Menu terloops
In Gons [21 Mei 2024]

‘Skemergrond’: Als wat jy van dié nuwe telenovela moet weet


Met die geliefde en aangrypende telenovela ‘Arendsvlei’ wat eersdaags sy laaste episode uitsaai, vertel die bekende TV-skepper Roberta Durrant meer oor die storie wat die groot ‘Arendsvlei’-gat in ons harte – en TV-skedules – gaan vul: ‘Skemergrond’.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
‘Skemergrond’: Als wat jy van dié nuwe telenovela moet weet

Vandat telenovelas op ons skerms geland het, word kykers aand ná aand vasgenael met die familiedrama, aksie, intrige, geheime en kinkels in die lewens van statige families soos die Swarts-familie in Diepe Waters en die Cupido’s in Arendsvlei.  

Die sappige storielyne en vinnige tempo van telenovelas maak dit nog meer aanloklik vir kykers. 

Maar met Arendsvlei wat volgende maand ná ses plofbare seisoene van liefde, leed, tragedie – en epiese skurke – tot ’n einde kom, is dat amper tyd om kykers aan die splinternuwe en opwindende wêreld van Gemoedsdrif voor te stel. 

Skemergrond, kykNET se nuutste telenovela, begin 1 Julie om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitsaai, en speel af in die fiktiewe plattelandse dorpie van Gemoedsdrif in die Wes-Kaap. 

Die regte bestanddele

Volgens Roberta Durrant, die kreatiewe vervaardiger van Skemergrond, het hierdie nuwe reeks ook al die lekker bestanddele wat kykers van ’n Afrikaanse telenovela verwag. Leuens, verbrokkelende verhoudings, spanning, wraak, romanse, geraamtes in die kas… Noem maar op, Skemergrond het dit, sê Roberta.

Skemergrond is ’n aangrypende nuwe telenovela wat draai om die Louw-gesin, wie se lewens gedefinieer word deur plig, opoffering en lojaliteit teenoor diegene wat hulle lief het,” vertel Roberta. 

“Die Louw-gesin was nog altyd bekend vir hul pragtige blommeplaas, geleë in Gemoedsdrif, wat ’n simbool is van hul harde werk en toewyding aan dit wat hulle die meeste koester. Maar onder die oppervlak van dié skilderagtige fasade lê ’n web van geheime en leuens wat dreig om die gesin uitmekaar te skeur,” som sy die premis op.

Roberta en Penguin Films, wat Skemergrond vervaardig, het al talle ander gewilde en bekroonde reekse soos Madam & Eve, Sara se geheim, Fishy Fêshuns, Projek Dina, Diepe Waters, en natuurlik Arendsvlei, ook die lig laat sien. Hulle hoop dat kykers ook by hierdie reeks sterk aanklank sal vind.  

Sepievoorskou: Jolene Martin as Beatrice in Arendsvlei.
Jolene Martin as Beatrice in Arendsvlei. Beatrice is een van dié telenovela se gewildste karakters. Foto: Verskaf

Verweefde wêrelde

Anders as Diepe Waters en Arendsvlei, waar storielyne hoofsaaklik rondom die swembad of skool uitspeel, gaan kykers in Skemergrond aan verskillende omgewings blootgestel word. Sodanig gaan die storie nie net in Gemoedsdrif ontvou nie.

“Ons wêrelde is met mekaar verweef. Ons het die pragtige blommeplaas in Gemoedsdrift, ’n pragtige plattelandse dorpie, maar dan is daar ook die blommeverkopers in die Kaap en ’n bietjie stadslewe alles in een,” vertel Roberta.

En behalwe vir die bekende plekke en omgewings wat kykers dalk op die skerm sal herken, sal daar ook ’n paar gesigte voor en agter die kamera wees, wat kykers gaan verras. 

Een van daardie mense is die hoofregisseur Roxanne Blaise, wat gewoonlik meer bekend is vir haar werk voor die kameras in reekse soos Arendsvlei, Sara se geheim en White Lies

Nuwe geleenthede

Roxanne is een van talle akteurs wat hul voete as regisseur op die stel van Arendsvlei natgemaak het.

Vir Roberta was dit nog altyd belangrik om geleenthede vir akteurs op hul stelle te skep en om talent te koester. En oor Roxanne se talent kan sy nie uitgepraat raak nie. 

“Ja, die skep van nuwe geleenthede was nog altyd vir my ongelooflik belangrik en ek het oor die jare al menige loopbaan van stapel gestuur. Dit is altyd lonend om iemand se groei te aanskou,” vertel Roberta trots.  

“Roxanne het met haar opleiding (as regisseur) op Arendsvlei begin en daarna ’n seisoen direct. Nou is sy die hoofregisseur op Skemergrond. Sy is van die begin af deel van die projek en sy is ’n baie talentvolle regisseur.”

Roxanne het by verlede jaar se Silwerskermfees die toekenning vir die beste draaiboek vir die kortfliek Die Blokke gewen en is ook as beste regisseur vir dié produksie benoem. En nou sien sy uit om die stories te vertel van die families en karakters van die ingewikkelde, maar interessante gmeenskap van Gemoedsdrif. 

Telenovelas vs sepies

Hoewel kykers altyd uitgehonger raak vir nog episodes van hierdie aksiebelaaide telenovelas, sal Skemergrond nes Arendsvlei en Diepe Waters slegs vier dae ’n week uitgesaai word. 

Dit is omdat telenovelas nie met sepies verwar – wat gewoonlik daagliks uitgesaai word – moet word nie. Anders as sepies het telenovelas wel ook ’n slot. 

Daar is ook ’n groot verskil in hoe sepies en telenovelas geskiet word, maar hierdie wenresep het Roberta en Penguin Films ook al onder die knie. 

“Die belangrikste verskil vir ons is dat ons op verskeie plekke skiet (en nie in ’n ateljee nie). Die tempo van die storie is ook anders as ’n sepie. Alhoewel daar altyd ’n oorheersende boog aan ’n reeks is, is ons in staat om stories te vertel wat hulself binne ’n korter tydraamwerk kan voltooi. Dit is soos ’n lang drama,” vertel Roberta.


Kyk Skemergrond vanaf 1 Julie om 19:30 op kykNET&kie en DStv Stream (DStv-kanaal 145) van Maandae tot Donderdae. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Mei 2025

Rachelle woeker met haar slinkse planne om Shani te verneder en die matriekafskeid kom al nader. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

‘Diepe Waters’: Dís die storielyne om in Mei dop te hou

Mei bring nie net nuwe wendings nie, maar ook selfontdekking, groei en opwindende moontlikhede in 'Diepe Waters'.

Meer

Redakteurskeuse vir Mei 2025: ‘Bridget Jones 4’, ‘Die brug S2’, ‘Die nuusmakers’ en meer

Wat om te kyk: 'Die nuusmakers', ’n nuwe Afrikaanse drama wat persoonlike en professionele drama in die nuuskantoor in oënskou bring; die gewilde avontuur-realiteitsreeks 'Die brug' se tweede uittog; Tina Fey in 'The Four Seasons', ’n reeks wat raakvat soos min; en Bridget Jones se vierde fliekavontuur – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Mei 2025

Aline se landerye vat vlam terwyl sy nog sukkel om die plaas se skuld te delg. En dan word sy boonop amper vergiftig! Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Mei. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies