Of dit nou op ’n verhoog in New York, in produksies saam met Idris Elba en Laurence Fishburne, of plaaslike sukses as dr. Tom Greeff in Binnelanders is – min geleenthede was al só “pure pret” soos sy rol as Liam in Showmax se romantiese komedie, Troukoors, vertel Christiaan Schoombie. Liam is een van die hoofkarakters, Jessica (Ilse-Lee van Niekerk) se liefdesbelangstellings in dié reeks oor ’n trouebeplanner se eie soeke na liefde en is deur die kreatiewe duo, Louis Pretorius en Albert Snyman, geskep.
Oor die karakter
Liam is ’n sjef en hy is baie plat op die aarde. Daar is nie tierlantytjies omtrent hom nie. Hy het nie pretensies nie en is gemaklik met wie hy is. Een karaktereienskap wat sterk deurkom, is dat hy baie straightforward is – hy sugarcoat niks nie. Partykeer is dit tot sy nadeel, maar hy glo daarin om eerlik te wees. Hy sal eerder vir jou die ongemaklike waarheid vertel as dít wat jy wil hoor. Dit kry hom partykeer in die moeilikheid! Bygesê, hy is ook man genoeg om te erken as hy verkeerd is. Hy’s nie só eiewys dat hy dink dis net hy wat weet wat reg en wat verkeerd is nie. Hy is nogal ’n introvert en weeg sy woorde versigtig op.
Oor die rol
Hierdie is my eerste hoofrol, en ek is vrek dankbaar. En dis ’n wonderlike nuwe avontuur en vol van sy eie uitdagings. Daar is ’n sterk romantiese storielyn vir die karakter en dis glad nie iets waarmee ek vantevore te doen gehad het nie.
Ek was nogal verbaas ek het die rol gekry! Soos, ‘Wat? Wow! Okei! Baie dankie!’ Ek het gehelp met die callbacks en die chemistry reads toe hulle nog vir die Jessica-karakter gesoek het. En ek het nog nie iets soos ’n sjef gespeel nie en dit het na ’n interessante uitdaging geklink. Ek het glad nie geweet hoeveel van ’n love interest die karakter op die ou einde is nie. Rêrig! Ek het gedink ek gaan ’n karakter wees wat hulle nou en dan inbring vir comic relief.
Christiaan vs Liam
Ek kan goed oor die weg kom met groot groepe mense. Ek sou nie ’n akteur wees as ek nie kon nie, maar in my persoonlike lewe glo ek in daarin om ’n paar vriende van hoë gehalte te hê, eerder as ’n groot aantal kennisse. In daai opsig, is ons nogal dieselfde.
Oor die reeks se tema en aanslag
Ek geniet dit vreeslik. Vir my is dit soos ons weergawe van Modern Family. Ons is in die 21ste eeu en daar’s realiteite wat in die reeks geken word. Dit word erken as ’n waarheid en dis vir my wonderlik hoe die karakters en hul verhoudings uitgebeeld word.
Hoe dieper ’n mens in die tekste lees, hoe meer geheg raak jy aan die karakters. Jy vind hulle al snaakser, jy leer hulle ken, jy begin amper op ’n punt kom van, ‘mmm, ek weet wat jy gaan doen! Jou bliksem, ek weet wat jy gaan doen!’ Maar dan’s dit nog steeds snaaks hoe die situasie uitgebeeld word – dis glad nie voorspelbaar nie. Dis net pure pret.
(Troukoors) is op ’n manier baanbrekend wat Suid-Afrikaanse vermaak betref. Daar is ’n geneigdheid om nogal konserwatief in Suid-Afrika te wees wat ons sienings oor sekere goed betref en ek voel hierdie reeks werk daaraan om van daardie idees te ondermyn. Daar is baie skakerings van liefde en ons moet dit aanvaar en dit omhels, you know?
Christiaan Schoombie
Oor ’n realistiese uitbeelding van moderne verhoudings
Ja, dit is op ’n manier baanbrekend wat Suid-Afrikaanse vermaak betref. Daar is ’n geneigdheid om nogal konserwatief in Suid-Afrika te wees wat ons sienings oor sekere goed betref en ek voel hierdie reeks werk daaraan om van daardie idees te ondermyn. Dit wys dat daar baie skakerings van liefde is, en ons moet dit aanvaar en dit omhels, you know? Die temas en die storielyne, dit trek jou in. Dit is pret, ja, maar daar is ook ernstige temas wat bespreek word wat baie relevant is.
Oor sy eie romantiese ervarings
Hier is een van die punte waar ek en die karakter hemelsbreed verskil. Ek dink Liam het al ’n paar verhoudings agter die rug. Hy het ’n eksvrou wat deel vorm van sy identiteit en vorige lewenservaring. Ek is eintlik maar my hele lewe lank ’n bachelor (lag). In daai opsig moet ek maar op my verbeelding staatmaak. Dis bietjie moeilik, want, wat langtermynverhoudings betref, het ek nie veel van ’n verwysingsraamwerk nie.
Dis ’n tricky issue en dis een van die uitdagings van die rol. Ek moet ’n hele geskiedenis van vorige romantiese ervarings vir myself verbeel.
Liam se studies het hom Engeland toe gevat en hy is as ’n sjef opgelei. Ek dink dáár moes hy ten minste ’n fling gehad het! Of ’n verhouding! It is London, after all, en blykbaar is die Afrikaanse aksent baie sexy (lag). In daai opsig is ons nogal verskillend en dis ’n lekker uitdaging.
Sy ervaring van die intimiteitskoördineerder op stel
Ek voel baie gekoester deur die hele benadering op stel. Daar was ’n intimiteitskoördineerder wat ons deur die proses gelei het, deur die liefdestonele. Dit laat ’n mens baie gekoester voel want as ’n akteur voel jy nogal onseker oor wat jou grense is en wat jou medespeler se grense is. Dit is goed om dié raamwerk te hê oor hoe ons ons gemaklikheidsvlakke met mekaar kan deel en hoe ons kan seker maak we’re doing right by the other person en respekteer mekaar.
Ek’s baie dankbaar daarvoor. Dit maak dit eenvoudiger. Dit voel amper soos koreografie. Soos ’n dans. Jy volg al die stappe en dan, ja, it reads well on camera. Die tonele self is baie spesifiek en dit word ook baie spesifiek uitgewerk.
Ek dink dis iets wat alle dramaskole behoort te doen. Hulle behoort akteurs daarop voor te berei. Dalk nie in die eerste of tweede jaar (van die kursus) nie, maar wanneer jy weet jy het nou die kaf van die koring geskei. Dat die oorblywendes diegene is wat in die bedryf wíl wees; dan moet daar vir seker, sou ek sê, ’n semester of so op daardie tipe werk spandeer word. Dit sal ’n moerse verskil maak.
Oor Nina Swart as regisseur
Dis ’n wonderlike stel. Almal is so gaaf en professioneel. Nina is wonderlik. Sy’s net ’n bondel vreugde en die mees vocal regisseur wat ek in my lewe teegekom het, but I love it! Ná ’n take is daar altyd terugvoer – sy sal een of ander ander geluid maak (lag). Maar sy laat jou weet as daar iets is waaroor sy bekommerd is of iets wil aanpas. Sy’s wonderlik. So vriendelik. Ag, almal is net fantasties.
Plaaslike TV-avontuur
Hierdie is ’n lekker plaaslike rol vir my. Meeste van my werk tot dusver was internasionale projekte soos in Madiba teenoor Laurence Fishburne en ek het ook ’n klein rol gehad in The Dark Tower met Idris Elba. Twee ander lekker internasionale projekte was Netflix se Troy: Fall of the City en Warrior. In Troy, het ek een van die Trojaanse prinse gespeel. Ek het ’n woeste baard gehad, so jy gaan twee keer moet kyk om my te herken! Ek is die trotste op my werk in Warrior. Dit was groot pret. Pure joy. En ek moet sê ek geniet ook hierdie projek (Troukoors) gate uit. Dis als vir my baie opwindend.
Oor Louis en Albert
Hulle is fantasties. Ek geniet die tekste vreeslik. Louis doen regtig baie moeite met elke teks. Hy het so ’n duidelike idee oor al die karakters en verhoudings en hoe dit moet vloei. Dit is vir my ’n groot leerskool om te sien hoe hy te werk gaan.
Vir my is dit eenvoudig. As jy wil lag, en net met ’n glimlag op jou bakkies sit vir ’n halfuur, dan is hierdie ding vir jou. Jy gaan jouself gate uit geniet. It’s just pure fun.
Christiaan Schoombie
Die stel as ’n leerskool
Jy leer altyd. In elke nuwe projek wat jy doen, is daar nuwe dinge wat jy leer en nuwe tricks wat jy optel. ‘O, okei, dis hoe dit werk! Okei, gotcha.’ Of, ‘O, dis wat dit beteken’. Jy tel met elke nuwe job jargon en lingo op.
Elke regisseur het ook hul eie manier van werk. Ek is gaande oor my medespelers. Hulle is almal vreeslik professioneel, eerlik, in the moment en dis lekker om van hulle af te speel. Hulle gee jou baie om mee te werk en ek hoop ek doen dieselfde vir hulle.
Ek het nog nie een af dag (down day) op hierdie ding gehad nie. Not one. And I can tell, most jobs that tends to happen kind of on the early side at least somewhere. Daar was ’n paar dae op van my vorige gigs waar ek net gehoop het die dag kom tot ’n einde of waar niks gewerk het nie. Daar’s die heeltyd hiccups.
Dinamiese duo
Nina is so ’n goeie probleemoplosser. As ons so kort aan tyd raak…somehow, she pulls a rabbit out of a hat again. Sy het ook baie realiteitstelevisie-ervaring en ek kan net dink hoeveel snags op só ’n produksie is. En daar’s nie baie tyd op ’n reality set nie. Jy word gedwing om nóú met ‘n oplossing te kom. Sy en Faheema (Hendricks, kinematograaf) is ’n dinamiese duo. Daai twee, hulle het hul shorthand en hulle figure dit vinnig uit.
Ons het nou die dag…ons was naby die afsnypunt vir die dag. Ons het nie veel tyd gehad om ’n nogal belangrike toneel te skiet nie. Maar, wat! Met hulle was dit sommer vining. ‘Hierdie is wat ek wil hê. Okei. Tighter. Get it.’ En ons het betyds klaargemaak. Dís indrukwekkend. Ons word verwag om ons kant te bring en ons lyne te ken en ek moet sê, ek het nog nie ’n akteur op hierdie stel teëgekom wat onvoorbereid is nie. Dis maar altyd ’n bietjie van ’n nare verrassing as dit die geval is, en dit gebeur. Maar nee, nie hier nie. Hierso is almal op die ball. Dis verfrissend en dit maak die hele ding net soveel lekkerder.
Jy moet kyk want…
Vir my is dit eenvoudig. As jy wil lag, en net met ’n glimlag op jou bakkies sit vir ’n halfuur, dan is hierdie ding vir jou. Jy gaan jouself gate uit geniet. It’s just pure fun. Daar is ernstige temas wat ontleed word, maar daar’s altyd humor wat dit uitbalanseer en dis baie slim hoe Louis te werk gaan daarmee. Net goeie skrywers kan dit doen. Ons weet almal daar’s soveel reekse wat net ’n dreinerende gewroeg is. Heerlikheid! Maak hierdie mense nooit ’n grap nie? Glimlag niemand ooit in hierdie wêreld nie? En dit kan nogal irriterend raak. Die beste dramas, die beste ernstige verhale word ook met baie humor vertel. Dink net aan The Wire. Breaking Bad. Vol humor.
Oor trou
Ek dink daar is iemand daarbuite vir almal, maar ’n mens moet seker geduldig wees…Ek antwoord nou hier as ’n bachelor!