Menu terloops
In Recaps & Resensies [21 Feb 2023]

‘True Spirit’ is ʼn goedvoel-fliek wat menslike gees vier


Die ware lewensverhaal ‘True Spirit’ op Netflix is dalk effens versuiker vir ʼn massagehoor, maar die kern van die tiener-avonturier Jessica Watson se storie, wat kort voor haar sewentiende verjaarsdag ʼn alleenreis om die wêreld in ʼn seilbootjie voltooi het, bly eg.

Deur Riëtte van der Wat
‘True Spirit’ is ʼn goedvoel-fliek wat menslike gees vier
Kyk lokprent

Die kanse is goed dat jy reeds presies weet wat om te verwag as jy kies om True Spirit op Netflix te kyk – ʼn fliek oor ʼn tienermeisie wat die onmoontlike vermag ten spyte van uitdagings wat onoorkombaar sou lyk vir die gemiddelde sterfling. Soveel so, dat as dit nie was dat dit régtig gebeur het nie, sou die fliek se storielyn ongeloofwaardig wees.

Maar in 2010 het die sestienjarige Australiër Jessica Watson werklik die jongste mens geword om sonder bystand om die wêreld te seil – bykans 18 582 seemyl (sowat 34 308km!) oor 210 dae. My moederhart sidder.

Jessica se biografie, True Spirit, was die inspirasie vir die Australiese regisseur Sarah Spillane se gelyknamige rolprent oor hoe Jessica stoksielalleen uit die Sydney-hawe vertrek en die Stille Oseaan, Atlantiese- én Indiese Oseane stoksielalleen deurkruis het.

Die draaiboek, deur Spillane, Cathy Randall en Rebecca Banner, hou grootliks by die ware gebeure, met ʼn paar verbuigings en byvoegings om die storie meer dramatiese oemf te gee.

Goedvoel gesinsfliek

True Spirit is ʼn goedvoel-gesinsfliek in elke cliché-sin van die woord. Dis juis om dié rede dat dit gewild gaan wees onder kykers, ongeag wat kritici te sê het oor die suikersoet versiersuiker wat oor die storie gesmeer is. Daar is uitdagings op die jong avonturier se pad en hoewel die fliek ligweg aan sommige raak, word sekere onderwerpe (finansiering byvoorbeeld) grootliks geïgnoreer.

Die fliek ignoreer ook die feit dat die Wêreld Seilspoedrekordvereniging bevind het dat Watson nie in ag geneem kan word vir dié rekord nie. (Dít dan omdat sy nie die minimum van 21 600 seemyle geseil het om aanspraak te maak op die feit dat sy om die wêreld gevaar het nie.) Jessica het detyds op haar blog geskryf: “If I haven’t been sailing around the world, then it beats me what I’ve been doing here all this time.”

Die belangrikste tema – wat wél goed belig word – is egter hoe ʼn jong vrou talle stereotipes kon oopbreek en met oneindige harde werk en ʼn ysere wil dit reggekry het om haar drome na te jaag.

Taal van die see

Jessica (as dogtertjie gespeel deur Alyla Browne en as tiener deur Teagan Croft) word groot in ʼn groot, liefdevolle gesin. Haar pa Roger (Josh Lawson) en ma Julie (Anna Paquin) doen alles wat hulle kan om hul disleksiese middelkind te help om dié uitdaging te oorkom. Maar ten spyte van haar disleksie, kon Jessica die taal van die see van kleins af lees.

Hulle is ʼn gewone gesin (maar ook eintlik nie, want hulle het onder meer vir vyf jaar op ʼn boot gewoon en later vir ʼn tyd lank op ʼn dubbeldekkerbus) en die verhouding tussen die sibbe sal die hardste hart laat smelt. Haar ouers ondersteun ook haar talent mateloos. Jessica oortuig dan ook ʼn nukkerige buitestander Ben Bryant (Cliff Curtis) om haar seil-afrigter te wees. Dié karakter is ʼn samevoeging van ʼn klomp mentors en afrigters wat ʼn rol gespeel het in Jessica se droom.

Daar is ook ʼn skeptiese joernalis, Craig Atherton (Todd Lasance), wat die simbool word vir almal wat in Jessica en haar ouers getwyfel het – en ook deur haar oorrompel is.

Pretensielose avonturier

Croft se vertolking van Jessica is empaties en geloofwaardig. Dis nou buiten vir haar mooi blonde hare wat vir die duur van die fliek silwerskoon en uitgeblaas is. In foto’s van Jessica destyds op haar bootjie, lyk sy maar afgemat. Maar dis Hollywood dié. Netjiese hare ten spyt, is Croft (16 toe die fliek verfilm is) pretensieloos wanneer sy in Jessica se skoene klim.

Sy en Jessica het saam gaan seil sodat sy die vrou kon leer ken op wie sy haar vertolking moes grond. Die ironie, het sy later aan In Style Australia verklap, is dat sy baie seesiek word. Dié feit het sy eers met die produksiespan gedeel toe hulle die eerste keer aan boord die seiljag moes verfilm.

Croft, nou 18, was besig met haar graad 11-jaar aan Sydney High School for Girls terwyl die fliek geskiet is. Kort daarna was sy in graad 12 tydens die verfilming van die DC Comic-reeks Titans, waarin sy Raven vertolk. Sy verstaan dus, nes haar karakter, iets van wegstap van die alledaagse lewe om jou droom na te jaag.

Jessica se storie is baie menslik en eg. Sy was op haar blog eerlik oor die hoogte- én laagtepunte van haar reis; veral oor die eensaamheid en moedeloosheid wat haar soms gepak het. ’n Mens sien dit ook in die fliek en deur Croft se vertolking.

Massiewe golwe, massiewe wilskrag

Die verhaal word voortgedryf deur terugflitse na Jessica se kleintyd, waarin ʼn mens haar as ʼn go getter wat kan vasbyt leer ken. Spillane het gekies om die chronologie van die see-reis te vertel deur spronge oor etlike weke – dit voorkoming verveling.

Die spesiale effekte is doeltreffend en dramaties. Jy hou vas aan jou hart as die golwe rondom die piepklein pienk bootjie breek. Een van die mooiste skote is van die ontelbare sterre in die donker naghemel wat in die nag om Jessica se bootjie in die eindelose oseaan weerspieël word.

Die grootste ster is egter die menslike gees, wat keer op keer triomfeer te danke aan niks anders as baie, baie, baie harde werk en deursettingsvermoë nie.


True Spirit is nou op Netflix beskikbaar om te stroom.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies