Menu terloops
In Lysie-lysie [21 Mei 2025]

Waar’s hulle nou? 5 ikoniese Afrikaanse akteurs wat die sepiewêreld vaarwel geroep het


Hoewel hulle nie meer daagliks op ons skerms verskyn nie, bly hierdie voormalige sepie- en TV-sterre deel van die kultuurstof van Suid-Afrikaanse televisie. Ons vertel jou meer van vyf ikoniese Afrikaanse akteurs wat ’n blywende indruk op kykers met hul toneelspel gemaak het, maar sedertdien hul vlerke gesprei en opwindende nuwe avonture buite sepieland onderneem het. 

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Waar’s hulle nou? 5 ikoniese Afrikaanse akteurs wat die sepiewêreld vaarwel geroep het

Suid-Afrikaanse sepies is al vir dekades die hartklop van ons plaaslike televisie landskap. Die gejaag in die gange van ’n hospitaal, die geskinder in koffiewinkels, familiedrama en verbode romanse – daar is niks lekkerder as die kinkels van ’n sepie nie. Oor die jare heen het baie akteurs met hul sepierolle huishoudelike name geword. Maar soos die seisoene verander het, het die paaie van sommige geliefde sterre ook wendings geneem.

Alhoewel hulle nie meer daagliks op ons skerms verskyn nie, bly hierdie voormalige sepie- en TV-sterre deel van die kultuurstof wat ’n hele generasie in Suid-Afrikaanse televisie gedefinieer het. Of hulle nou draaiboeke skryf, die volgende generasie akteurs mentor, of besighede bou, hierdie akteurs wys dat die magic van storievertelling nooit verdwyn nie. Eerder dat dit moontlik is om ’n heel nuwe vorm aan te neem.

Party het van die skerm af verdwyn om nuwe passies na te jaag. Ander het agter die kamera hul roeping gevind. En dan was daar ook diegene wat na ’n heeltemal ander bedryf oorgeslaan het. Ons vertel jou meer van vyf ikoniese Afrikaanse akteurs wat ’n blywende indruk op kykers met hul toneelspeel gemaak het en sedertdien opwindende nuwe avonture onderneem het. 

1

Nina Swart

akteurs, sepies, nina swart
Nina Swart agter die skerms op die stel van Survivor SA. Foto: Verskaf

Nina se vertolking van Wilmien in 7de Laan — die spontane, suksesvolle, pret en wilde kind van Afrikaanse televisie — het haar as ’n fan favourite gevestig. Jare later het Nina haarself herontdek as ’n kreatiewe krag agter die kamera. Sy het al op talle produksies gewerk wat onder meer Die Byl, Tuiskoms, Plaasjapie, Fraksie, Troukoors en Survivor SA insluit. Sy dra ook die hoed van skrywer en vervaardiger in TV, film en digitale inhoud. Haar storievertelling gaan voort — net van ’n ander perspektief af.

2

Diaan Lawrenson

Ludik
Diaan Lawrenson in Ludik. Foto: Netflix

Of jy haar nou ken as Paula van der Lecq in 7de Laan, Joey Steyn in Spoorloos 3 of Anet Ludik in Ludik, Diaan se vertolkings laat kykers altyd na meer hunker. Danksy haar eksentrieke, snaakse en boeiende vertolking as Paula, bly hierdie karakter een van die mees ikoniese karakters op plaaslike TV. Diaan het haar waarlik met hart en siel lewe gegee. Vandag neem Diaan haar liefde vir storievertelling en vermaak na die klaskamer. Sy dien tans as dekaan van die AFDA-filmskool in Kaapstad en bly daartoe verbind om toekomstige filmmakers en talent te mentor. Sy werk ook dikwels agter die skerms as ’n vervaardiger. 

3

Neil Sandilands

Neil Sandilands
Neil Sandilands. Foto: Verskaf

Kykers het hom al gesien as ’n skurk in The Flash, Sweet Tooth, London Calling en Kingdom of the Planet of the Apes. Maar voordat hy ’n Hollywood-baddie geword het, was Neil een van die gewildste akteurs in Suid-Afrikaanse sepies en dramas, en het aanvanklik bekendheid as Bart in 7de Laan verwerf. Nou spandeer hy meeste van sy tyd in die buiteland en behaal hy internasionale sukses met uitsonderlike rolle in groot reekse en films. Hy is ook ’n musikant, skrywer en regisseur, en verteenwoordig steeds Suid-Afrikaanse talent op die wêreldverhoog. Hy is ook bekend vir sy rolle as Bernoldus in DAM en Freddy Greyling in Desert Rose. Kykers kan ook tans sy ikoniese diep rasperstem as die storieverteller op die tweede seisoen van die kykNET-realiteitsreeks Die brug hoor.

4

Ingrid Paulus

Ingrid Paulus
Ingrid Paulus destyds in die rol van Vanessa in 7de Laan. Foto: Skermgreep

Ingrid Paulus was vir jare ’n sentrale figuur in sepieland as Vanessa Meintjies in 7de Laan. Sedert sy dié sepie vaarwel gegroet het, dra Ingrid voltyds ’n regisseurshoed. Ná jare se werk in Johannesburg agter die kamera, werk sy deesdae as regisseur op kykNET se gewilde sepie Suidooster. Hier span sy haar kennis van die sepiewêreld in om dié Kaapse sepie se vele fassinerende storielyne lewe te gee.

5

Quinne Brown

akteurs, sepies, quinne brown
Quinne Brown het ’n hele ander bedryf as TV aangepak. Foto: Verskaf

Kykers het vir jare vir Quinne se Connie op 7de Laan aangehang. Dit was ’n rol wat sy met warmte en opregtheid vertolk het. Ná haar verhuising na die VSA en die geboorte van haar kinders, het Quinne ’n nuwe roeping gevind deur ander vroue te help om geboorte te gee as ’n doula. Sy werk nou as lewensafrigter, motiveringsspreker en welstandsfasiliteerder. Só gebruik sy haar leweservaring om ander te help genees, besin en te groei.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in November misloop

Die finale seisoen van die TV-fenomeen 'Stranger Things'; ’n nuwe 'Kokkedoor'; liefdesintrige in 'Maxton Hall' se tweede seisoen; en Guillermo del Toro se 'Frankenstein' tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Dikker as water’-kykgids vir November 2025

Doğa maak ’n groot besluit oor haar studies terwyl ’n misverstand tussen Pembe en Abdullah ontstaan. Hier is ’n voorsmakie van wat vandeesmaand op 'Dikker as water'-kykers wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-gids vir November 2025

Karla en Arno se verhouding word op die proef gestel en Danie se gevaarlike obsessie dryf hom tot uiterstes... Hier is waarna ‘Diepe Waters’-kykers vandeesmaand kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-gids vir November 2025

Wade ruk heeltemal handuit en Angie en Zoë wil mekaar weer aan die hare beetkry... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in November kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies