Menu terloops
In Wat om te kyk [22 Nov 2021]

Kinderflieks op Showmax vir die vakansie en feesseisoen


Of dit nou humor, aksie of sommer net mooi stories is waarna hulle soek, daar is ʼn fliek op Showmax om enige kindervoorkeur tevrede te stel tydens die skoolvakansie en feesseisoen. Hier is ʼn paar lekker voorstelle.


Deur Riëtte van der Wat
Kinderflieks op Showmax vir die vakansie en feesseisoen
1

’n Fraai goedvoel-fliek oor ʼn innoverende klein dogtertjie wat ʼn gereedskapskis present kry en iets wonderlik vir haar getroue hondjie wil bou. Kreatiewe en praktiese uitdagings maak dinge egter moeiliker vir haar as wat sy verwag het.

Die storie, wat gegrond is op ʼn kinderboek van Ashley Spires, leer lesse oor deursettingsvermoë, opofferinge en geduld. Dit breek ook stereotipes af dat net seuntjies van gereedskap en bouprojekte mag hou.

Met verteller Whoopi Goldberg se ryk stem en ʼn kleurpallet wat een van die fliek se kunstenaars as “ʼn gedurige-goue uur” beskryf, is dié fliek ʼn veilige, vrolike en positiewe keuse vir die vakansie.

2

Khumba, ʼn Suid-Afrikaanse animasieprent deur Triggerfish, is in Afrikaans en Engels op Showmax beskikbaar. Dit was die heel eerste geanimeerde fliek in Afrikaans.

Bettie Kemp het die regie van die Afrikaanse weergawe gedoen, waarin die stemme van bekendes soos Rika Sennet, Elzabé Zietsman en Frank Opperman gehoor kan word.

Khumba is ʼn jong zebra met net die helfte van sy strepe – sy bygelowige stam gee die arme outjie die skuld vir die droogte in die Groot Karoo en hy onderneem ʼn pelgrimstog om die probleem te probeer oplos.

Die fliek is nie perfek nie, maar dit beloof opwindende dinge vir die plaaslike bedryf. Daar is kleurvolle, herkenbare karakters en eg-Suid-Afrikaanse humor, maar ongelukkig maak dit ook op té veel chaotiese gebeure en stereotipes staat. Daar is ook ʼn paar tonele wat sensitiewe kinders kan bangmaak en ʼn skrikwekkende luiperd met een oog.

Maar, op ʼn lang somersvakansiemiddag, behoort dit ouer kinders heel goed te vermaak.

3

Dié Australiese fliek oor ’n buidelmuis (wombat) wat ʼn gedaanteverwisseling moet ondergaan om ʼn klomp skurke te laat les opsê, sal jou kinders (en vir jou), laat lê van die lag.

Dis kleurvol, aksiebelaai en vol interessante Australiese-dierasies soos ʼn konkelende koalabeer en ʼn emoe wat hom voordoen as ʼn superheld.

Wees egter gewaarsku dat die temas glad nie nét lig is nie – ons heldin se man sterf in ʼn mynongeluk en haar hartseer verswelg haar byna en die bad guy is eintlik ʼn groot, gierige korporasie. Die vraag oor wie en wat ʼn held nou eintlik behoort te wees, kom ook ter sprake.

Dis ʼn fliek vir effens ouer kinders wat ma en pa eerder moet saam kyk.

4

ʼn Wetenskapfiksie-avontuur wat dalk nie die beste animasiefliek ooit is nie, maar steeds my sesjarige seuntjie laat jil het van plesier oor al die aksiebelaaide ruimte-avonture van Spark, ʼn tiener-apie.

Spark woon op ʼn verlate klip in die ruimte saam met Vix, ʼn veglustige vos en Chunk, ʼn tegnoslim vark. Spark vind uit hy is nie wie hy gedink het nie en dan moet hy boonop in ʼn oogwink die (ruimte)wêreld ook nog red van Zhong, die maniese leier van Planeet Bana en van ʼn vreesaanjaende ruimtemonster, die Kraken.

Bekendes soos Hillary Swank, Patrick Stewart, Susan Sarandon en Jessica Biel het die stemwerk gedoen.

(Ons het die oorgeklankte Afrikaanse-weergawe van die fliek gekyk, nie die Engelse weergawe nie. Dis ongelukkig nie meer op Showmax beskikbaar nie en dis nogal jammer! Waldemar Shultz is ʼn fantastiese Zhong.)

5

Geen kinder-vakansieflieklysie sal volledig wees sonder hierdie bekroonde kortfliek, wat ʼn verwerking van Julia Donaldson en Axel Scheffler se geliefde kinderboek is nie. Die Suid-Afrikaanse animasie-ateljee Triggerfish was ook hierby betrokke.

Stick Man is ʼn gesinsman wat saam met sy Stokkiesgesin in ʼn boom woon. Maar op ʼn mooi dag besluit ʼn seuntjie Stokman is net die stok om vir sy hond te gooi en ʼn swaan hy is net die stok vir haar nes en ʼn dogtertjie hy is die perfekte boot om in die rivier te laat afdryf. Ons held moet by die huis kom, maar hoe?

Die storie is op die oog af eenvoudig, maar kleiner kinders en sensitiewe kykers sal dalk ontstel word deur Stokman se ervarings (hy beland in ʼn stadium op ʼn hoop vuurhout in die kaggel). As jou kinders die boek met sy goeie uitkoms ken, sal hulle dit egter geniet.

Die musiek is lieflik en die stemwerk, onder meer deur die bekende Britse akteur Martin Freeman as Stick Man (hy het ʼn British Animation Award vir sy stemwerk as Stick Man gewen), is uitstekend.

6

ʼn Trop maniese llamas neem die plaas oor nadat die onbeholpe boer die spul as gevolg van Shaun se kattekwaad by ʼn veiling koop. Shaun geniet die vonkel in die llamas se oë en smee ʼn onheilige alliansie met hulle… tot dinge begin skeefloop en hy, Bitzer die hond en die res van die trop skape orde moet herstel.

Die ding met Shaun the Sheep (uit die Aardman-stal) is dat jy dit enige plek in die wêreld kan kyk en 8 tot 88 kan wees en dit steeds kan geniet. Hierdie een sal dus nogal goed werk as oupa en ouma (met ʼn humorsin) die vakansie saam met die kleinkinders ʼn fliek wil kyk.

Die moeite wat met elke liewe raampie in enige episode of fliek van Shaun the Sheep gedoen word, is deel van die karakters se sjarme – gaan kyk gerus ʼn agter-die-skerms-video op YouTube. Die humor is skerp en grappies kan met ʼn enkele grinnik of oogwink en sonder ʼn enkele woord uitgebeeld word.

Een keer ʼn Shaun-groupie altyd ʼn Shaun-groupie.

7

Hierdie kortfliek, ook deur Aardman, is ideaal vir kleiner kindertjies. Timmy is ʼn babaskapie wat kykers die eerste keer in Shaun the Sheep ontmoet het.

Hy het sy eie spin-off reeks gekry toe Timmy skooltoe moes gaan, waar hy maats maak met allerlei oulike diertjies soos ʼn uiltjie, katjie, krimpvarkie en hondjie. Die ene onskuld, buiten vir Timmy se streke en sterk wil…

In die fliek draai die kleuterskool se Kersfeesplanne anders uit as wat hulle gehoop het, maar hulle maak die beste van ʼn slegte saak.

Timmy en sy maats se stories moedig kreatiwiteit en verbeelding aan. Niemand praat nie en alles word met die karakters se gebare, oë en geluidjies oorgedra.

Probeer ook

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies