Wolf Beukes is in Donkerbos gebore en so gelaat staan. Hy kom van ’n lang lyn polisiemanne op die dorp en hoewel hy nie die beste speurder is nie, werk hy deeglik en deurdag. Hy is egter ook ’n man wat deur sy drange regeer word, en dít sorg vir moeilikheid. Die rol van Wolf in die bekroonde Nico Scheepers se rillerdrama Donkerbos word deur Stian Bam vertolk.
Donkerbos draai om ’n senutergende moordraaisel wat begin met die ontdekking van die liggame van ses kinders in ’n verlate woud in die klein dorpie van Donkerbos in Limpopo.
Stian is bekend vir sy werk in onder meer Vallei van Sluiers, Die Boekklub, 7de Laan, Die Boland Moorde, My Father’s War, Verraaiers, Die Spreeus en Kompleks.
Die reeks, wat vir Showmax vervaardig is en steeds op dié platform beskikbaar is, is nou ook vanaf 21 Januarie 2024 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) beskikbaar.
terloops het met Stian tydens verfilming op die stel van Donkerbos gesels.
Hoe sou jy die storie van Donkerbos beskryf?
“Ek stem nie saam met mense wat sê die storie is donker nie. God, this happens every single fucking day in this country. Why is it dark? Dis realiteit. Dit is nie donker nie. Ek weet nie wat ’n mens as donker sou beskryf nie. Maar dis nou Suid-Afrikaners vir jou. Suid-Afrikaners kan nie cope met die realiteit nie. Hulle kan nie cope met die realiteit dat daar mense in plakkerskampe bly nie. Hulle ry eerder ’n ompad as om dít (die informele nedersettings) te sien en te kenne te gee dat dié mense in diepe armoede leef.”
Tog – talle kykers gaan dit waarskynlik as donker ervaar. Hoekom dan?
“Miskien is die storie vir hulle donker omdat hulle hulself blind staar aan dit wat reg voor hulle is. Jy sal eerder ontvlug. Ek het ook vir ’n geruime tyd rondbeweeg in ’n familie met daai ontkenning van die lewe buite jouself. As jy jouself in ’n sekuriteitskompleks opsluit, hoef jy nie te deal met die feit dat daar inderwaarheid ’n wêreld buite dit bestaan nie. Jy hoor daar is ’n oorlog in Oekraïne, maar hoe sal jy weet hoe oorlog lyk? Jy gaan nie jouself daar plaas nie.”
Wat is dan dalk ’n beter beskrywing vir die reeks se aard?
“Ek dink dit is eerder ’n vertelling van ’n alledaagse realiteit. Wat hier die narratief is, wat hier vertel word, is iets waarmee mense in ’n plakkerskamp eintlik die heeltyd mee deal. [Baie van ons] lewe egter in ’n baie cushy samelewing waar hierdie goed van ons weggehou word; waar ons onsself kan beskerm teen hierdie goed, teen die realiteit daarvan. Maar ek dink in omstandighede soos waarin ons nou is, vir sekere mense in hierdie land, is dit ’n realiteit wat hulle daagliks ervaar. Dit is erg, but it is what it is. Kinders word gereeld as gevolg van bendegeweld geskiet. Jy hoor dit die heeltyd.”
Wie is Wolf Beukes?
“Wolf is maar wolf! Wolf is ’n randfiguur. Hy is ’n bietjie soos ek. Val oor goed. Breek goed. Verkeerde plek, verkeerde tyd. Probeer hard, maar kry dinge nie altyd reg nie. Hy wil baie graag ’n goeie speurder wees, maar hy is net nie heeltemal daar wat sy vaardighede betref nie. Hy is verteenwoordigend van die konteks waarin die storie afspeel as’n polisieman wat nie dit wat gebeur (die moorde) kan hanteer nie. Dele daarvan breek hom. Daai tipe wêreld is net nie vir hom nie. Dit is vir hom baie moeilik om te cope met wat in die dorp gebeur as die kinders se koppe gevind word.
“Ek dink dis deels omdat Wolf iemand is wat nog oogklappe het en nie kan deal met die feit dat hierdie die realiteit is nie. Soos wat ons nou hier sit is die herfsblare baie mooi en ons hoef nie te bekommer oor daai figure, of die donker, of die nag wat nader kom nie. Wolf hoef nie daaroor te bekommer nie, maar dan skielik is dit op sy voorstoep en dan weet hy nie hoe of wat nie. Hy is ’n bietjie verlore, blind in die donker. Maar ek dink almal in die hele storie hardloop blind in die donker rond en sien nie wat reg voor hulle is nie.”
Kykers die wêreld oor hou van crime mysteries, en dis ’n sielkundige ding van ‘jinne, kyk hoe erg is dit!’ of ‘dit kon ek gewees het!’ En ja, dit kon jy gewees het, maar as ’n TV-reeks, as ’n storie, is dit ver genoeg verwyder. Ons het onsself opgelei om van hierdie goed te hou.
Stian Bam
Watter verwagtinge het jy gehad van Nico Scheepers (skrywer en regisseur)
“Nico is ’n baie goeie skrywer, só ook ’n goeie regisseur. As ’n regisseur verwag ek van hom om my te lei in die storie, en ek plaas al my vertroue in hom, want ek het volle vertroue in die regisseurs met wie ek werk. As hulle op iets besluit, dan doen ek dit. Ek is nie iemand wat gaan teëpraat nie. Hy het dit geskryf en weet hoe dit visueel moet lyk. Ek is maar ’n klein deel van ’n groter prentjie wat hy geskets het. Hy weet presies wat hy wil hê en dit is ons doel as akteurs om vir hom te gee wat hy wil hê. Hy het sterk karakters geskryf, en dít is die belangrikste. As akteur hoef jy nie daaroor te bekommer nie want die karakter is reeds op die papier en jou doel is om die karakter lewe te gee. Sy casting proses speel ook ’n groot rol – hy weet wat hy gaan kry as hy iemand cast en dís juis hoekom hy vir hulle die rol gee. Almal dien ’n doel.”
Wat was vir jou die grootste uitdaging in jou vertolking van Wolf?
“Die grootste uitdaging? Om nie te lag nie! Wolf is maar weird (lag). Hy is snaaks partykeer. Maar ek moes ook probeer om nie te lag vir Nico nie, want hy is ook weird! Nee, wat. Daar is nie eintlik iets besonders of buitengewoon uitdagend nie. Enige rol is immers reeds ’n uitdaging. Om dit so eerlik as moontlik te speel en om dit ’n natuurlike element te gee, is ‘n uitdaging en jy doen wat jy moet doen.”
Hoe het jy jou vertolking benader?
“Jy kan nie jouself verwyder van wie jy is nie. Jy kan nie ’n karakter speel as jy jouself probeer verwyder nie. Die karakter móét, ongelukkig, deur jou lewe. Ek is nie ’n polisieman nie, en ek het nog nooit traumatiese goed gesien soos hierdie mense in Donkerbos gesien het nie, maar jy moet jouself in dié tipe situasies verbeel. Daar is altyd ’n parallel tot iets waarby jy kan aanklank vind. Dit gaan oor om daai deeltjie vind.
“Akteurs wat sê, ‘you leave that character behind…’ Jy is nie daai fokken karakter nie! Jy is nie ’n reeksmoordenaar nie. Behalwe as jy heimlik is en dan is dit problematies (lag)… Ek hoef nie iets van myself te vat of weg te neem om Wolf te speel nie – dis reeds op die teks, dís wat die man moet doen. Alles word daar gesê, wat jy moet doen. Jy herleef jouself net op ’n ander manier en jy gebruik jou intuïsie.”
En dalk jou onderbewussyn?
“Ek dink ons gebruik ons onderbewussyn meer as wat ons besef. In Suid-Afrika se filmbedryf is daar nie tyd om vir ’n dag lank een toneel van drie blaaie te skiet nie. Daarom het jy nodig om intuïtief te reageer met dit wat reeds in jou onderbewussyn lê. Jy laai jouself met soveel goed as moontlik sodat as daai oomblik kom. Dis soos ’n veg-of-vlug-reaksie. Dis nie dat dit ’n natuurlike reaksie is nie, dis eerder soos ’n herinnering. In die onderbewussyn verstaan ons nie, maar dit word ons lot met sekere goeters, so as daar goed in jou kinderjare met jou gebeur het dan ontlok sekere gebeure daardie herinneringe – volgens my gebeur dieselfde as jy onmiddellik iets op ’n sekere manier moet doen. Al het jy nie al daardeur gegaan of iets soortgelyk gesien nie, is daar iets in jou onderbewussyn waarop jy kan terugval. Want ons het nie tyd om dit te gaan ontgin en te soek nie. Dis reaktief. Dit moet wees. Daar’s nie tyd nie en daar’s nie geld nie. Maar in Suid-Afrika kry ons wel die geleentheid om baie verskillende karakters te speel. Dis lekker.”
Hoekom dink jy is die rillerdrama-genre so gewild?
“Mense is baie aangetrokke tot karakters. As hulle iets in ’n karakter sien waarmee hulle kan identifiseer… Mense invest baie maklik en vinnig. Kykers invest vreeslik en dan is hulle gehook. Kykers die wêreld oor hou van crime mysteries, en dis ’n sielkundige ding van ‘jinne, kyk hoe erg is dit!’ of ‘dit kon ek gewees het!’ En ja, dit kon jy gewees het, maar as ’n TV-reeks, as ’n storie, is dit ver genoeg verwyder. Ons het onsself opgelei om van hierdie goed te hou. Dis al vir baie lank deel van die Suid-Afrikaanse psige. Wolwedans van die Skemer, die radioverhaal, byvoorbeeld. Dit het baie goed gedoen; mense was mal daaroor. Maar waar het dit begin? Die beheptheid met donkerder stories? Dis psigologies-georiënteerd.
So, wat gaan kykers lok om Donkerbos te kyk?
“Want mense se psiges is gefok! Dis soos om na ’n motorongeluk te kyk. Jy kan nie verby dit ry nie. Nee, jy ry fokken stadiger, want jy wil sien hoe erg dit is. Ons wil ontvlug, ja, maar ons wil ook sien presies hoe erg dit is. So, daar gaan baie mense wees wat sê die reeks is te erg, en hulle kan nie dit kyk nie, want ‘daar’s oorgenoeg slegte goed op die nuus!’ Maar dan kyk hulle die herhalings, dan kyk hulle. Want hulle wíl tog sien wat gebeur.”
Donkerbos se eerste episode word op 21 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET uitgesaai. Daarna sal nuwe episodes weekliks op Sondae beskikbaar wees om te stroom. Die reeks is ook steeds op Showmax beskikbaar.
Let wel: Die oorspronklike weergawe van hierdie artikel is in November 2022 gepubliseer en is aangepas vir die reeks se bekendstelling op kykNET in Januarie 2024.