Menu terloops
In Gons [3 Sep 2024]

Kyk nou: Lokprent vir Willie Esterhuizen se nuwe komediereeks, ‘Banana Air’


’n Nuwe komediereeks uit die pen van Willie Esterhuizen, ‘Banana Air’, is binnekort op die kassie.

Kyk nou: Lokprent vir Willie Esterhuizen se nuwe komediereeks, ‘Banana Air’
Kyk lokprent

’n Laekoste-lugredery met ’n span eksentrieke lugwaardinne, twee vlieëniers, ’n senuweewrak van ’n bestuurder en sy persoonlike assistent wat hulself altyd in gekke situasies laat beland kan net een ding beteken – ’n plesiervlug met hope vermaak en skreeusnaakse oomblikke. Dís wat glo op kykers in Willie Esterhuizen se nuwe komediereeks, Banana Air wag.

Banana Air word vervaardig deur Westel Produksies, wat vir reekse soos Molly & Wors, Hester en Ester Bester, Poena en Huis Lelieveld verantwoordelik was.

Waar kom die idee vandaan?

Banana Air volg die persoonlike en professionele verhoudings van die lugdiens se lugwaardinne en vlieëniers, en elke episode is gelaai met absurde penaries en onverwagse wendings.

“Ek sit al vir jare met die idee om ’n reeks te maak oor lugwaardinne en vlieëniers. Mense het onmiddellik ’n klomp vrae wanneer iemand sê hulle is ’n lugwaardin of vlieënier. Ons almal wil dadelik meer weet van daai mense en hulle leefstyl wat so drasties anders is as ons gewone mense s’n,” sê Willie.

“Kykers kan uitsien daarna om uit te vind wat hierdie klomp kleurvolle karakters alles aanvang op tussenstoppe. Die reeks is ook heeltemal anders as enige van die sitkoms wat op die oomblik uitgesaai word. ’n Sitkom se doel is tog om mense te laat lag en te vermaak. Hierdie karakters gaan dit doen en vir ’n halfuur ’n week die kyker laat vergeet van sy of haar eie probleme,” meen Willie.

Wie’s wie?

Ons ontmoet vir Brand (Kaz McFadden), ’n nuwe vlieënier wat by die lugredery aansluit, en daar is heelwat intrige rondom sy verhoudingstatus.

Koekie (Lara Lourens), ’n energieke lugwaardin en ’n groot flirt, probeer Brand beïndruk, terwyl Hester (Liane Heyl), die meer ernstige en mededingende kollega, se verhouding met Piston (Markus Muller), Banana Air se gesoute vlieënier, haar grootliks frustreer.

Wanneer Hester ontdek dat Piston dalk nie so toegewyd is as wat sy gedink het nie, is daar behoorlik turbulensie in die lug.

Barbie Benadie (Danielle Retief) is ’n lugwaardin wat altyd op die uitkyk is vir ’n lekker tyd en ’n partytjiebestemming.

Rodney Reddy (Jai’prakash Sewram), die gestresde baas, sukkel om orde te handhaaf terwyl sy werknemers in verskeie skandale verstrengel raak, insluitend aanlyn dobbel, geheime liefdesverhoudings en hoogs onprofessionele gedrag op vlugte.

Sakkie (Matt Stern) is ’n vlieënier en Rodney se persoonlike assistent. Hy word ’n sentrale karakter in dié komedie wanneer hy ná sy egskeiding in ’n reeks nuwe romantiese verwikkelinge beland.

Terwyl die bemanning oorleef op ’n mengsel van humor, drama en lewenslesse, vind hulle hulself dikwels in die middel van onverwagte en soms rampspoedige situasies, wat veroorsaak dat sosiale media oorloop met video’s en foto’s van hul buitensporige gedrag.


Banana Air word vanaf 30 September 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies