Menu terloops
In Onderhoude [30 Sep 2022]

‘Blood Psalms’: Afrika se ‘Game of Thrones’ ’n epiese avontuur wat nie terughou nie, sê skeppers


Daar is groot verwagtinge van Showmax se eerste fantasiereeks, ‘Blood Psalms’ – en sover stel die sogenaamde Afrika-weergawe van ‘Game of Thrones’ beslis nie teleur nie.

Kyk nou

‘Blood Psalms’: Afrika se ‘Game of Thrones’ ’n epiese avontuur wat nie terughou nie, sê skeppers
Kyk lokprent

Blood Psalms is “sonder twyfel, die beste TV-program wat nog in Afrika geskep is”, meen TVMzansi, terwyl die gesoute fliek- en TV-resensent Leon van Nierop dit as die “grootste en skouspelagtigste produksie van ’n plaaslike reeks nog” bestempel het. Dít is net van die lof wat Blood Psalms, Showmax se eerste oorspronklike fantasiereeks, ná slegs twee episodes ingeboesem het.

Die aksiebelaaide reeks, wat in antieke Afrika afspeel, draai grotendeels om prinses Zazi (Bokang Phelane) soos sy haar rol in ’n apokaliptiese profesie probeer uitpluis en uiteindelik teen haar eie pa, die mal koning Letsha (Mothusi Magano), te staan kom. 

“Om daarna te kyk voel net so opwindend soos om ’n ruimtevaarder te wees wat nuwe wêrelde verken,” skryf Genevieve Terblanche van tvplus. “Die blote omvang van Blood Psalms is asemrowend.”

Blood Psalms
Blood Psalms het na slegs twee episodes reeds groot lof ingeboesem. Foto: Verskaf/Showmax

Die reeks is geskep deur Jahmil XT Qubeka en Layla Swart – albei bekroonde storievertellers. Swart en Qubeka was verantwoordelik vir die Suid-Afrikaanse Oscar-inskrywings Knuckle City en Sew The Winter To My Skin. Qubeka is ook die regisseur van onder meer Of Good Report, wat sewe SAFTA-pryse gewen het, waaronder vir beste rolprent en beste regisseur.  

Qubeka en Swart se rolverdeling is groot en loop oor met die talent van nuwe, en reeds gevestigde spelers. Onder hulle tel Bongile Mantsai, Hamilton Dlamini, Hlubi Mboya, Mothusi Magano, S’dumo Mtshali, Siv Ngesi, Enhle Mbali Mlotshwa, Faith Baloyi, Faniswa Yisa, Mandisa Nduna en Thabo Rametsi. (Kliek hier vir ’n handige gids om tred te hou met die stamme en karakters in die reeks… dis nogal ’n groot rolverdeling!) 

Hier beantwoord Qubeka en Swart ’n paar vrae oor die projek:

Vanwaar die idee vir Blood Psalms?

Qubeka: “Ek was net altyd uiters nuuskierig oor ons vasteland. Die vrae rondom die geskiedenis van Afrika, en waar ons vandaan kom, was vir ons ’n goeie fondasie om hierdie wêreld te kan bou.”

Swart: “Ek dink Blood Psalms is ’n verlange meer as enigiets anders. Dit is ’n blik op ’n geskiedenis wat nog nooit voorheen uitgebeeld is nie, (maar) wat ons nog altyd wou sien.”

Waar en wanneer speel die reeks af?

Qubeka: “11 000 jaar gelede. Blood Psalms is ’n aksie-avontuurreeks wat ons nooi na ’n wêreld wat nie meer bestaan ​​nie – ’n tyd voor die Groot Vloed die wêreld verander het.”

Swart: “Blood Psalms put uit elemente van ’n menigte Afrika-mitologieë en kyk na verskeie verskillende stamme in Seisoen 1 (die Akachi, die Uchawi, die Ku’ua, die Chini en Groot Nziwemabwe) soos hulle suid van Kemet (nou Egipte) migreer en hul kulture gevorm het.” 

Qubeka: “Hierdie stamme het suidwaarts beweeg en gevlug van die rampspoed wat in Kemet en Kush (nou Noord-Soedan) gebeur het. Daar is selfs vandag nog oorblyfsels wat wys dat daar ’n groot beskawing en ’n groot kultuur was wat uit daardie gebied kom.”

Op watter stam fokus julle die meeste?

Swart: “Die stamfokus in seisoen een is Huis Akachi wat deur die eksentrieke koning Letsha gelei word.”

Qubeka: “Ons kyk na hierdie wêreld deur die oë van sy dogter, ’n jong Akachi-prinses met die naam van Zazi, soos sy ook op haar eie selfontdekkingsreis is.” 

Bokang Phelane in Blood Psalms
Bokang Phelane as prinses Zazi in Blood Psalms. Foto: Verskaf/Showmax

Hoe voel julle oor die onvermydelike Game of Thrones-vergelykings?

Qubeka: “As hulle dit die African Game of Thrones wil noem, sal ek daardie mantel aanneem. As jy van Game of Thrones hou, gaan jy van hierdie program hou.

“Maar wat ons regtig wil doen, is om heroïese argetipes vir die Afrika-kind te skep. As jy oor die hele landskap van film en televisie kyk, is daar geen argetipes vir die Afrika-kind nie.”

Swart: “Dit is ’n baanbrekende produksie wat poog om ons persepsie van ons identiteit as Afrikane te herdefinieer. Wat ons probeer doen, is om die kontinent se geskiedenis vanuit ’n Afrika-perspektief te herwin. Die doel, vir ons, is om te verseker dat die goue draad van Afrika se verstommende geskiedenis werklik skyn.”

Qubeka: “As ons nie ’n beeld begin projekteer van hoe ons onsself sien nie, gaan iemand anders dit vir ons doen.”

Daar is baie min verwysings vir Afrika 11 000 jaar gelede. Was dit bevrydend of uitdagend?

Swart: “Om ’n wêreld te bou wat nie bestaan ​​nie, was geweldig kreatief… Dit het werklik vir ons almal gesamentlik die ruimte gegee om net te speel.

“Maar dit is ook geweldig uitdagend. Elke enkele kostuum, elke enkele stuk van die stel moes van nuuts af bedink en gemaak word.”

Qubeka: “Ek is baie opgewonde om te sien hoe gehore hierdie wêreld ervaar. Daar is baie dinge waarna mense gaan kyk en vra: ‘Waarvan praat jy? Het hulle in daardie tyd gewere gehad? Het hulle elektrisiteit?’ Daar is ’n klomp goed wat ons uitdaag in terme van die konvensionele idees wat mense ​​van ons glorieryke verlede het.”

Hoekom moet mense kyk?

Qubeka: “Dit is ’n meesleurende epiese avontuur wat nie terughou nie. Dit is beslis ’n groot speelruimte, een wat ek persoonlik nog nie van hierdie kontinent gesien het nie. Hierdie ding is groot.”


Showmax sal elke Woensdag tot einde November 2022 nuwe episodes van Blood Psalms vrystel. Stroom dit nou.

Al agt seisoene van Game of Thrones is ook op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies