ingeskryf om iemand te ontmoet vir wie ’n mens kan lief wees vorentoe en saam met wie ’n mens ’n toekoms kan sien. 

“En as ek vir Marisca moet beskryf, weet, is sy rêrig ’n mens wat 100% in ’n ding ingaan. So, sy gaan jou nie halfhartig liefhê of halfpad liefhê nie, sy gaan vir jou alles gee wat sy het om te gee,” kom dit van boer Daandré.

“Ek het regtig gebid vir iemand met ’n mooi hart en die Here het my hierdie man gewys wat 10 keer meer is as waarvoor ek gevra het. En ek kan nie wag om net meer te leer en meer te sien wie en wat hy is nie,” vertel Marisca.

Ontmoet die ouers

Boer soek 'n vrou
Van Brits na Centurion – dis waar boer Daandré hom bevind om vir Marisca te gaan kuier en haar geliefdes te ontmoet. Foto: Skermgreep

Dis tyd vir koek en tee met Marisca se ouers, Hester en Pieter. Pieter terg boer Daandré en sê dat hy spesiaal vir hom ’n koppie koffie aangedra het . . . die een met ’n bietjie arseen in.

“Jy trou nie net met die persoon nie, jy trou met al haar mense om haar. Ek sien uit om te sien wie’s haar hartsmense en hoe’s hulle en hoe’s sy om hulle,” sê boer Daandré.

Pieter sê hy kan nie bevestig dat Marisca verlief is nie, maar dat sy beslis heeltemal uit haar dop gekruip het sedert die proses afgeskop het. En hy hou van wat hy sien. Maar Pieter is ook nie een vir mooi broodjies bak nie.

“Wat is jou planne met my dogter hie’ vanaf vorentoe?” wil hy weet. Marisca wil ook weet.

“Op hierdie oomblik is dit nog half early days, ’n mens het mekaar nou eers goed geleer ken hierdie week. Dit was nogals baie overwhelming, alles wat gebeur het en als wat ’n mens moet invat. Ek sien definitief goeie dinge in die toekoms,” kom dit ewe reguit van boer Daandré.

Pieter is op ’n missie. Hy sê hy sien uit daarna om eendag oupa te word. Marisca is baie verleë, tot groot vermaak van boer Daandré.

“Ek hou huidiglik baie van hom,” erken Pieter later. 

Ná die gesellige ontmoeting, kies boer Daandré en Marisca koers na Extreme Carting in Centurion vir ekstra adrenalien. Sy’t dit gekies vir die opwinding en natuurlik ’n bietjie kompetisie.

Boer Daandré kon nie glo dat Marisca met so-iets vorendag sou kom nie. Sy hou nie eintlik van spoed nie, maar hy kon sien sy was reg vir hierdie uitdaging. Nadat sy die eerste paar rondes voorgeloop het, het boer Daandré “per ongeluk” met haar gebots en het sy in die versperring vasgery. Nodeloos om te sê, hy het as die oorwinnaar uit die stryd getree. Volgende keer gaan hy dalk nie weer daarmee wegkom nie!

Ontmoet vriende en familie

Marisca erken haar vriende en familie se opinie is vir haar belangrik. Op sy beurt wil boer Daandré net hê die ys moet gebreek word ná sy aanvanklike senuweeagtigheid.

Marisca se vriendin, Amoré, glo die twee is perfek vir mekaar en dat hulle selfs na mekaar lyk, ook dat hulle geloof baie sterk is. En vriend Janco stem saam.

Vriende Crystal en Eddie sê hulle het reeds toe hulle vir boer Daandré die eerste keer op Boer soek ’n vrou gesien het, het hulle gevoel hy is Marisca se man.

Haar kollegas Michelle en Suné vertel net hoe Marisca blom vandat sy teruggekeer het. 

“Dit straal uit haar uit en sy’s baie opgewonde oor wat die toekoms vir hulle inhou,” sê Suné.

 Eddie sê ook dat verhoudings is nie ’n 100 m-naelloop nie, maar ’n marathon.

“Dit gaan harde myle vat, jou asem gaan min raak, maar solank as daar net die ander persoon is wat ophelp en saamdra . . .”

Marisca se sus, Bianca, dink ook die twee pas bymekaar en hulle laat mekaar gelukkig lyk. En Pieter? Hy sien uit daarna om boer Daandré eendag as ’n seun eerder as ’n skoonseun te kan hê.

“Ek het ingeskryf om my vrou te kry, en ek glo vir ’n feit ek het haar gekry. ’n Mens moet nou net daai laaste bietjie van mekaar leer ken en goed, en wie weet nooit . . . een van die dae kan daar dalk iets anders gebeur, you never know,” terg boer Daandré.

Volgende week

“Dit kan ’n angswekkende ervaring wees om jou pasmaat se mense vir die eerste keer te ontmoet,” sê Marciel.

Watter indrukke het die boere so tussen alles deur gemaak? En watter stemmetjie gaan die hardste fluister vir boer Quintus?


Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
5

Totsiens, ‘Wyfie’: S2 se 5 onvergeetlike storielyne

Met die laaste sarsie 'Wyfie'-episodes op hande, kyk ons terug na vyf storielyne wat ons tydens die tweede seisoen van dié baanbrekende Afrikaanse universiteitsdrama geboei het.

Meer
Sien alle opsies