“We’re not gonna be friends anymore, Debbie” uit die nuwe romantiese komedie Your place or mine het dalk pas die frase geword wat ʼn nuwe (gemaklike, bekende?) era van romantiese komedies in 2023 inlui. Dié romkom, met Ashton Kutcher en die immer stralende Reese Witherspoon in die hoofrolle, is pas op Netflix vrygestel – net betyds vir Valentynsmaand.
Die afgelope paar jaar het die genre verval in ’n vreemde kombinasie van kru humor, swak draaiboeke en ongeloofwaardige hoofkarakters wat deur akteurs sonder enige vonk vertolk is.
Verby was die dae van Tom Hanks en Meg Ryan in flieks soos You’ve got mail; Julia Roberts en Richard Gere in Runaway Bride en Matthew McConaughey en Kate Hudson in How to lose a guy in 10 days.
Die plaasvervangers wat die afgelope paar jaar aan aanhangers van die romantiese komedie opgedis is, het ʼn mens meestal laat voel jy is met ʼn WhatsApp deur die liefde van jou lewe afgesê. Leeg, doelloos. Plat.
Verlede jaar se Ticket to Paradise met Julia Roberts en George Clooney was soos ʼn verlepte angelier in sellofaan. Of ʼn sjokolade-hart wat in die tropiese son gesmelt het. Daai onmiskenbare “iets” wat ʼn romantiese komedie laat werk, was net nie daar nie.
Om nie eers te praat van die sakke vol goedkoop spookasem romanses wat die afgelope paar jaar vir die stromingsplatforms aanmekaargeflans is nie.
So toe dié fliek se voorprent begin draai het, was ek skepties. Het Hollywood die resep vir romantiese komedies vir goed verloor? Of het hulle dit iewers in ʼn kartonboks vol liefdesbriewe aan die genre gaan opdiep?
Nét wat jou hart begeer
Die antwoord is ja! ʼn Duisend maal ja! Minstens grotendeels. Want al is Your place or mine nie perfek nie, is dit presies wat ʼn mens wil hê as jy ʼn romantiese fliek begin kyk. Van sjarmante swaargewig sterre wat nie veel hoef te doen om ʼn mens oor jou voete te laat val nie (Kutcher lyk op 45 beter as ooit en Witherspoon kan seker met haar fortuin die elikser van ewige jeug in haar yskas bêre); tot mooi liggings – in hierdie geval Los Angeles en New York – en byspelers wat roosblare oor die hele affêre met hul kwinkslae sprinkel.
Dis lekker om vir ʼn slag meer volwasse hoofkarakters te sien, eerder as twintigplussers – selfs al het Witherspoon en Kutcher onlangs die skindernuus gehaal omdat hulle effens ongemaklik langs mekaar gelyk het op ʼn rooitapytgeleentheid vir die fliek. Kutcher het later teruggehap enigiets wat hulle op die rooitapyt sou doen, verkeerd geïnterpreteer sou word… So hy voel ʼn veer! En Witherspoon het gerugte van vyandigheid afgelag.
Ongelukkig bring hul karakters die grootste deel van die fliek apart deur. Meer tyd saam op die skerm, in dieselfde vertrek, sou nie ʼn slegte idee gewees het nie. Tog werk die skrywer en regisseur Aline Brosh McKenna se gebruik van langafstandtelefoongesprekke en Debbie se PostIt’s om die nodige spanning te skep.
Die storie
Debbie en Peter is langafstandvriende vir solank enige van hulle kan onthou. Hulle gesels elke dag, maar hulle woon in ander stede en sien mekaar selde. Tog weet hulle (meestal) alles van mekaar se lewens.
Witherspoon is een van die fliek se vervaardigers en sy speel Debbie, ʼn beheervraat-enkelma wat ʼn langverwagte week in New York gaan deurbring om ʼn finansiële kursus aan ʼn universiteit by te woon. Kutcher is Peter, ʼn suksesvolle sakekonsultant. Hy bied aan om vir die week Debbie se seun Jack (Wesley Kimmel) in LA te gaan oppas. Terwyl hy in haar knus gesinshuis vol kleur en kasserolle gaan woon, kan sy in sy super-luukse, maar onpersoonlike, woonstel in New York intrek.
Die twee is altyd in mekaar se wentelbaan, maar selde fisiek bymekaar. ’n Mens weet wel daar is meer onder die oppervlak aan die gang. Ek gaan nie meer verklap nie, kyk eerder self.
ʼn Warm Witherspoon en Kutcher se kuif
Witherspoon is Witherspoon, is Witherspoon, as Debbie. Dis ʼn terugblik na al haar vorige romkom-rolle, waaronder Sweet Home Alabama en natuurlik Elle Woods in Legally Blonde, en tog is daar niks stowwerig aan dié nuwe karakter nie. Die aktrise bly ʼn warm, gemaklike teenwoordigheid met wie tientalle kykers sal kan vereenselwig.
Kutcher glip gemaklik in die rol van Peter, wat van sy hart weggehardloop het. ’n “Rolling stone that gathers no moss”, soos hy gereeld herinner word. Met daai kuif en daai glimlag en dáái kakebeen en sy sex appeal en warmte, is hy presies wat ʼn mens in ʼn romantiese held wil hê. Dalk nie altyd wakker genoeg om te besef wat reg onder sy neus is nie, maar so sag en soet soos ʼn malvalekker van binne.
Heerlike byspelers
Daar is ook meestal in goeie romantiese komedies fantastiese sidekicks. Dit is iets wat Your Place or Mine fantasties regkry. Zoë Chao is een van Peter se ekse, Minka, en die aktrise verlustig haar in die karakter se matelose selfvertroue en millennial-energie. Die kits-vriendskap wat tussen Minka en Debbie ontstaan is geloofwaardig danksy die aktrises se warm uitbeelding. Daar was lanklaas so ’n lekker best friend-rol.
Maar tuis in LA is Alicia (Tig Notaro), een van Debbie se beste vriendinne. Met haar kurkdroë wyshede en koffie-verslawing maak sy vir Peter én Debbie ʼn ding of twee wys. Notaro is ʼn stand-up komediant en perfek vir dié rol.
Wesley Kimmel (Jimmy Kimmel se nefie) is Debbie se arme opgepiepte seun, wat vir alles en nog wat allergies is. Hy en Kutcher speel lekker teenoor mekaar as Peter hom oor die seun ontferm.
Ander bekende akteurs wat ʼn draai maak is Steve Zahn as Debbie se superryk buurman Zen, wat gedurig in haar tuin werk. Ook Jesse Williams (ja, dr. Avery met die deurdringende oë van Grey’s Anatomy) as Theo, ʼn sexy New Yorkse uitgewer wat kompetisie vir die onbewuste Peter is.
Voorspelbaar… Maar dis wat ons wil hê
Die storielyn is dalk hier en daar waserig, soos ʼn romantiese droom. En die gebeure so voorspelbaar soos ʼn Mills&Boon, maar dis okei. Op die ou einde kry ʼn mens presies wat jy nodig het: ʼn gelukkige einde, celebs met great hare en hakke (Witherspoon trippel deur New York met haar Swedish Hasbeens asof sy op wolke loop) en die belofte dat daar dalk tόg nog hoop is vir ou-skool romantiese komedies en dié flieks se kykers, wat nes Witherspoon en Kutcher nie meer nat agter die ore is nie.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →