Menu terloops
In Onderhoude [5 Mei 2022]

TV-veteraan Kevin Smith oor ‘Troukoors’: Uitdaging om ‘iets só eg’ te speel


Die veteraan-akteur Kevin Smith is ’n bekende gesig op TV. In ‘Troukoors’ is hy Abi (Bianca Flanders) se pa, Karel, en met Nathan (Melt Sieberhagen) in ’n verhouding.

Kyk nou

TV-veteraan Kevin Smith oor ‘Troukoors’: Uitdaging om ‘iets só eg’ te speel
Kyk lokprent

Ons het vir Kevin Smith doerie jare terug as Andrew op Egoli leer ken voordat hy rolle in onder meer Isidingo, Suidooster, die Showmax-reeks Skemerdans, en selfs Quentin Tarantino se flieks From Dusk Till Dawn 2 & 3, vertolk het. In Troukoors, is hy Abi (Bianca Flanders) se pa, Karel, en met Nathan (Melt Sieberhagen) in ’n verhouding.

Oor sy karakter, Karel

Karel is ’n self-made man. Hy het baie goed in die IT-bedryf gedoen, en ja, goeie geld vir homself gemaak. Hy is baie suksesvol. Hy was getroud (met ’n vrou) want die samelewing sê dít is hoe dit moet wees en hy kon nie uit sy kassie uitkom nie. So, dit was weggesteek. Maar hy het op ’n punt gekom waar hy nie meer saam met daai leuen kon leef nie. Hy het vir Nathan ontmoet en Nathan was net so ’n sterk trekpleister. Hy staan sy man en hy maak nie verskonings vir wie hy is nie. Karel het ’n pragtige dogter, Abi, wat op een vlak sy oogappel is, maar ook die bane of his existence. (lag)

Hy is ’n komplekse karakter. Hy is ’n komplekse mens. In een van die tonele vra hy vir Nathan, ‘Is ek ’n slegte gay? Is ek nie ondersteunend van gay mense nie, omdat ek soveel jare in die kas en nie weet waar my lojaliteite lê nie?’

Maar ek het ook in my eie kop gedink, Karel is nou bevry. Deur uit te kom, is hy bevry. Dit gee vir hom die vryheid om te wees wie hy wil wees. Hy veroordeel nie homself nie, en hy het hierdie besluit gemaak al kom hy van ’n agtergrond waar jy stil daaroor moet wees, want dis taboe in die samelewing, en hy kon besigheid verloor het. Mense is bevooroordeeld. Hulle dink as jy gay is, is daar iets missing.

En dan is daar ook die kompleksiteit van die blended family, want beide Karel en Nathan het kinders. So, hulle is ook pa’s. Dis nie dat hulle gay is en dus is ouerskap nie vir hulle belangrik nie. Inteendeel. Hulle het hul kinders wat hulle moet help en ondersteun. So, dis al daai goed. 

Oor die rol

Dit is vir my so ’n wonderlike ding om so ’n rol te speel. Die meeste van die rolle wat ek al in my loopbaan gespeel het, is baie…what you see is what you get. Die karakters was baie twee-dimensioneel. Hier kon ek baie met die rol speel. Absoluut. Dit is definitief vir my ’n uitdaging om so iets te speel en wat vir my belangrik is – en ek hoop ek kry dit reg, ons sal maar sien – is om enige clichés te vermy. 

Ek het al so baie geleenthede in my lewe gehad om wonderlike rolle te speel, en hierdie karakter is iets wat ek nog nooit gehad het nie. Ek het dit en dat in sepies en wat en wat en wat gedoen, en jy weet die karakters is min of meer dieselfde, maar hierdie is só ver verwyder van enigiets wat ek al gedoen het. Dit is vir my ’n uitdaging om iets wat eg is, wat nie ’n karikatuur is nie, om daardie karakter te vind en dan in daardie wêreld te speel. It is a stretch for me. Dit is iets wat, vir my as akteur, definitief lok. Ek hou altyd van ’n uitdaging en dit kom min. 

Oor die reeks se uitbeelding van verhoudings en families 

Dit gee ons die geleentheid om die vrae te vra van hoe ’n blended family werk. Hoe vervul mans – wat nie vroue het nie – al daai rolle in die familie. Wat is die rolle wat hulle moet speel? Want die samelewing sê vir ons, ‘dís hoe mans moet wees en doen, en dís wat vroue moet wees en doen.’ En hier breek ons die reëls. Dis vir my wat so stunning van hierdie projek is. 

Mense het soveel keuses in terme van wat om te kyk. Maar as kykers is ons meer gesofistikeerd as wat ons was. Ons het volwasse geraak deur sosiale media en al daai dinge. En dis lekker om te dink dat ons wél gevorder het in die stryd om vooroordele af te breek. Dis hoekom ek dink kykers daarvan sal hou. Dit is boonop ’n interessante premis, die hele idee daarvan om dit teen die agtergrond van verhoudings en troues te laat afspeel. Dis ’n ontdekkingsreis. 

Oor werk met Nina Swart, regisseur

Nina is beautiful. Dit is die eerste keer wat ek saam met haar werk en haar manier van werk is so positief en daar is so baie energie wat sy saam met haar bring. Dis wat ons as ’n span saam hou. Dis ook daai ding van, as jy ’n rol aanpak wat só kompleks is, moet jy jou regisseur kan vertrou. Sy sal vir jou leiding gee. Want jy weet nie altyd nie en die laaste ding wat ek wil doen is om ’n cliché te skep.

Hoeveel van sy eie liefdeservaring hy in die rol geploeg het

Ek sal vir jou eerlik sê dat elke verhouding wat ek in my lewe gehad het anders was. Verskillende mense lok verskillende dinge in jou uit. Ek dink dit is die pragtige ding van verhoudings. Dit gee jou ’n kans om iets nuuts oor jouself te leer. Hierdie Nathan en Karel karakters, hulle kom van verskillende agtergronde. Heeltemal uiteenlopend, maar hulle kan mekaar liefhê. En dít is die ding. Dit is die beautiful ding en ek dink dit is ook die belangrike ding van hierdie hele storie wat ons vertel. The ability that we have to bridge our differences and to love one another for the differences. Eerder as wat jy dieselfde moet wees, kies eerder dit wat verskillend is om liefde te vind.

Maar al die karakters, die Luca-karakter, die Jessica-karakter, met die Abi-karakter – die drie vroue wat in my lewe is, hulle is so anders en hulle maak ook verskillende keuses oor op wie hulle verlief raak, kies om mee ’n verbintenis te smee of ’n verhouding mee te hê.

My dogter is all over the place. Sy weet nie waar en hoe om haarself te vestig nie. Sy soek voortdurend goedkeuring. Op ’n sekere vlak spreek dit tot hoe die grootste manlike invloed in ’n vrou se lewe beïnvloed op hoe hulle dan met ander mans omgaan. Dis die pa-dogter-verhouding. 

Oor sy ervaring op die Troukoors-stel 

Gemeenskap. Eenheid. Ek werk met ’n groep mense wat almal dieselfde doel het en ons is almal daarop gefokus. As jy ’n groep mense het wat saamkom met ’n spesifieke fokus en doel voor oë, word dit wat hulle kan vermag iets ongelooflik. En dis wat ons hier het. ’n Groep met soveel talent. Daar is ’n oorvloed van talent en vermoëns wat saamgetrek is, tesame met ’n skryfspan wat reeds bewys het dat hulle sulke niche storievertelling kán doen en met só ’n fynbesnaarde look. Alles wat hulle doen, dit lyk fokken pragtig!

Dit is die eerste keer wat ek met hierdie span werk, my eerste keer wat ek met Nina (Swart) werk. Ek ken hulle glad nie. Melt is die enigste persoon, eintlik. En Ilse Roos. Ons het ook saam op Egoli gewerk. So, daar is ’n paar mense, ons loop mekaar nou raak loop, nou dat ons ouer akteurs is, wat altyd interessant is. 

Oor sy jare en jare se ervaring en liefde vir toneelspeel

Ek was ’n ander mens. Daar was heeltemal ander dinge wat gebeur het. En as jy ’n jong akteur is, en ek sien nou, die jong akteurs met wie ek werk, daar is daai energie, daardie pragtige energie aan die begin van jou loopbaan. Ek onthou toe ek nog in die begindae van my loopbaan was, daardie opwinding om te werk met mense soos Sandra Prinsloo, met Marius Weyers, met Christine Basson, met Shaleen Surtie-Richards, met daai mense. En nou is jy daai mense en die jong akteurs kyk op na jou, want jy het jou ding gedoen. 

Ek raak so opgewonde oor alles wat ek doen. Maak nie saak wat dit is nie. Die regte geleenthede kom na my toe. En ek glo ook daar is ’n destiny waarvoor jy bedoel is. Jy kan altyd kies of jy dié kant of daai kant toe wil gaan, maar daar is iets wat vir jou die pad wys. En in my loopbaan was ek so gelukkig dat ek nooit regtig sonder werk gesit het nie. Daar was nog altyd werk vir my. En dit is selde dat ’n akteur kan doen waarvoor hul lief is, en dan nog vir die res van hul lewe. In daai opsig was ek nog altyd baie bevoorreg. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies