Menu terloops
In Gons [11 Des 2024]

‘Suidooster’: Celeste Loots se karakter kom maak moles


Celeste Loots, wat naam gemaak het in die Showmax-reekse ‘Trompoppie’ en ‘Wyfie’, het nou haar sepiedebuut in ‘Suidooster’ as Hanli Spies.

Stroom 'Suidooster'

‘Suidooster’: Celeste Loots se karakter kom maak moles

Wanneer Celeste Loots se karakter, Hanli, in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, opdaag, word Riaan (Daniel Coetzee) met ’n groot geheim uit sy verlede gekonfronteer. 

Dié spanningsvolle storielyn gaan ook druk op Riaan se verhouding met Bianca Fourie (Simone Biscombe) plaas. 

Celeste het meer aan terloops vertel.  

Wat kom soek Hanli in Ruiterbosch?

“Hanli kom soek ’n bietjie moeilikheid. Sy is iemand uit Riaan se verlede, iemand wat nog nie eintlik reg is om die verlede te laat gaan nie…”

Wat is jou indrukke van dié karakter?

“Hanli het ’n baie avontuurlustige manier van lewe. Sy is kleurvol, stylvol en suksesvol in haar beroep. Sy is altyd op soek na opwinding en al is haar bedoelings goed, is haar lus vir die lewe soms haar ondergang. 

“Hanli het baie liefde om te gee, maar as gevolg daarvan sukkel sy om eerlik te wees.”

Suidooster, Celeste Loots
Wat het Riaan aangevang? Foto: Skermgreep

Wat het jou rolle in Trompoppie en Wyfie vir jou loopbaan beteken?

“Trompoppie en Wyfie het ongelooflik baie vir my beteken op so baie maniere. Dit was ’n groot eer om deel te wees van ’n nuwe era van Afrikaanse storievertelling. 

“Op ’n persoonlike vlak het ek verskriklik baie gegroei en geleer as aktrise. As ek ’n rol vertolk, dra ek die karakter baie na aan my hart. 

“Zanne (Trompoppie) en Amanda (Wyfie) is in baie opsigte twee teenoorgestelde karakters. Daarom was dit ’n wonderlike geleentheid om as aktrise lewe aan sulke uiteenlopende karakters te gee.

“Dis twee reekse wat my baie opgewonde laat voel oor die toekoms van ons Afrikaanse bedryf. Ek knyp myself nog steeds om te besef ek was deel van hierdie twee spesiale projekte.” 

Wyfie Showmax, Celeste Loots
Celeste Loots as Amanda in Wyfie. Foto: Verskaf

Wat maak die ervaring van om in ’n sepie soos Suidooster te speel anders as Wyfie, wat ook ’n veeleisende skedule gehad het?

“Beide Suidooster en Wyfie se skedules is baie intens. Daar is oomblikke wat jy voel asof jou lewe die projek raak, wat op verskeie vlakke ’n pragtige deel van die proses is. 

“Wyfie het gewerk met single camera, wat basies beteken daar is een kamera en die kamera volg jou soos wat jy besluit om te beweeg. Natuurlik is daar ook blocking wat gebeur voor die toneel geskiet word, maar as akteur het jy die vryheid om te kan speel op daardie manier tydens die toneel. Die tempo van skiet is stadiger. 

“Suidooster is weer multi-camera, wat beteken daar is drie kameras wat op ’n sekere tyd in ’n toneel op ’n spesifieke plek gaan wees. 

“Die medium van sepies is baie tegnies en dit skiet baie vinnig. Dit was vir my ’n baie lekker uitdaging om meer oor hierdie medium te leer waar jy as akteur jou vryheid buite jou fisieke posisie in die toneel moet vind.” 

Wat is vir jou lekker van Suidooster?

“Suidooster is ’n storie vir almal. Dis een van die min dinge wat ’n hele familie saam kan kyk en geniet. Die storie nooi kykers uit om deel te word van ’n wêreld waar hulle saam met karakters kan leer, foute maak, lag en huil. 

“Ek dink ook dis ’n baie spesiale sepie omdat die mense wat dit skep ’n passie het vir stories vertel. Daar is ’n familieband tussen die skrywers, vervaardigers, cast en crew wat kykers deur hul TV-skerms kan aanvoel.”


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
30

30 Afrikaanse flieks wat jy vir oulaas op Showmax kan kyk

Met Showmax se dae getel, gaan ons binnekort ’n groot gros Afrikaanse speelfilms, kortprente, reekse en dokkies op dié plaaslike stroomdiens moet groet. Maak dus ’n plan om vir oulaas een van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax te kyk.

Meer
Sien alle opsies