Menu terloops
In Gons [20 Mei 2025]

Ronel Stander oor ‘Skemergrond’ se staatsaanklaer: ‘Samantha soek bloed’


Wie is die staatsaanklaer wat so naarstig vasberade is om uit te vind wie werklik vir Willem (Deon Lotz) in ‘Skemergrond’ vermoor het? Die aktrise Ronel Stander vertel meer oor haar karakter, die vurige Samantha Stone, wat vandeesweek in dié telenovela jag maak.

Kyk 'Skemergrond' op DStv Stream

Ronel Stander oor ‘Skemergrond’ se staatsaanklaer: ‘Samantha soek bloed’

Noudat beide Tillie Maritz (Deirdre Wolhuter) en haar seun, Dirk (Wilhelm van der Merwe), skuld beken het op die moord van haar man, Willem (Deon Lotz), is die vurige staatsaanklaer, Samantha Stone, vasberade om uit te vind wie werklik die sneller getrek het. Samantha word vertolk deur die aktrise Ronel Stander wat onlangs as kapt. Tarina Spies in Die Byl te sien was. Onder Ronel se ander verskynings tel rolle in Projek DinaWyfie en Catch Me a Killer.

As Samantha Stone in kykNET&kie se Skemergrond, speel Ronel ’n karakter wat alles op die spel plaas in haar soeke na geregtigheid. Niks sal haar keer om uiteindelik die waarheid te ontbloot nie. “Sy is oortuig daarvan dat Dirk en Tillie vir Willem koelbloedig vermoor het,” vertel Ronel. “Sy sal niemand ontsien in haar poging om dit te bewys nie. Samantha soek bloed.”

Samantha se hart is tog op die regte plek, voeg sy by.

Ronel se eerste verskyning in Skemergrond is op Woensdag, 21 Mei 2025

Van regsstudent tot TV-aanklaer

Ronel se regsagtergrond het haar ’n unieke voordeel gegee om hierdie rol oortuigend en met diepte te speel, meen sy. “Mens kan seker sê ek het jare reeds vir hierdie rol voorberei sonder dat ek dit geweet het! Ek het regte studeer voordat ek ’n loopbaan in die kunste begin najaag het.”

Ter voorbereiding vir haar verskyning as Samantha het sy boonop verskeie moordsake in Suid-Afrika nagevors om hofgedrag en -prosedures akkuraat weer te gee. Sy het ook intensief aan die karakter gewerk, vertel sy. “Ek het Samantha as karakter vir myself opgebou en raakpunte gesoek om haar motiverings beter te verstaan en, natuurlik, my tekste baie deeglik gelees.”

Hoewel Samantha Stone nie juis gewild is onder die gemeenskap van Gemoedsdrif nie, het Ronel groot waardering vir haar karakter. “Ek bewonder haar strewe na geregtigheid en haar vermoë om gewildheid tweede te stel. Sy veg vir mense wat geen stem het nie.”

Ronel Stander, Samantha Stone
“Ek is self ’n aanhanger van Skemergrond en geniet die reeks vreeslik,” deel die aktrise Ronel Stander. Foto: Verskaf

Oortuigende ontrafeling

Een van die uitdagendste dele van die rol was om haar eie kennis van die storielyn as kyker te ignoreer en alles vanuit Samantha se perspektief te benader. 

“Ek is self ’n aanhanger van Skemergrond en geniet die reeks vreeslik. As kyker weet ek dus dat Tillie en Dirk eintlik die slagoffers in hierdie verhaal is. So, dit was moeilik om Ronel se kennis van die gebeure weg te steek in my kop en dan as Samantha uit ’n hele ander hoek na die saak te kyk.” Dít was egter noodsaaklik om sodoende die karakters in die getuiebank se stories oortuigend te probeer ontrafel, meen sy.

Op die stel was die ervaring net so betekenisvol. “Almal was eenvoudig lieflik. Dit het gevoel of ek by ’n familie van kreatiewe geeste kuier, en dit het my siel gevoed en versadig laat voel.”

Om ja te sê vir die rol van Samantha was vir haar ’n maklike besluit. “Dit was ’n full-circle moment. Om op my road not taken te kon stap – al was dit net speel-speel – was iets besonders.”


Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies