Menu terloops
In Recaps & Resensies [20 Nov 2024]

‘Wie word ’n miljoenêr’: Uiteindelik kry Afrikaanse reeks sy eerste miljoenêr


Kennis en koelkop bly, soos aanbieder Rian van Heerden dit stel, is vanaand ryklik beloon in die 12de aflewering van kykNET se gewilde vasvraprogram, ‘Wie word ’n miljoenêr’. 

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Wie word ’n miljoenêr’: Uiteindelik kry Afrikaanse reeks sy eerste miljoenêr

Niemand kon tot dusver daarin slaag om met R1 miljoen in Wie word ’n miljoenêr weg te stap nie – maar in dié episode van die reeks het die rande gerol. 

Die ses deelnemers

  1. Riétte van Zyl (Fourways)
  2. Herman Bosman (Knysna)
  3. Winston Caligan (Upington)
  4. Yvonne van Niekerk (Kemptonpark)
  5. Stephan du Plessis (Gordonsbaai)
  6. Anton Meijer (Pretoria)

Die eerste vinnigste vingers

Die vinnigste vingers wat rolprente in die korrekte volgorde van Oscar-toekennings vir beste rolprent ontvang het, rangskik, is ook die enigste deelnemer wat in die kol is: Chemiese ingenieur Herman Bosman (47), kry dit binne 5.715 sekondes reg.

Hy haal sy eerste vangnet van R10 000 sonder sukkel en besluit op vraag 12 vir R125 000 vir sy volgende vangnet.

Vir die vraag rondom die naam van die hotel in die gruwelfliek The Shining, besluit Herman om een van sy hulplyne in te span. Gaan die gehoor se antwoord hom in die vuurwarm stoel hou? Ná hulle klaar gestem het, erken hy sy instink lei hom ook na Overlook Hotel – en hy beweeg aan na R50 000. Rillervraag om die minste te sê . . .

Sou jy die antwoord geken het op die vraag watter mini-helikopter ná 72 vlugte op Mars skade opgedoen het en nie meer kan vlieg nie? Herman besluit om nog ’n hulplyn in te span en kies die 50/50-opsie. Hy kies Ingenuity (die ander opsie was Novelty) en met daardie keuse skuif hy op na R70 000. 

Gaan hy met een hulplyn oor R125 000 in sy sak kan steek? Sy finale antwoord dat Beiroet in die 1960’s as die “Parys van die Midde-Ooste” bekend gestaan het, is in die kol!

Vir R250 000 dink hy dat Len Taunyane en Jan Mashiani belangrike geskiedkundige figure in Suid-Afrika is omdat hulle die eerste Olimpiërs van ons land was. Dit is inderdaad so – en die gehoor juig hom luid toe.

Die vraag oor watter van Kosovo, Suid-Soedan, Montenegro en Serwië eerste onafhanklikheid na 2000 verklaar het, laat Herman lank dink. Rian sê hy self haal nie meer asem nie. 

“Rian, ek dink ek gaan ’n kans vat. My antwoord is C, Montenegro. Finale antwoord,” en daarmee kan Rian net sy hande oor sy oë slaan. Hy is verstom omdat Herman nie sy laaste hulplyn hiervoor ingespan het nie.

“Vir R500 000 – die verste sover wat ons in hierdie seisoen gekom het as jy reg is – is . . . jy’s korrek!”

Selfs Herman kan sy ore nie glo nie. Montenegro het op 3 Junie 2006 onafhanklikheid verklaar. Rian kry half-verbouereerd ’n laggie uit, want daar is een vraag oor en een lewenslyn. En hy is een van die opsies. Praat van druk op iemand plaas!

Herman sê as hy sou besluit om die “Bel ’n pel”-opsie in te span, hy waarskynlik sy ma sal bel omdat sy oor baie goeie algemene kennis beskik.

“Okei, jou miljoen-rand vraag, mnr. Bosman, hier kom hy vir ’n miljoen rand: Watter relikte wat in Parys se Notre Dame-katedraal bewaar word, is ongeskonde ná die 2019-brand?”

Wie word 'n miljoener
Herman het besluit om sy ma se hulp in te span om die laaste vraag te beantwoord. Foto: Skermgreep

Herman besluit om sy laaste hulplyn in te span en dit sal sy ma, Vida, wees. Sy sê sy is 90% seker dis die doringkroon. Hy noem dat sy ma baie belese en berese is en dat as sy dink dis die doringkroon, is dit heelwaarskynlik die korrekte antwoord. Hy gaan die kans waag en speel.

Hierdie is natuurlik die eerste keer dat iemand in die Afrikaanse reeks tot by die miljoen-rand vraag uitgekom het. Rian trek sy baadjie reg en kondig baie formeel aan: “Dames en here, die korrekte antwoord is vir R1 miljoen rand . . . mnr. Bosman . . . jy is ’n miljoenêr!”

Die gehoor ontplof en die goue konfetti vul die ateljee. Herman is heeltemal oorstelp, so ook sy verloofde, Anthony.

Wie word 'n mijoener
Rian van Heerden. Foto: Skermgreep

“Dit was die doringkroon!” kondig Rian triomfantlik aan.

Herman kan net “ja, ja, ja” en ’n verbouereerde laggie uitkry.

Anthony sê hy het net gewéét dat Herman die miljoen syne gaan maak toe hy die vinnigste vingers-sessie gewen het. En hy sê hy is dankbaar dat hulle nou nie langer sulke vasvra- of algemene kennisprogramme hoef te kyk nie.

Herman sukkel nog steeds om sy woorde te vind. “My aarde . . . oef, baie, sjoe,” is al wat uitkom toe Rian wil weet hoe hy voel. “Ag, dis ook net vir my baie spesiaal dat my ma my kon help,” en daarmee nooi Rian hom uit om met sy ma te praat.

“Sjoe,” kom dit laggend terwyl sy oë baie blink. “Ja-nee, dankie vir daai, daai, daai regte antwoord daar heel op die einde . . . uhm. Sjoe.”

En daarmee word hy deur sy emosies oorweldig. Ook Rian kan sy blydskap oor dié enorme mylpaal nie beteuel nie. Dis ook vir hom ’n eerste.

Wie word 'n miljoener
Goue konfetti was die hele ateljee vol. Foto: Skermgreep

Die spel duur voort!

Met nog vyf ander deelnemers wat wag om die hul vernuf teen die tyd te toets, gaan Rian voort. En hy stel hulle gerus dat daar wel nog geld in die spaarvarkie oor is.

Die tweede vinnigste vingers

Wêreldleiers moet in chronologiese volgorde volgens ouderdom rangskik word. Dis Anton Meijer (33), ’n radio-omroeper by PretoriaFM, wat binne 6.347 sekondes sy lang stap na die warm stoel aanpak.

Anton seil deur die eerste vier vrae maar vir die R10 000-vangnet besluit hy om dit veilig te speel en een van sy hulplyne vir die vyfde vraag in te span. Hy is onseker oor watter wêreldbekende sokkerspeler in 1994 positief getoets het vir efedrien en wend hom na die 50/50-hulplyn. Die antwoord is natuurlik Diego Maradonna. Daarmee haal hy die R10 000-vangnet, tot groot blydskap van Rian.

Hy stel sy tweede vangnet op vraag 11 vir R70 000. Wie het teen Muhammad Ali geboks in die beroemde “Rumble in the Jungle” op 30 Oktober 1974? Anton besluit om sy tweede hulplyn te aktiveer: Rian . . . 

Rian dink dis Joe Frazier. Anton sukkel steeds om te besluit, tot waar hy Rian se antwoord vertrou. En dis verkeerd! George Foreman, oftewel die “grill man” soos Anton hom onthou, is die regte antwoord. 

Die einde van hierdie geskiedkundige episode breek aan, maar daar’s nog meer wat kom! 


Wie word ’n miljoenêr saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies