Dié animasiefliek, die derde uit die stal van die Kaapse animasie-ateljee Triggerfish, het op oujaarsaand op Netflix begin wys en was teen middel-Januarie op die lys van Netflix se top-tien mees gekykte flieks in 27 verskillende lande.
Die ateljee het baie om op trots te wees – die maatskappy is by die 2021 Annecy Internasionale Animasiefees met ʼn Mifa Animasie-industrietoekenning bekroon vir die pioniersrol wat hulle speel in animasie in Suid-Afrika en die hele kontinent.
En dan het hulle dit ook nog met dié fliek reggekry om woema en individualiteit te verleen aan ʼn redelik onaantreklike spesie wat op land redelik eenders lyk met hulle wiebelrige bruin lywe, maar in die see in ratse, amper elegante kreature verander.
Seal Team is die fliekdebuut van die Suid-Afrikaanse skrywer en regisseur Greig Cameron. Sy draaiboek is gegrond op ʼn storie deur Wayne Thornley (Adventures of Zambezia) en Brian en Jason Cleveland.
Greig het die fliek elders beskryf as ’n “liefdesbrief” aan die aksieflieks uit die 80’s en 90’s, wat hy skelm as kind gekyk het. Dit voel regtig soos ʼn kombinasie tussen MacGyver en Shark Tale, met die klanke en visuele trefkrag wat daarby pas.
Volgens Greig was die vonk vir die militêre span robbe gegrond op ʼn regte eenheid wat robbe en dolfyne oplei om landmyne te ontwapen. Greig het onder meer sy tande geslyp deur die regie en skryfwerk vir 45 episodes van Supa Strikas (Disney XD). Hy het ook 60 strokiesboeke vir die reeks geskryf. Sy humorsin is droog en laf en intelligent genoeg vir grootmense én kinders om te waardeer.
Aan die een kant is daar nie juis iets nuuts omtrent die storie nie: daar is ʼn roekelose jong held, Quinn (Jessie T. Usher) wat opstaan vir sy mense (uhm, robbe); die somber, wroegende mentor en gevalle held (hy woon op die wrak van die H.M.M.F. Goodboy); die maltrap, aweregse spannetjie robbe (die “team” in Seal Team) wat die baddies laat les opsê en natuurlik die slegte ouens (in hierdie geval die haaie) wat nie kan wag om hulle tande in die see se swemmende toebroodjies te slaan nie.
Daar is egter iets gerusstellend aan die bekendheid en voorspelbaarheid van die storielyn, wat dit ʼn goeie keuse as Vrydagaanfliek saam met jou kinders maak en daar is darem genoeg verrassings om dinge prettig te hou.
Ek was eers bekommerd oor die bakleiery en geweld (daar vlieg reeds genoeg testosteroon in ons huishouding rond en kinders is sponse as dit by hierdie tipe van ding kom), maar my vrese was grootliks ongegrond. Ja, daar word geskop (gevin en gehap?) en geskiet, maar die haaie moet koes vir ʼn barrakuda-bazooka en ʼn garnaal-geweer en nie vir regte koeëls nie.
Die verdwynende seekat-pak wat uit ʼn swetterjoel angstige klein seekatjies bestaan, is ook ʼn wenner en die Tsardine-sardientjieblikke wat as bomme gebruik word, is geïnspireerd.
ʼn Redelike snedige resensent van New York Times het die animasie afgemaak as “chintzy”, maar hy kan gaan doppies blaas.
Ja, die karakters is dalk nie hiper-realisties nie en daar is sekerlik ruimte vir verbetering, maar dit lyk alles behalwe goedkoop en dra eerder die stempel van Triggerfish se eiesoortige animasiestyl, wat geslyp is met projekte wat op Julia Donaldson en Axel Scheffler se kinderboeke gegrond is.
Die see-tonele is veral geloofwaardig, realisties en mooi om na te kyk – die animasie-kunstenaars het immers reeds onderwater-animasie goed ingeoefen met The Snail and the Whale (Showmax).
Dit is ook ʼn plesier dat Suid-Afrikaanse kinders vir ʼn slag ʼn bekende Suid-Afrikaanse landskap in ʼn kinderfliek kan sien, eerder as eindelose Amerikaanse plekke wat hulle nie ken nie. En ja, daar is meer as “the bush” hier aan die Suidpunt van die kontinent. Die ikoniese Tafelberg het byvoorbeeld ʼn vinnige (en pragtige) cameo wanneer die robbe in die Waterfront ʼn draai maak en dit maak ʼn mens sommer trots.
In dieselfde asem wonder ʼn mens waarom meer plaaslike stemtalent nie gebruik kon word om die fliek selfs nog meer local te laat voel nie. Die enigste Suid-Afrikaners in die rolverdeling is egter John Kani in ʼn mini-rolletjie as Brick, ʼn patriargale ou rob wat in ontkenning leef oor haaie se bestaan en Sharlto Copley (District 9) is die geniale wapenbouer, Switch.
Die enkele Suid-Afrikaanse karakters veral ongelukkig ook in clichés. Die gids op ʼn haaibesigtingsboot praat Engels met ʼn (swak) Afrikaanse aksent en die oorgewig robbe by die Waterfront (ons het hulle al almal gesien), is pure laid back Kaapstad-bru’s.
Die redenasie is seker dat internasionale gehore groter aanklank by twangy Amerikaanse aksente gaan vind. Dit maak sin en die akteurs wat hulle stem aan die karakters verleen het, is goed gekies. J.K. Simmons (Palm Springs, Renegades) se stem is net reg vir die gevalle held, Claggart, leier van die H.M.M.F. Goodboy se robbespan wat bomme in die see onskadelik maak.
Patrick Warburton (Space Force) het van die grootkop Geraldo een van die fliek se prettigste en sterkste karakters gemaak. Kristen Schaal (Despicable Me 2, My Spy) is Beth, ʼn rob wat haarself oortuig dat sy die smaak van mossels (al wat hulle te ete kry) kan uitblok as sy lank genoeg in die son staar. Schaal laat Beth diep in ʼn mens se hart kruip met haar verspotte onskuld en bravado.
ʼn Mens moet ook die tong-in-die-kies casting waardeer: die sanger Seal het wraggies ingestem om die singende rob, Seal Seal, te vertolk wat blaf-blaf voor die mikrofoon en die aksie-ster Dolph Lundgren speel die macho dolfyn Dolph, wat “ee-ee-ee”.
En as jy bekommerd is dat haaie al wéér die slegste van alles afkom, haal diep asem. Ek het ook eers gedink dis darem nie regverdig om haaie nogmaals uit te maak as bloeddorstige monsters wat al wat leef en beef wil eet nie. Maar as ʼn mens mooi daaroor dink ís robbe gereeld haaikos. En ʼn mens kan dan maar seker af en toe vir dié stinkende, blaffende underdogs ʼn plekkie op die sonnigste klip gee.
Kortom – Seal Team is ʼn lekker fliek om te kyk. Dis nie perfek nie, maar dit is, in die woorde van my sesjarige seun: “Cooooooool!”
Nog stories deur Riëtte van der Wat
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →