Maar dít was nie die enigste dramatiese wending in die tweede episode van die kykNET-realiteitsreeks nie: Twee spelers het ook van span verwissel nadat hulle eers gedink het dat hulle die eerste slagoffers van Die brug se tweede seisoen was.
Nadat episode een almal verras het met die aankoms van ’n geheimsinnige “vreemdeling” by Suidhuis (dis nou die Houthuis met al die spelers wat ons in episode een ontmoet het), kon almal maar net raai waar dié lat vandaan gekom het. Maar episode twee het dinge vinnig duidelik gemaak. Hirome was nie net ’n gas nie, maar ’n volwaardige speler van Noordhuis – die tweede span – en is deur dié spelers uitgestem. Sy onverwagse verskyning in Suidhuis het ’n formaatverskuiwing ingelui wat die hele spel se dinamiek verander het.
Maar Hirome se aankoms was nie die laaste onverwagse wending nie. Wilhrisca, wat ook deur haar span uitgestem is, het in die teenoorgestelde rigting geskuif – van Suidhuis na Noordhuis.
Ontmoet dus nou al die spelers van Suidhuis, óftewel die onverwagte tweede span:
Hirome Shigeaki (27)
Arbeidsterapeut van Worcester, Wes-Kaap

Hirome is lief vir die natuur en leef na aan sy geloof. Sy biologiese pa is Japannees en sy ma ’n bruin vrou. Toe hy vyf jaar oud was, is sy ma oorlede, en sy pa se nuwe vrou wou nie ’n ander vrou se kind grootmaak nie. Hy het in die pleegsorgstelsel beland totdat sy Engels-onderwyseres en haar man hom in graad 10 aangeneem het, sy lewe onherroeplik verander en vir hom weer hoop gegee het.
Hirome het al meer deurgemaak as wat die meeste mense ooit sal verstaan. As kind is hy herhaaldelik verwerp, en dit het hom ’n konstante diep hunkering na liefde, stabiliteit en versorging gegee. Hy ken trauma intiem en het mishandeling en verwerping eerstehands ervaar. Ná soveel terugslae het dit hom sinies gemaak, maar tog hou hy vas aan ’n eenvoudige, kragtige waarheid: jou verlede bepaal nie jou toekoms nie. Hy glo jou omstandighede maak jou nie wie jy is nie, maar jou keuses. Deesdae gee Hirome met oorgawe terug aan ander, maar daar is tye wat hy steeds met ’n gevoel van eensaamheid worstel. Hy vertrou nie maklik nie, bevraagteken alles en kyk met dieper insig na die lewe. Dié eienskap, gevorm deur sy unieke lewenspad, is ook ’n bron van krag. Sy buitengewone ervarings het hom voorberei op die uitdagings van Die brug.
Vir Hirome gaan deelname nie net oor wen nie, maar ook daaroor om sy innerlike kind te eer, om sy pyn en oorwinnings te erken, en aan homself te bewys dat hy waardig is en die vermoë het om die een te wees wat oor die brug stap.
Lelani Loots (39)
Fiksheidsinstrukteur van Centurion, Gauteng

Lelani is ’n lang, sterk vrou met ’n aktiewe leefstyl. Sy smul graag aan die lekker van die lewe saam met haar man, met wie sy al agt jaar getroud is. Hulle is baie lief daarvoor om die wêreld te verken en reis graag oorsee. Die paar het geen kinders nie en beplan ook om dit só te hou. Sy reken hulle het genoeg moeite met hul twee stoute honde. Niks is te veel of te min vir haar nie. Wanneer sy eers ’n ding in haar kop het, gaan sy voluit daarvoor. Sy is nie iemand wat opgee nie, en dis dié ingesteldheid wat sy ook vir ander vroue in haar bootcamps leer.
Lelani is ’n bietjie ongeorganiseerd en ’n babbelbek. As instrukteur en vertroueling fokus sy altyd op ander mense. Met Die brug wil sy ’n slag net op haarself fokus, en sy sal enigiets doen – goed of sleg – om seker te maak sy kom bo uit. Lelani voel sy kan sagter wees met haarself en het ’n lae selfbeeld oor haar lengte. Sy het meer spiere as die gewone vrou (volgens haar), en sy erken sy vrees soms die lewe.
Lelani is op soek na haar eie waarde en sy wil leer om dit te koester. Dít is wat sy glo Die brug haar kan bied: die kans om haarself te leer ken en haar onsekerhede te oorkom. Vir haar gaan dit nie soseer oor die prysgeld – wat sy uiteraard wil wen nie – maar oor die ervaring.
Roscoe “Rumble” Pekeur (39)
Bokspromotor van Montagu, Wes-Kaap

Roscoe “Rumble” is die engel wat almal wil ontmoet. Hy sal enigiets en alles vir ander doen en help onder meer minderbevoorregtes in sy gemeenskap. Maar daar is tog mense wat nie van hom hou nie omdat hy reguit is en weet hoe om vir homself op te staan. Hy het deur ’n persoonlike tragedie gegaan wat soos die dood gevoel het, en dit het hom op ’n donker pad laat beland. Geloof het tot sy redding gekom, en hy is nou 11 jaar nugter.
Roscoe is by ’n kruispad in sy lewe, en hy weet nie wat die volgende stap is nie. Hy berei voor vir verandering, maar hy weet nie hoe dit gaan lyk nie en hoop Die brug gaan hom daarmee help.
Anesca Latsky (35)
Finansiële bestuurder van Centurion, Gauteng

Anesca is ’n tierkat. Haar stem brul, en sy weet sy intimideer mense, maar sy belowe sy het ’n sagte hart. Sy kan selfbewus raak en is dan vol bravado. Sy is ongelooflik trots om die ma van twee dogters te wees, en sy wil sterk vrouens grootmaak.
Anesca besef dat Die brug ’n geleentheid vir haar is wat haar lewe kan verander, veral nou by hierdie vurk in haar lewenspad waar sy haarself vind. Dis ’n kans om aan haarself te bewys dat sy tot soveel meer in staat is. Anesca hou van ’n lekker tyd, lag en gesels. Sy oefen hard en neem deel aan CrossFit-kompetisies. Anesca kan nie help om leiding te wil neem nie en is nie bang vir die kollig nie. By die werk is sy in ’n bestuursposisie, maar sy erken dat sy redelik ongedissiplineerd is en gereeld foute maak. Wanneer dit gebeur, aanvaar sy egter altyd verantwoordelikheid daarvoor.
Sy glo almal verdien ’n kans om die prys te wen, maar vir haar is daar nie ’n ander opsie as om Die brug as wenner te verlaat nie.
Johan Steyn (55)
Rotsmeganikus van Secunda, Mpumalanga

Johan is ’n mense-mens. Hy is vriendelik, luister graag en geniet die geselskap van mense van alle ouderdomme. Johan is gemaklik in ’n bestuursposisie en ook daarmee om in spanne te werk. Hy is getroud en ’n pa met ’n seun en ’n dogter wat al uit die huis uit is. Johan glo solank mense net nie te diep krap nie, hoef dinge nie ongemaklik te wees nie.
Hy is baie trots op sy slag met mense en hou van beplanning en oplossings. Sy swakpunt is dat hy ander te maklik vertrou en nogal vinnig kwaad kan word as iets nie wil werk nie. Soms is hy ’n bietjie oorywerig met sy raad aan ander mense.
Johan boer deeltyds met bye, en dit is iets wat hy graag heeltyds sou wou doen. Hy wil Die brug wen sodat hy die geld met almal kan deel, want hy weet wat die waarde van spanwerk is.
Rechaux Browne (43)
Sake-eienaar van die Strand, Wes-Kaap

Rechaux is die ma van agt kinders tussen die ouderdomme van 10 maande en 24 jaar. Om deel te neem aan Die brug, is geheel en al buite haar gemaksone. Sy hou nie van kampeer of om in die natuur te wees nie, en sy weet sy gaan baie vinnig moet aanpas. Rechaux weet egter hoe om te onderhandel en te kommunikeer en kry dit gewoonlik reg om mense na haar pype te laat dans. Sy glo sy het ’n goeie hart, maar erken sy kan moeilik wees.
Rechaux is impulsief, en daar is nie altyd ’n wag voor haar mond nie, maar sy kan haar in ander se skoene plaas. Dit maak haar ’n sterk speler en gee haar die vermoë om mense se guns te wen. Vir haar is eerlikheid die belangrikste.
Rechaux se 21-jarige dogter is met spierdistrofie gediagnoseer, ’n siekte wat byna haar lewe gekos het. Haar kinders is haar grootste motivering, en dit is vir hulle wat sy sal sterk bly. Rechaux wil Die brug vir haar dogter wen en vir haar net die beste gee, want die lewe het nie ’n waarborg vir enige iemand nie.
Tiaan van Niekerk (35)
Boer van Middelburg, Mpumalanga

Tiaan woon op sy eie op ’n plaas naby Middelburg waar hy met mielies en sojabone boer. Hy geniet ’n jagnaweek, lekker kuier en geleenthede om nuwe mense te ontmoet. Tiaan hou van eenvoud en roetine, maar sal nooit ’n sosiale geleentheid laat verbygaan nie. Op ’n gewone dag op die plaas ry Tiaan deur die lande met sy vierwielmotorfiets, of hy swem in die plaasdam. Hy het ’n groot liefde vir jag en gaan gereeld vir naweke weg om homself in die bos uit te leef.
Tiaan het idees wat mense kan vreemd vind en sal vinnig sy hand opsteek om die leiding te neem. Hy is behoudend en koester tradisionele waardes. Tiaan kan vinnig ongeduldig raak, maar hy weet hoe om dit te hanteer. Hy wil die bekende en gemaklike roetine van sy lewe graag ’n bietjie uitdaag, en Die brug gee hom die kans om dit te doen.
- Die brug word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
- Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.