Toe Arendsvlei in 2018 begin uitsaai het, was dit kykNET se eerste en enigste telenovela. Só het dit die weg gebaan vir kykNET se tweede dramabelaaide telenovela Diepe Waters.
Kykers het onmiddellik aanklank gevind by die storie en lewens van die onderwysers, leerders en gemeenskap van en rondom die Hoërskool Arendsvlei. Saam het hulle gedeel in die liefde en leed van karakters wat hul harte kom steel het – en, amper té gereeld – hul bloeddruk opgestoot het.
Op 11 Januarie 2024 vier Arendsvlei ’n besonderse mylpaal met die uitsaai van hul 1000ste episode . En hoewel Arendsvlei in Junie vanjaar tot ’n einde kom, is daar nog baie om na uit te sien.
terloops het met Roberta Durrant, die kreatiewe vervaardiger van Arendsvlei, gesels oor akteurs wat agter die skerms uitgeblink het, hul TV-mylpale en die suksesse en uitdagings van hierdie Safta-bekroonde produksie.
Toe julle met Arendsvlei begin het, het julle ooit gedink julle sou 1000 episodes haal?
“Jy maak jouself maar altyd reg dat die reeks enige tyd kan eindig, maar ons het nooit gedink ons sal ses seisoene van Arendsvlei kry nie. Dit is ’n groot eer, want nie baie telenovelas word ná drie seisoene verleng nie. Dit is iets wat ons altyd sal koester.”
Baie van die jong akteurs op hierdie show het die geleentheid gekry om te leer en om self van die episodes te direct. Wie se besluit was dit om vir hulle die geleentheid te gee? En hoe het dit die dinamika en energie op stel verander?
“Ek het daardie besluit geneem, want ek glo dat as mense potensiaal het en jy geleenthede kan skep, dan moet jy daardie persoon ’n kans gee. Al die akteurs wat oorgeskuif het na agter die skerms het dit vreeslik baie geniet en soveel geleer. Die akteurs was gretig om met hul mede-akteurs te werk en die span is baie behulpsaam, so almal het ingespring om te help en kennis oor te dra.”
Hoeveel akteurs op Arendsvlei het die geleentheid gekry om iets behind the scenes te doen, hetsy directing, skryf of iets anders?
“Daar is ’n hele paar akteurs in verskillende departemente. Roxanne Blaise (wat die rol van Elsa Booysen vertolk het) het as dialoogafrigter en trainee-regisseur begin. En daarna was dit Jarrid Geduld (wat die rol van Bompie vertolk), Roberto Kyle (wat die rol van Lee-Roy vertolk) en nou Bobby Stuurman (wat die rol van Langes/Whalied vertolk). Quanita Adams (wat die rol van Ma Letitia vertolk het) en Dean Richard Olivier (wat die rol van Anton vertolk het) was ook deel van ons skryfspan tydens seisoen vier.”
Wat is die voordeel daarvan om ’n akteur as deel van die skryfspan te hê?
“Dis altyd lekker om vars stemme in ’n skryfkamer te hê, veral as die betrokkenes reeds deel van die span was. Jy sien die storie uit hul oë uit en elke skrywer bring sy unieke idees en planne.”
Voor Arendsvlei was daar nog nie ’n Afrikaanse telenovela op ’n kykNET-platform nie. Nou is daar ook Diepe Waters wat net so diep soos Arendsvlei in kykers se harte geklim het. Hoekom dink jy het die formaat soveel sukses gehad en dink julle Arendsvlei se sukses het die deure vir ander produksies oopgemaak?
“100%! Soveel akteurs wat hul eerste rol in Arendsvlei gekry het, het ander rolle ingeryg en van dit was ook hoofrolle. Die pas van die storie het ook ’n groot impak, dis lekker vinnig en daar is geleenthede vir baie stories op een tyd. Ons probeer altyd die kykers op hul tone hou hetsy dit met ’n bietjie aksie, komedie of romanse is.”
Om die eerste met enigiets te wees, is moeilik en het sy eie uitdagings. Wat was die grootste uitdagings wat julle ervaar het?
“Hierdie was nie die eerste keer wat ek iets nuuts doen nie. Ek dink nou aan Going Up wat destyds die eerste plaaslike drama op televisie in die land was. Joe Mafela en Rex Garner het nog daarin gespeel. Ek het ook ’n demokratiese opvoedkundige drama vervaardig met die aanloop tot 1994, so om iets nuuts te doen, is nie vir my vreemd nie. Maar ek sien dit nooit as ’n uitdaging nie. Ek is ’n persoon wat gedryf word deur stories en hulle kom oor my pad en wil duidelik vertel word. Die storie is wat my dryf.”
Wat was die Arendsvlei-span se drie grootste mylpale tot dusver?
“Dis moeilik om net drie uit te sonder, maar van die hoogtepunte was die drie Safta-toekennings wat ons gewen het, die eerste gay-troue (op plaaslike TV in ’n telenovela), die aksie-tonele, en ook plaaslike televisie se eerste Moslem-troue.”
Meeste van die akteurs wat tans op Arendsvlei is, was deel van die oorspronklike span of het nog in daardie eerste jaar begin. Wou julle spesifiek ’n verhouding met die gehoor bou of het dit toevallig so uitgewerk dat baie van die oorspronklike cast steeds voor of agter die kamera betrokke is?
“Hoe meer die kykers van die akteurs sien, hoe meer voel hulle soos familie. Ons wou ’n tuiste skep vir kykers waar hulle kon ontsnap van hul eie realiteit en saam met ons lag of huil. Die kykers speel ’n massiewe rol in die sukses van ’n reeks en ons kan net dankie sê dat hulle ons akteurs in hul huise verwelkom het.”
As jy terugdink na dag een en dan kyk na waar die span vandag is met 1000 episodes agter die rug, hoe laat dit jou voel? En het die show alles bereik wat jy gehoop het dit sou?
“Net soveel trotsheid. Almal het elke dag hulle beste gebring vir ses seisoene. Dit was nie altyd maklik nie, maar die gees op stel het dit alles die moeite werd gemaak. Ons is een groot familie.”
Watter woord beskryf jou journey met Arendsvlei ?
“Liefde.”
Wat hoop jy sal mense nog lank nadat julle die laaste toneel van hierdie show uitgesaai het onthou?
“Die camaraderie wat Arendsvlei gebring het. Ons het soveel kulture en rasse saamgebring om een storie te vier. En ook die absolute harde werk wat almal in die span gegee het. Die span het hulle alles in hierdie projek gesit en ons hoop mense sal dit vir altyd onthou.”
Waarna kan kykers uitsien oor hierdie laaste paar maande?
“Arendsvlei gaan steeds aksie in die laaste paar maande bring! Kykers gaan by tye van hulle stoele wil afval! En dan bring ons ook natuurlik steeds nuwe akteurs in, wat baie drama gaan veroorsaak. Ons wil die kykers trots maak in die laaste paar maande, so ons werk hard aan uitstekende storielyne.”
Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.