Menu terloops
In Gons [29 Mei 2025]

Nuwe seisoen van ‘Magda Louw’ op pad – en kom met ’n paar skokke, vertel Desiré Gardner 


Dié geliefde kat (of is dit in hierdie geval die hond?) kom weer. Die derde seisoen van ‘Magda Louw’ is eersdaags terug op die kassie op kykNET.

Nuwe seisoen van ‘Magda Louw’ op pad – en kom met ’n paar skokke, vertel Desiré Gardner 

“Magda bevind haarself alweer in situasies wat sy nooit sou kon voorsien nie. Daar is ’n paar skokonthullings uit die verlede, ’n klomp ou gesigte en ook een of twee nuwes.” Só vertel die reeksskepper Desiré Gardner oor wat kykers van die derde seisoen van Magda Louw kan verwag. 

Desiré, wat ook die titelrol vertolk, verras en roer weer deur die reeks te vervleg met wat sy bestempel as “die waansin van die alledaagsheid en uiteindelik die realiteit van die kortstondigheid van die lewe en die onvoorspelbaarheid daarvan”.

Magda Louw
Desiré Gardner vertolk die titelrol in Magda Louw en is ook die reeksskepper. Foto: Gys Loubser

Lekker lag – voor én agter die kameras

Met Magda Louw is daar ook altyd iets interessants agter die skerms aan’t gebeur. Desiré glo dis omdat daar so lekker voor én agter die kameras gelag word.

Elke hond kry ook sy dag op die stel. En letterlik in die geval van Magda (vertolk deur Desiré) en Erhard (Hannes van Wyk) se nuwe hondjie, Genis. Dié Boston-terriër behoort eintlik aan die grimeerkunstenaar Mia Liebenberg, wat deel van die produksiespan is. “Daar was gereeld honde op die Magda Louw-stel wat dit so lekker gemaak het,” sê Desiré.

Dan is daar ook Magda se kleinkind, Louw Louw (Johann Wessels), wat deur die seuntjie van een van die tegniese spanlede gespeel word. 

Vir Desiré was die gemaklikheid wat op die stel geheers het, die lekkerste van alles. “Die cast en crew – waarvan die meeste al van die eerste seisoen af die pad saamgestap het – is nou al gewoond aan mekaar. Ons geniet mekaar se geselskap. Johannes Pieter Nel, die regisseur, en sy regterhand, Corné Wessels wat die skip stuur, bring ’n kalmte wat oor ons almal vloei. Ek dink ook die inhoud van die reeks raak aan belangrike temas wat vir my lekker is. En ons almal lag wanneer ons die geleentheid kry.”

Magda Louw
Dié rolverdeling, met onder andere (voor van links) Bennie Fourie, Desiré Gardner, Hannes van Wyk, Genis die Boston-terriër, Cindy Swanepoel, asook (agter van links) Gershwin Mias en André Weideman, gaan kykers weer laat skater. Foto: Gys Loubser

Alledaagse uitdagings in diepte verken

Vir Desiré was daar groei in die reeks sedert die eerste seisoen omdat van die alledaagse uitdagings van die lewe in meer diepte verken word. “Ek gesels met baie mense oor hulle vrese, die dinge wat hulle laat lag, huil, wakker hou in die nag. Al daardie dinge waarvan jy nie kan ontsnap nie. Ek probeer dit meer inwerk in die alledaagsheid van Magda se lewe. Die tragedie en tydelikheid van die lewe, vervleg met die mooi en die lekker en die lag.”

Sy glo dat kykers aanklank vind by Magda Louw omdat hulle ’n stukkie van hulself in van die karakters herken. Sy skryf dít dan ook toe aan ’n tikkie nostalgie, en dat kykers vir ’n wyle van alles kan ontvlug en saam kan lag. “Die regte lewe kan soms so oorweldigend raak. Ek hoop dat kykers sal lag en terselfdertyd ook ’n bietjie oor dinge sal nadink.”

Die reeks se hoofrolverdeling sluit ook weer in: Gershwin Mias as Shaun, Bennie Fourie as Baltus, Cindy Swanepoel as Gertrude en André Weideman as Dr. Havenga. 


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies