Wat om te kyk op DStv in Februarie – hier is ons top-keuses.
Let wel: datums, tye en vertonings kan verander. Hierdie skedule is slegs vir SA DStv-intekenare. Vir die volledige skedule en besonderhede oor reekstye en die betrokke kanale, kliek hier.
Tarzan van George
DeWet du Toit koester al 12 jaar lank net een groot droom: Hy wil Tarzan op die silwerdoek speel. Baie mense dink dis ’n verregaande droom, maar dié boorling van George werk nou al etlike jare om dit in ’n realiteit te verander. Die video’s van die Tarzan-kortfilms wat DeWet vir sy YouTube-kanaal met 207 000 intekenare maak, het al ’n verstommende 50 miljoen kykslae gehad. So ja, dis ernstige sake dié.
Tarzan van George is ’n dokkiereeks wat dan draai om DeWet en sy pogings om Hollywood se volgende Tarzan te word. Die reeks is deur Rian van Heerden vervaardig – ook die vervaardiger van reekse soos Sex in Afrikaans, Bolhuis en Die siener. Van Heerden is al jare lank met DeWet se storie bekend, en het hom sowat drie jaar gelede genader met die idee om ’n dokumentêre reeks te maak.
Die reeks bestaande uit vyf episodes kyk ook na die geskiedenis van Tarzan oor die jare. Kykers reis later saam met DeWet na Los Angeles waar hy die bekende Hollywood Boulevard in sy Tarzan-kostuum besoek.
Tarzan van George begin op Sondag 26 Februarie 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook DStv Online.
Mooiweer en warm
Mooiweer en warm, met onder andere Beer Adriaanse, Carla Smith en Brümilda van Rensburg in die rolverdeling, is uit die pen van die veelbekroonde skrywer Paul C. Venter. Venter is bekend vir trefferreekse soos Arende, Konings en Vlug na Egipte.
Die reeks is een wat draai om klein dorpie-drama. By ’n doodgewone kerk in die Hoëveld sukkel dominee Issie om die kerk se koffers vol te kry. Dis juis hoekom sy instem om ’n gereelde Saterdag-mark op die kerk se gronde te hou. Ons volg die lewens van hierdie naweek-smouse en kry só ’n intieme blik op hul lewens. Maar dan kry hulle nuus oor iets haas ondenkbaar – die dorp se dam gaan dalk bars en die nagevolge kan katastrofies vir hulle wees.
Smith is in die rol van Cezanne Dippenaar, ’n geoloog wat vir Geo Solutions werk en wie se verslag dié moontlike ramp voorspel. Ander karakters sluit in Meyer Basson (Adriaanse), ’n jong ouderling in die kerk en ’n voëlkenner wat boeke en sketse by die vlooimark smous, asook Berta Engelbrecht (Antoinette Kellerman), ’n ou hippie wat boeke by die mark verkoop.
Die reeks het 13 episodes en is deur Nagvlug Films vervaardig. Dis dieselfde span van Dinge van ‘n kind, Nêrens, Noord-Kaap en Hotel.
Mooiweer en warm begin op Dinsdag 7 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online. Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.
The Tourist S1
’n Noord-Ierse man word met geheueverlies in ’n Australiese hospitaal wakker. Hy het geen idee wie hy is of hoe hy daar beland het nie. Al wat hy weet is dat iemand hom wil dood hê. Só begin sy pogings om sy identiteit te ontsyfer voordat sy verlede hom inhaal.
Dié riller-drama sien vir 50 Shades of Grey se Jamie Dornan in die hoofrol. Die reeks, wat reeds vir ’n tweede seisoen hernu is, het ’n punt van 97% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. Die kritici-konsensus lui: “Jamie Dornan is ’n boeiende gids in The Tourist, ’n meesleurende drama wat sy misterie met sowel deeglike skokke, as lawwigheid verdiep.”
Weeklikse episodes op Woensdae vanaf 1 Februarie om 22:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Online.
After the Trial S1
Die premis van After the Trial (ook in sekere lande as After the Verdict bekend) is een wat wys op die feilbaarheid van die mens en ons besluite. Die Australiese drama draai om vier jurielede wat, nadat die hofsaak waarin hulle ’n vrou van moord vrygespreek het tot ’n einde kom, wonder of hulle die regte besluit gemaak het. Die viertal besluit dan om hul eie ondersoek van stapel te stuur, maar dolwe só hul lewens geheel en al om.
Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 16 Februarie op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Online.
FBI S5
Die vyfde seisoen van dié über-gewilde misdaadreeks keer terug met onder andere Missy Peregrym en Zeeko Zaki in die rolverdeling. Die duo is as FBI-agente Maggie Bell en Omar Zidan deel van die FBI se New York-kantoor. Die vyfde seisoen sien weer hoe hulle midde persoonlike dramas keer op keer die stad van moord, dood en terreur moet red.
Weeklikse episodes vanaf Dinsdag, 28 Februarie om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Online.
Gaslit S1
Gaslit, met Julia Roberts in die hoofrol, is ’n vernuwe vertelling van die Watergate-skandaal wat in die 1970’s afgespeel het. Dié kombinasie van politieke drama en satire is gegrond op die eerste seisoen van Leon Neyfakh se podcast, Slow Burn. Dit fokus op dele van die storie wat nog redelik onbekend is, waaronder die rol wat sekere fluitjieblasers gespeel het om president Richard Nixon vir sy misdrywe te laat boet.
Die spil draai hoofsaaklik om Roberts se karakter, Martha Mitchell. Mitchell was, ten spyte van haar man se posisie as prokureur-generaal in die Withuis, een van die eerste mense wat hardop Nixon se betrokkenheid by Watergate uitgewys het. Dié besluit het nie net politieke gevolge gehad nie – haar persoonlike lewe het ook ontrafel. Die reeks het ’n punt van 89% op Rotten Tomatoes met die Financial Times wat Roberts se spel as “magneties” bestempel. The Age se resensie lui: “Gaslit mag dalk na Watergate met ’n nuwe lens kyk, maar die lesse is steeds geweldig relevant.”
Weeklikse episodes vanaf Maandag, 13 Februarie, om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Online.