Ek wil jou amper ’n amper gestempelde bankbrief gee dat die driedelige dokumentêre reeks, Steinheist, nuwe lewe in die ondersoek rondom die omstrede voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff en überskelm, Marcus Jooste, se bedrieglike bedrywighede geblaas het. Dit was asof Suid-Afrika na die kyk van die reeks in een stem gevra het: “Maar hoe op aarde is hierdie man nog steeds nie agter tralies nie?”
Vandeesweek het dit bekend geraak dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank beslag gelê het op miljarde rande se bates wat aan Jooste gekoppel is. Dit sluit onder andere sy huis Voëlklip in, asook die Wynlandgoed, Lanzerac. Iemand het selfs die woord “fraudster” op die Voëlkliphuis se muur aangebring. Nie die beste graffiti-werk nie, maar dit som die sage netjies op!
Suid-Afrika se derde rykste persoon, Christo Wiese, het ook erg deurgeloop onder Jooste en het meeste van sy rykdom verloor. Hier is 11 van Christo Wiese se beste aanhalings in die dokkie wat perdalks in die finansiële geskiedenisboeke opgeteken sal word.
Christo Wiese het geen benul van hoe oneindig ryk hy is nie. Nie eers tot die naaste miljard nie:
“Ek het geen idee nie, want my ervaring oor die jare is dat mense wat weet hoeveel hulle werd is, oor die algemeen nie baie werd is nie.”
Oor wenke oor rykdom en hoe om ryk te bly:
“Om ryk te word … Maklik. Om ryk te bly? Baie moeiliker.”
In ’n stadium het die ouditeursfirma, Deloitte, hom ingelig dat Steinhoff se bestuur die maatskappy vir meer as ’n dekade lank bedrieg en besteel het. Aan hulle het hy gesê:
“ ‘Maar julle is mal! Waarvan praat julle?’ En hulle het vir my hul ses punte gegee wat hulle bevraagteken het, en ek het daarna gekyk. Ek het gesê: ‘Maar julle het verlede jaar op al hierdie punte afgeteken, en vir die vorige 15 jaar. Waar kom hierdie nou vandaan?’.”
Sy reaksie op Steinhoff se ineenstorting:
“Toe ek myself in die spieël kyk ná die verskriklike nuus van Steinhoff, het ek besluit ek sal duidelike riglyne moet kry om deur hierdie een te kom. Nommer een: Ek treur nie oor die verlies aan geld nie, want geld wat jy maak, kan jy verloor en jy kan weer probeer maak. Tweedens, tel ek my seëninge. En derdens, gaan ek nie ’n bitter mens word nie, want niemand wil bitter mense om hulle hê nie.”
Wiese het een van die oudste wynplase in Suid-Afrika, Lanzerac, vir Markus Jooste gegee in ruil vir Steinhoff-aandele:
“Ek sê altyd vir mense, een wynlandgoed is een te veel… Om twee te hê is naby aan ’n nagmerrie.”
Feitlik almal was bewus daarvan dat Marcus Jooste sy vrou verneuk het. Selfs sy eie vrou was bewus daarvan:
“Ek wil nie soos ’n goody two-shoes klink nie, maar dit is onaanvaarbaar… Vir ’n uitvoerende hoof om ’n verhouding te hê wat aan sy werkers bekend is, is ‘n groot nee. Ek het minstens twee senior bestuurders afgedank as gevolg daarvan, want jy verloor die vertroue van die mense wat aan jou rapporteer. As hy elke dag vir sy vrou van 40 jaar getroud kon lieg, hoekom sou hy nie vir my lieg nie? Jy weet dit kan nie geduld word nie.”
Oor die nadraai van die belastingklopjag net voor Steinhoff se notering op die Frankfurtse aandelebeurs:
“Toe daardie klopjag gebeur het, het die direksie van Steinhoff een van die grootste forensiese ondersoekfirmas in Duitsland aangestel om elkeen van die bewerings wat gemaak is te ondersoek. Hulle het steeds vir my en die direksie verslag gegee dat dit alles nonsens is en dat Jooste se weergawe die waarheid is… Weereens, die Jooste black magic… Dis die enigste verduideliking waaraan ek kan dink, want hierdie mense het nog nooit met Steinhoff sake gedoen nie. Daar was geen verhouding nie.”
Vanselfsprekend moes Christo Wiese vir Markus Jooste konfronteer ná die vergadering met Deloitte:
“Ek het gesê: ‘Hierdie mense sê jy is ’n bedrieër en ’n skelm.’ En hy het gesê: ‘Op grond waarvan?’ Ek het gesê: ‘Wel, jy weet, hierdie ses punte.’ Hy het die ouditeure so ’n gat in die kop gepraat in ’n halfuur, dat hulle hul hele deuntjie verander het. Hy het gesê hy gaan Duitsland toe, hy sou Maandag terugkeer, en hy sou hulle tevrede stel. Hy sou alles opklaar…”
Wat skiem hy, kon die Steinhoff-raad anders gedoen het?
“Daar is geen foolproof beskerming teen ’n uitvoerende hoof wat ‘n skelm is nie.”
Wat is Christo Wiese se opvatting nou oor Markus Jooste?
“Natuurlik is hy ’n baie, baie slim operateur, en met senuwees van staal. Hoe doen jy dít vir 15 jaar? En jy moet verby al hierdie hekwagte kom? Hierdie is nie ’n normale mens nie. Jy moet ’n kulkunstenaar wees, en jy moet weet watter knoppie om met watter persoon te druk.”
Was Steinhoff die grootste fout van Christo Wiese se bykans onberispelike besigheidsloopbaan?
“Dit was my grootste fout by verre. Nie net in terme van wat dit my finansieël gekos het nie, maar ook die skade aan my reputasie. Die grootste oordeelsfout ooit.”
Maak seker jy kyk al drie episodes van Steinheist op Showmax. Met die nuwe verwikkelinge, is ek oortuig dat die vervaardigers reeds hul kameras begin afstof het om die saga verder te dek soos dit in real-time ontvou.
Lees ook André-Pierre du Plessis se resensie hier.
Nog Showmax Originals