Dié lys sluit ’n verskeidenheid stories in met fliek- en reeksopsies vir die jongklomp én tweens en tieners.
Beskikbaar op Showmax om te stroom.
Barbie, met Margot Robbie as dié ikoniese pop, en Ryan Gosling as geliewe Ken, het in 2023 as ’n lokettreffer én popkultuur-artifak die jaar se suksesvolste fliek geword. In dié vertelling het Barbie en Ken in die regte wêreld beland en sukkel dan om hul nuwe realiteit met hul ervarings in Barbieland te vereenselwig. Dis ’n ander soort coming-of-age-tipe fliek dié. Een waarin die skille van al die karakters se oë val en grensverskuiwende transformasie – soms bloot van denkwyses en patrone – aan die orde van die dag is.
10 Lives
Beskikbaar op Showmax en DStv Stream (CatchUp).
Hierdie hartverwarmende animasieprent draai om ’n bedorwe kat, Beckett, wat geensins sy luukse lewe waardeer nie. As hy dan sy negende lewe verloor, word hy ’n kans gegun om vir sy foute te vergoed met nege nuwe lewens – elke keer as ’n ander soort dier…
Pronk Primêr S1
Beskikbaar as ’n box set op DStv Stream.
Pronk Primêr is ’n kykNET-komediereeks wat vertel van ’n groep skoolvriende wat nou by hul eertydse alma mater skoolgee. Dieselfde skoolhoof, mnr. Welgehawe (Tobie Cronjé) staan steeds aan die stuur van sake as Ada (Juanita de Villiers), ’n wiskunde-onderwyser, haar aansluit by haar eertydse skoolvriende, Earl (Pietie Beyers), Charl (Solomon Cupido), Driena (Laura-Lee Mostert), en Filip (Jaco Muller) waar hulle by Pronk Primêr as onnies werk.
Een keer om die son S1
Beskikbaar as ’n box set op DStv Stream.
Dalk nie vir die jongste van die kroos nie, maar Een keer om die son se realistiese weërspieëling van die menslike alledaags is herkenbaar soos dit wissel tussen smart, vreugde en alles tussenin.
Ivan Botha en Donnalee Roberts staan as skeppers, vervaardigers en skrywers aan die stuur van die kykNET-drama, Een keer om die son. Die reeks, wat reeds vir ’n tweede seisoen hernu is, draai om ’n gesin wat op die oog af gelukkig lyk en dan deur tragedie getref word. Dit volg dan die lief en leed van die Van Wyk-familie oor die loop van ’n kalenderjaar. Elk van die 12 episodes beeld ’n maand in hul lewe uit. Daar is ook terugflitse om te wys hoe hulle beland het waar hulle is.
Die rolverdeling sluit, buiten Donnalee, ook akteurs soos Jacques Bessenger, Jana Kruger, Liam Bosman, Albert Maritz en Ludwig Binge in. Ivan behartig ook die regie.
Fuller House S1-5
Beskikbaar op Netflix om te stroom.
Sowat 20 jaar ná die laaste episode van die ewigdurende gewilde Full House (wat vanaf 1987 tot 1995 uitgesaai het) het Netflix die groen lig gegee vir dié opvolgreeks. Dié keer is D.J. Tanner-Fuller, Danny (die ontslape akteur Bob Saget) se oudste dogter, die spil waarom die storie draai. As haar man, ’n brandbestryder, onverwags sterf, trek sy saam met haar drie kinders terug by haar pa in. In dáái selfde ikoniese huis van die oorspronklike reeks.
Buiten Mary-Kate en Ashley Olsen (wat destyds die rol van Michelle Tanner in Full House gedeel het), het meeste van die oorspronklike ensemble hul karakters in Fuller House laat herleef, hoewel sommige net in blitsige gasrolle.
Kung Fu Panda 4
Beskikbaar op Showmax en DStv Stream (CatchUp).
Kung Fu Panda 4 kom sowat sewe jaar ná die vorige uittog in dié immergewilde animasie-franchise. As Master Shifu (Dustin Hoffman) vir Po (stemkuns deur die onverbeterlike Jack Black) opdrag gee om die taak van geestelike leier op te neem, beteken dit ook dat hy ’n plaasvervanger vir sy rol as Dragon Warrior moet vind… Iets wat hy mos glad nie wil doen nie.
Dis nie die beste fliek in die franchise nie, maar met Black wat die stemkuns lei en Awkwafina as ’n nuwe toevoeging tot die rolverdeling, is dit steeds prettige gesinsvermaak.
Alex Rider S1-3
Beskikbaar op Showmax om te stroom.
Dié opwindende Britse spioenreeks vir tieners is gegrond op die gelyknamige boeke deur die skrywer Anthony Horowitz.
Dit draai om ’n doodgewone tiener, Alex Rider, wie se lewe handomkeer verander nadat hy uitvind dat sy oom toe nie in ’n motorongeluk dood is nie… Eerder dat hy vermoor is terwyl hy as Britse spioen gewerk het. As Alex dan gewerf word om self ’n spioen te word, vind hy ook uit dat hy eintlik al van kleins af opleiding vir dié gevaarlike lewe ontvang het.
Die Daily Telegraph beskryf die reeks as ’n “junior weergawe van die Bourne-franchise.”
IF
Beskikbaar op Showmax en DStv Stream (CatchUp).
Die akteur, skrywer en regisseur John Krasinski (The Office, A Quiet Place), het die regie van dié besonderse fantasieprent behartig. IF se vertelling draai om ’n meisie, Bea, wat ontdek dat sy mense se denkbeeldige vriende (ook bekend as IFs, óftewel Imaginary Friends) kan sien. Dit stuur af op ’n ongelooflike, betowerende avontuur waarin Bea (Cailey Fleming) en Cal (Ryan Reynolds) probeer om lang vergete IFs met die kinders wat hul destyds geskep het, te herenig.
Ook in die rolverdeling tel die stemwerk van Steve Carell as Blue, Phoebe Waller-Bridge as Blossom, en wyle Louis Gossett Jr as Lewis. Ook met Awkwafina as Bubble, en John Krasinski as Marshmallow.
In hul resensie beskryf Common Sense Media IF as “verbeeldingryk… aangrypend en vol verwondering… werklik onvergeetlik.”
Ook lekker om te lees
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →