Menu terloops
In Onderhoude [20 Des 2021]

‘Troukoors’ se Luca is vlot in Klingon, maar vrot met sake van die hart…


‘Troukoors’ se drie leading ladies gee ’n blik op die kompleksiteit van vrou-wees, meen Blyde Smit, wat die rol van Luca in dié Showmax-romcom vertolk.

Deur Rozanne Els

Kyk nou

‘Troukoors’ se Luca is vlot in Klingon, maar vrot met sake van die hart…
Kyk lokprent

Blyde Smit vertolk die rol van Luca, Jessica (Ilse-Lee van Niekerk) se jonger sussie in die Showmax-romcom, Troukoors. Luca is ’n bietjie van ’n geek, vlot in Klingon, en ’n “loskop” as dit by hartsake kom. Smit is ’n bekende gesig op die kleinskerm – sy het naam gemaak as die tienjarige Kate in die eerste twee seisoene van die dramareeks Erfsondes en was meer onlangs in die sepie 7de Laan as Gabby. Haar liefdesbelangstellings in Troukoors word onder andere deur Andahr Cotton en Evan Hengst vertolk.

Oor haar karakter, Luca 

Ek geniet dit ongelooflik baie om Luca te speel. Sy is bietjie alternatief, en sy is baie geïnteresseerd in geeky goed. Sy kan Klingon (’n opgemaakte taal uit Star Trek) praat, sy speel Dungeons & Dragons en sy het ook haar eie bordspeletjie geskep, Escape from Black Mountain. Sy is ook ’n software developer, so sy is verskriklik intelligent en sy werk nogal met haar kop, maar dit maak haar soms emosioneel onervare. Sy weet nie altyd hoe om ’n situasie te hanteer nie. 

Sy is ook redelik skaam, maar in terme van haar verhouding met haar sussie en haar vriendin, Abi, kom hulle verskriklik goed oor die weg en daar is ’n gemaklikheid daar. Jessica en Abi is amperse ma-figure vir haar; oor haar en Jessica se ouers oorlede is, is dit húlle wat vir haar van die liefde en die lewe leer.

Sy groei en leer deurentyd en word baie volwasse, so dit was vir my belangrik om dit van die regte invalshoek te benader.

Ek het baie van my inner nerd en geekiness ge-channel. Ek is self verskriklik lief vir bordspeletjies, so dit was vir my so fantasties dat ek dit met Luca deel.

Ek sou hoop dat ek meer emosioneel volwasse as sy is, veral in die manier hoe ek konflik hanteer. Die grootste manier hoe ons verskil is dat ek miskien ’n bietjie meer oopkop as sy is om te luister. As sy haar kop op iets gesit het, dan is haar kop op dit gesit. En sy kan nogal ’n vloermoer gooi! Ek dink nie my ma sal noodwendig saam met my stem dat ek daarmee verskil nie! Sy sal sê ek gooi ook tantrums! (lag)

Leading ladies 

Ek het nou die dag juis gedink daaroor en dit is wat dit vir my so mooi maak – hierdie drie vroue verteenwoordig drie verskillende tipe vroue in Suid-Afrika. Die kompleksiteit van vrou-wees.

As ek begin met Jessica se karakter, wat vir my so mooi is, is dat sy hierdie baie sterk vrou is. Sy het haar sussie ondersteun ná hul ouers se afsterwe, maar sy is ook baie ambisieus en gefokus op haar werk. Sy het baie drome vir haar lewe en ek dink wat deurlopend deur die storie vir haar belangrik is, is om nie haarself in ’n man te verloor nie. Dit is iets wat deur die hele reeks deur Jessica verteenwoordig word.

Abi se karakter is verskriklik sex positive, so sy is baie meer oop en vry wat verhoudings betref. Sy volg haar passie. Sy maak werk van haar passie. Al drie van hulle doen dit. Maar Abi is ook die een wat my karakter baie oor verhoudings leer. Waar my sussie my meer emosioneel in my up and downs en met familie ondersteun, is Abi se karakter meer moederlik in terme van verhoudings. 

My karakter is die konserwatiefste onder die drie wat vir my baie interessant is. Sy trek aan soos Billie Eilish, so sy het ook baie alternatiewe klere wat sy dra en hoe sy haar hare maak…baie interessante influences.

Wat vir my mooi van haar karakter is, is dat sy wel op die ou einde verlief raak, en die verhouding ontwikkel dan ook baie vinnig. Daar is baie goed wat tussen hulle gebeur en mens weet nie of hulle saam opeindig of nie, maar sy is ook meer van ’n pikkewyn, as ek so kan sê. As sy iemand kies, dan’s dít dit.

Kykers sal aanklank vind

Dit is ’n eerlike verteenwoordiging van moderne families wat uit egskeidings kom, die dood wat gebeur het en mense wat nie bloedverwant is nie, maar wat familie word. Dit raak aan baie belangrike onderwerpe in terme van verhoudings – nie net die tipe verhoudings wat ons het nie, maar ook hoe ons dit navigate, hoe ons keuses maak, en hoe ons die trauma en verandering in die lewe verwerk. Dis ook lekker lig, al is daar ernstige oomblikke. Ons vat die kyker op hierdie hele reis. Jy lag eers lekker saam met hulle en dan skakel dit oor na ’n meer gewigtige en emosionele reis.

Oor hoekom sy die rol aanvaar het 

Ek was honger om ’n bietjie te speel. Ek het nie baie hoop daarop gesit dat ek die rol gaan kry nie, maar ek wou die oudisie net vir myself baie pret maak. Ek dink Louis-hulle (Louis Pretorius en Albert Snyman, mede-skeppers van die reeks) skryf ongelooflik goed en met soveel diepte. Niks word net gesê vir sommer nie. Álles het waarde en álles dra by tot die storie. Die manier hoe hulle selfs net die konteks en agtergrond aan kykers verduidelik sonder dat daar ooit prontuit iets gesê word – hulle bring dit so subtiel in dat dit heeltemal natuurlik voel.

Ek het lank vir die oudisie voorberei. Ek het selfs geleer hoe om Klingon te praat! Ons het my oudisie opgeneem en ingestuur en ek het nie gedink ek gaan dit kry nie. Maar nee, ek is reguit deur! Hulle was mal oor hoe ek die karakter benader het. Ek was so elated, so opgewonde, ek kan nie vir jou sê nie. So dankbaar.

Die impak van ’n intimiteitskoördineerder op stel

Oh wow. Dit was vir my so cool. Ek is so bly dat Suid-Afrika dit doen. Ek is so bly ons is op daai plek nou waar ons hulle inbring. Ek sal graag een wil word en wil graag ’n kursus doen. Ek kan met alle eerlikheid sê dit was so ’n plesier om met hulle te werk, want hulle laat almal op stel veilig voel.

Oor Nina Swart as regisseur

Wat ’n fees! Dit is die beste woord wat ek kan gebruik. Nina benader regie op so ’n mooi manier. ’n Mens kan maklik met haar gesels; jy kan maklik vir haar sê, ‘Nina ek is nie seker oor hierdie nie’. Sy is oop daarvoor dat jy haar uitdaag op ’n keuse wat sy gemaak het as jy voel dit is nie hoe die karakter sou optree nie. Sy is ook baie goed daarin om spasie vas te hou. Sy doen nie iets sommer net nie. Sy dink verskrikklik goed oor hoe sy iets benader en daarom voel dit ook soos ’n lekker span wat saamwerk. Almal is ewe invested om die storie te dien. Sy sal nie sê ‘cut’ en ‘happiness, ons beweeg aan,’ as sy nie gelukkig is nie en ek vertrou haar 100% met dit. Sy bring baie gees. 

Uitdagings

Ek het geweet daar gaan intieme tonele wees, ek het net nie besef dis ook my tonele nie! Hulle het vooraf vir my gevra of ek okei is daarmee en dis een ding om ja te sê, maar dis ’n hele ander ding wanneer dit actually moet gebeur.

My grootste uitdaging was dus om daad by woord te sit, want ek is all for body positivity maar as dit by my eie lyf kom, is ek nogal hard op myself. So, ek moes myself toelaat om te sê, ‘ons gaan hierdie nou doen en dit is okei en jy lyk okei en almal gaan die spasie vashou’. 

Kyk dit… 

…Oor dit so ’n eerlike verteenwoordiging is van ’n moderne huishouding en moderne vroue wat terselfdertyd hulself en hul lewens probeer uit-figure, tesame en alleen. En ek dink nie ons het al so iets in Suid-Afrika gehad nie. Die manier hoe dit geskiet is, die manier hoe dit geskryf is, en die manier hoe die mense speel, is baie interessant. Ek glo dat daar mense is wat sal kan identifiseer met hierdie karakters.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies