Dié lys sluit ’n verskeidenheid stories in met fliek- en reeksopsies vir die jongklomp én tweens en tieners.
The Wild Robot

Op Showmax beskikbaar.
The Wild Robot is gegrond op Peter Brown se pragtige gelyknamige topverkoperboek. Dit vertel die storie van Roz, ’n robot wat op ’n onbewoonde eiland gestrand is en dan moet leer om aan te pas by die harde omstandighede. Geleidelik bou Roz verhoudings met die diere op die eiland, en neem selfs ’n jong wees-eendjie aan.
Beskikbaar op Showmax en DStv Stream (CatchUp).
Hierdie hartverwarmende animasieprent draai om ’n bedorwe kat, Beckett, wat geensins sy luukse lewe waardeer nie. As hy dan sy negende lewe verloor, word hy ’n kans gegun om vir sy foute te vergoed met nege nuwe lewens – elke keer as ’n ander soort dier…
Op Showmax beskikbaar om te stroom.
Pronk Primêr is ’n kykNET-komediereeks wat vertel van ’n groep skoolvriende wat nou by hul eertydse alma mater skoolgee. Dieselfde skoolhoof, mnr. Welgehawe (Tobie Cronjé) staan steeds aan die stuur van sake as Ada (Juanita de Villiers), ’n wiskunde-onderwyser, haar aansluit by haar eertydse skoolvriende, Earl (Pietie Beyers), Charl (Solomon Cupido), Driena (Laura-Lee Mostert), en Filip (Jaco Muller) waar hulle by Pronk Primêr as onnies werk.
Op Showmax beskikbaar om te stroom.
Dalk nie vir die jongste van die kroos nie, maar Een keer om die son se realistiese weërspieëling van die menslike alledaags is herkenbaar soos dit wissel tussen smart, vreugde en alles tussenin.
Ivan Botha en Donnalee Roberts staan as skeppers, vervaardigers en skrywers aan die stuur van die kykNET-drama, Een keer om die son. Die reeks, wat reeds vir ’n tweede seisoen hernu is, draai om ’n gesin wat op die oog af gelukkig lyk en dan deur tragedie getref word. Dit volg dan die lief en leed van die Van Wyk-familie oor die loop van ’n kalenderjaar. Elk van die 12 episodes beeld ’n maand in hul lewe uit. Daar is ook terugflitse om te wys hoe hulle beland het waar hulle is.
Die rolverdeling sluit, buiten Donnalee, ook akteurs soos Jacques Bessenger, Jana Kruger, Liam Bosman, Albert Maritz en Ludwig Binge in. Ivan behartig ook die regie.
Fuller House S1-5
Beskikbaar op Netflix om te stroom.
Sowat 20 jaar ná die laaste episode van die ewigdurende gewilde Full House (wat vanaf 1987 tot 1995 uitgesaai het) het Netflix die groen lig gegee vir dié opvolgreeks. Dié keer is D.J. Tanner-Fuller, Danny (die ontslape akteur Bob Saget) se oudste dogter, die spil waarom die storie draai. As haar man, ’n brandbestryder, onverwags sterf, trek sy saam met haar drie kinders terug by haar pa in. In dáái selfde ikoniese huis van die oorspronklike reeks.
Buiten Mary-Kate en Ashley Olsen (wat destyds die rol van Michelle Tanner in Full House gedeel het), het meeste van die oorspronklike ensemble hul karakters in Fuller House laat herleef, hoewel sommige net in blitsige gasrolle.
Kung Fu Panda 4

Beskikbaar op Showmax en DStv Stream (CatchUp).
Kung Fu Panda 4 kom sowat sewe jaar ná die vorige uittog in dié immergewilde animasie-franchise. As Master Shifu (Dustin Hoffman) vir Po (stemkuns deur die onverbeterlike Jack Black) opdrag gee om die taak van geestelike leier op te neem, beteken dit ook dat hy ’n plaasvervanger vir sy rol as Dragon Warrior moet vind… Iets wat hy mos glad nie wil doen nie.
Dis nie die beste fliek in die franchise nie, maar met Black wat die stemkuns lei en Awkwafina as ’n nuwe toevoeging tot die rolverdeling, is dit steeds prettige gesinsvermaak.
Kyk ook die vorige drie flieks in die franchise, Kung Fu Panda, Kung Fu Panda 2, en Kung Fu Panda 3, op Showmax.
Op Showmax beskikbaar om te stroom.
In die broer-en-suster-duo Mikayla en Jesse Brown se eerste vollengte speelfilm rolprent Finding Optel, soek die 16-jarige amateur-speurder Claire Abrahams na ’n hond wat in die buurt weggeraak het. Dit lei onverwags tot die oopkrap van ou wonde wanneer sy ook op leidrade afkom oor haar ouer broer se verdwyning.
Die lieflike en vermaaklike plaaslike fliek is deur Mikayla en Jesse geregisseer, met Mikayla wat ook die draaiboek geskryf het en die hoofrol van Claire vertolk.
IF

Op Showmax beskikbaar om te stroom.
Die akteur, skrywer en regisseur John Krasinski (The Office, A Quiet Place), het die regie van dié besonderse fantasieprent behartig. IF se vertelling draai om ’n meisie, Bea, wat ontdek dat sy mense se denkbeeldige vriende (ook bekend as IFs, óftewel Imaginary Friends) kan sien. Dit stuur af op ’n ongelooflike, betowerende avontuur waarin Bea (Cailey Fleming) en Cal (Ryan Reynolds) probeer om lang vergete IFs met die kinders wat hul destyds geskep het, te herenig.
Ook in die rolverdeling tel die stemwerk van Steve Carell as Blue, Phoebe Waller-Bridge as Blossom, en wyle Louis Gossett Jr as Lewis. Ook met Awkwafina as Bubble, en John Krasinski as Marshmallow.
In hul resensie beskryf Common Sense Media IF as “verbeeldingryk… aangrypend en vol verwondering… werklik onvergeetlik.”
Die derde seisoen van Magda Louw is op DStv Stream (Catch Up) beskikbaar. Kyk ook die eerste twee seisoene van Magda Louw op Showmax.
Magda Louw is aanvanklik deur Desiré Gardner, wat ook die naamrol vertolk as ’n eenvrou-verhoogproduksie geskep. Nadat dit eers in 2021 deur kykNET tot ’n storiefilm ontwikkel is, is dit toe in ’n komediereeks omskep.
Die storie draai meerendeels om Magda en haar man Erhard, wat aan ’n werklikheidsreeks deelneem. So gebeur dit dan dat daar ’n kameraspan is wat hulle oral volg om hul lewens vas te lê. Die akteur en Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk is as Erhard te sien. Die rol van Magda se dogter, Gertrude, is in die eerste seisoen deur Cintaine Shutte vertolk, met Cindy Swanepoel wat in die tweede en derde seisoen dié karakter lewe gee. Die rol van Baltus, die paartjie se seun, word deur Taktiek se Bennie Fourie gespeel. Gershwin Mias is die kameraman Shaun, wat die Louws oral heen rondvolg.
Desiré het in ’n onderhoud vertel sy glo dat kykers aanklank vind by dié reeks omdat hulle ’n stukkie van hulself in van die karakters herken. Sy skryf dít ook toe aan ’n tikkie nostalgie en dat kykers vir ’n wyle van alles kan ontvlug en saam kan lag. “Die regte lewe kan soms so oorweldigend raak. Ek hoop dat kykers sal lag en terselfdertyd ook ’n bietjie oor dinge sal nadink.”
Op Showmax beskikbaar.
Spooksoeker is gegrond op die veelbekroonde skrywer François Bloemhof se topverkoperboeke vir jong volwassenes, en volg die storie van Warno Alberts (Rico Immelman), wat met sy vyftiende verjaardag skielik van spoke in sy dorpie bewus raak… En dan besef dat hy die een is wat van hulle moet ontslae raak.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →