Menu terloops
In Wat om te kyk [18 Des 2023]

Wat om te kyk: Van die maan in ‘Rebel Moon’ na ’n musiekmeester in ‘Maestro’ en nog


Wat om te kyk: Die heel-heel-heel laaste episode van die trefferreeks ‘Billions’; ’n haas onherkenbare Bradley Cooper in ‘Maestro’; en Zack Snyder se epiese nuwe ruimtefliek ‘Rebel Moon’ tel onder vandeesweek se beste keuses, aanlyn en op TV.

Wat om te kyk: Van die maan in ‘Rebel Moon’ na ’n musiekmeester in ‘Maestro’ en nog

Wat om te kyk op TV en aanlyn te stroom hierdie week – hier is ons top-keuses vir 18 tot 24 Desember 2023. 

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Billions S7 – reeks-finale

Maandag, 18 Desember 2023, om 21:00 op M-Net en DStv Stream (kanaal 101).

Met dié episode kom dié boeiende sakedrama waarin geldgierigheid, korrupsie, mag en magsbeheptheid sentraal gestaan het, tot ’n einde. 

Die reeks het begin met die staatsadvokaat Chuck Rhoades (Paul Giamatti, so briljant soos altyd) wat jag maak op die beleggingsfondsbestuurder Bobby “Axe” Axelrod (’n ewe skitterende vertolking deur Damian Lewis), wie se sakebedrywighede vir Rhoades snuf in die neus laat kry. In die sesde seisoen was daar egter ’n nuwe baas op die plaas – Mike Prince (House of Cards se Corey Stoll). En sy bewind was geensins minder verdag nie… 

In die spanningsvolle finale episode van beide die sewende seisoen en die reeks as geheel, is alles op die spel vir Chuck, Axe en Prince as die “oorlog” tussen hulle uiteindelik tot ’n klimaks gedryf word. 

Die reeks is deels gegrond op die werklike vervolgings van finansiële en sake-misdrywe deur die voormalige New York-staatsadvokaat Preet Bharara.

Maestro

Vanaf 20 Desember 2023 op Netflix.

Dié biografiese drama draai om die epiese, en soms hartverskeurende, problematiese, liefdesverhaal tussen die Amerikaanse komponis Leonard Bernstein en sy vrou, Felicia Montealegre. 

Bradley Cooper vertolk nie net die hoofrol as Leonard teenoor Carey Mulligan as Felicia nie, maar hou ook die regie-teuels vas. Hy het ook die draaiboek saam met Josh Singer geskryf.

Hoewel die casting van beide Cooper en Mulligan om verskeie redes gekritiseer is, is die res van die rolverdeling ’n skatkis van talent met onder meer Matt Bomer en Maya Hawke in ondersteunende rolle. 

As geheel is die fliek ’n liefdesbrief aan ’n grootse liefde – en die ontsaglike leed wat met só ’n besonderse liefde gepaardgaan. 

Max Weiss van Baltimore Magazine beskryf dit só: “Maestro is nie ’n volledige portret van Bernstein nie – hoe kan dit wees? Die man het ’n ongewoon vol en ryk lewe gelei. Maar dit word pragtig aangebied, en pragtig gespeel, en ons word binne Bernstein se wêreld deur dié meesleurende liefdesverhaal gelok.”

Trevor Noah: Where Was I

Vanaf 19 Desember 2023 op Netflix beskikbaar om te stroom.

Blessed be! Dis lekker om vanjaar so baie van Trevor Noah te sien, te hoor en te beleef. Nie net het hy ’n heerlike nuwe podcast (What Now?) nie, maar sy vierde stand-up special vir Netflix, Where Was I, is ’n feestydbederf.

As jy vroeër vanjaar die geleentheid gehad het om een van sy plaaslike shows by te woon, sal jy van die grappe herken (soos daai lagwekkende voorval waarin sy bagasie op ’n lughawe verlore gaan). Where Was I is dan meestal ’n versameling van sulke stories – van sy reise oor die wêreld heen, die mense wat hy ontmoet het, en die kultuurnormes wat hom laat kopkrap het. Als natuurlik deur sy eiesoortige, analitiese lens wat die levity en potensiaal vir connection in selfs die moeilikste onderwerpe kan raaksien.

World on Fire S2

Vanaf 20 Desember 2023 op Showmax beskikbaar om te stroom. 

Dit is nou wel vier jaar ná die bekroonde eerste seisoen uitgesaai is (dankie, Covid-19!), maar World on Fire is terug vir ’n tweede seisoen.  

World on Fire se vertelling draai om die Tweede Wêreldoorlog met die tweede seisoen wat tussen 1940 en 1941 afspeel. Dit storie neem ons dus na die oorloggeteisterde strate van Brittanje en die begin van die Blitz-aanval in Manchester, tot diep in Nazi-Duitsland, die weerstand binne besette Frankryk en die dorre Noord-Afrika woestyn. 

Hoewel die reeks ’n groot ensemble-rolverdeling het, is dit veral Jonah Hauer-King en die Oscar-benoemde Lesley Manville wat uitstaan. 

Die tweede seisoen het ook 100% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met The Guardian wat dit as “totaal en al aangrypend” beskryf. Hul 4-ster-resensie lui: “Hierdie uiters ambisieuse poging om die oorlog deur die lewens van gewone mense te wys, het ’n onberispelike begrip van spanning en karakter. Om dit te kyk, is om ten volle in hierdie mense se lot te belê.”

Rebel Moon Part 1: A Child of Fire

Beskikbaar vanaf 22 Desember 2023 op Netflix.

Zack Snyder (300, Batman vs Superman, Justice League) is die regisseur en medeskrywer van dié space opera. Nee, niks gesingery nie, dis ’n genre wat draai om space warfare en gewoonlik baie melodramaties – en epies – van aard is. 

Kora (Sofia Boutella) begin ’n nuwe lewe as deel van ’n vreedsame nedersetting nadat sy op ’n maan in die verste uithoeke van die heelal neerstort. Maar wanneer Veldt, haar nuwe tuiste, deur ’n tiraniese mag bedreig word, word Kora dié dorpie se onwaarskynlike en beste hoop op oorlewing. Om die mense van Veldt te beskerm, reis Kora en Gunnar (Michiel Huisman), ’n boer wat nie veel van oorlog weet nie, na verskillende wêrelde om die sogenaamde Bloodaxes, ’n groepie krygers, op te spoor om hulle te help. 

Ook in die rolverdeling is Charlie Hunnam as Kai en Djimon Hounsou as genl. Titus. 

Rebel Moon – Part Two: The Scargiver, sal na verwagting in April 2024 uitgereik word.

Ook nuut hierdie week:

Vanaf 18 Desember 2023:

Bridget Jones’ Baby, Showmax 
Bridget Jones: The Edge of Reason, Showmax 
Younger S1-7, Showmax 
Guardians of Time, Showmax 
Christmas in the Caribbean, Showmax 
Santa’s Got Style, Showmax 
The Super Mario Bros. Movie, Showmax

Vanaf 20 Desember 2023:

How To With John Wilson S3, Showmax
Love is Blind Brazil: After the Altar, Netflix
Like Flowers in Sand, Netflix 
Cindy la Regia: The High School Years, Netflix 
Taming of the Shrewd 2, Netflix 
Temptation Island USA S5, Showmax
Tulsa King S1, weeklikse episodes om 22:00 op Me (kanaal 115) en DStv Stream
Special Forces: World’s Toughest Test S1, Showmax 

Vanaf 21 Desember 2023:

Annika S2, BritBox
Supa Team 4 S2, Netflix 
Epic Tails, Showmax
A Royal Christmas Surprise, Showmax  
Christmas Down Under, Showmax  
Christmas Unfiltered, Showmax 
The First Noelle, Showmax  
And Just Like That S2, weeklikse episodes om 22:00 op Me (kanaal 115) en DStv Stream 

Vanaf 22 Desember 2023:

Gyeongseong Creature: S1 Deel 1, Netflix 

Vanaf 24 Desember 2023: 

A Vampire in the Family, Netflix
The Manny, Netflix
Magic Mike’s Last Dance, om 20:05 op M-Net (kanaal 101) en DStv Stream

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies