Menu terloops
In Lysie-lysie [18 Nov 2021]

TV-troos vir daai einde van die jaar-blues


Dis daai tyd van die jaar wat dinge begin ontrafel en die kleinste verantwoordelikheid soos ʼn berg voel. As “Novemberitis” ook vir jou ingeskop het, is ʼn lysie ligte, lekker kykstof dalk net die antwoord.

Deur Riëtte van der Wat
TV-troos vir daai einde van die jaar-blues

Toe my driejarige vanoggend luidkeels in die parkeerterrein geween het dat hy nié meer lus het vir skooltoe gaan nie, het ek presies geweet hoe hy voel.

Dis immers daai tyd van die jaar wat die meeste van ons wil weghardloop van ons verantwoordelikhede en ons kop eerder in ʼn gat wil druk, of langs die swembad wil lê. “Novemberitis”, noem ʼn sielkundige-vriendin die emosionele en fisieke oorlading wat hierdie tyd van die jaar op ons neersak.

Vandaar my “Novemberitis”-lysie vir kykstof oor die volgende paar weke. Beskou dié lysie as die televisie-weergawe van ’n slapbandvakansieboek. Almal se lysies gaan verskil, afhangend van jou voorkeure. Dalk is skop-skiet-en-donner jou idee van ontspanning; dalk is dit fantasie. Niemand kan jou hierdie tyd van die jaar met snobisme veroordeel oor jou voorkeur-kykstof nie…

Dit kan so ʼn bietjie cringe wees, dink Sweet Magnolias (Netflix) en Chesapeake Shores (Netflix) of hoogs aangeskrewe, dink White Lotus (Showmax). Solank jy so ʼn klein bietjie beter (en dalk selfs meer uitgerus) voel wanneer jy voor die televisie inskuif.

Die kriteria vir mý lysie is redelik eenvoudig, eintlik heel buigbaar en die genre maak nie eintlik saak nie: buiten dat dit nie té ernstig, té dramaties, té hartseer, of té verregaande moet wees nie, benodig ek bestanddele soos romanse, lieflike mans (yup), hoofkarakters waarmee ek kan vereenselwig (of soos wie ek kan streef om te wees), eksotiese plekke en (meestal) gelukkige eindes (om die waarheid te sê, is voorspelbaarheid hierdie tyd van die jaar nie net vergeeflik nie, maar noodsaaklik).

1

An Astrological Guide for Broken Hearts, Netflix

Dié nuwe Italiaanse romantiese komedie is net die regte medisyne vir einde van die jaar-blues. Daar is (ongelukkig net) ses kort episodes in die eerste seisoen en die pas is vinnig, lig en lekker. Die reeks se goeie draaiboek, hoë produksiewaarde en innemende karakters maak dit in alle opsigte bingeworthy.

Alice Bassi (Claudia Gusmano) het ʼn gebroke hart. Boonop werk haar eks en sy beeldskone nuwe geliefde saam met haar by ʼn televisie-produksiemaatskappy. Haar paaie kruis met dié van Tio (Lorenzo Adorni), ʼn akteur wat glo die antwoorde op ware liefde lê in sterretekens opgesluit. Te danke aan die flambonjante Tio kom Alice vorendag met ʼn suksesvolle speletjiesprogram waarin sterretekens deelnemers by hul pasmaats moet laat uitkom. Intussen probeer sy van haar eks vergeet deur met ʼn string mans uit te gaan – al waarsku Tio haar dat hul botsende sterretekens ʼn flop voorspel.

Gusmano se Alice is so bietjie Ugly Betty, so bietjie Jess van New Girl, met die verfrissende verskil dat niemand haar ʼn make-over wil gee nie en sy meestal heel gemaklik is met haar eie styl en in haar eie vel. En dan is daar Davide (Michele Rosiello), Alice se sexy nuwe baas wat met ʼn motorfiets en leerbaadjie by die werk aankom en elke nou en dan diep en betekenisvol in haar rigting staar.

Need I say more?

2

The Hookup Plan, Netflix  

Vriendskap en die liefde is van die temas in hierdie Franse-dramedie wat in Parys afspeel.

Nes in An Astrological Guide for Broken Hearts, koester die hoofkarakter Elsa (Zita Hanrot) al jare lank ʼn gebroke hart. Haar beste vriendinne, die dinamiese Charlotte (Sabrina Ouazani) en Emile (Joséphine Draï) is al moedeloos – tot Charlotte besluit genoeg is genoeg en die hulp van ʼn manlike metgesel inroep om Elsa se gebroke hart te help heelmaak.

Jules (Marc Ruchmann) is veronderstel om haar met ʼn aand van passie van haar eks te laat vergeet (hy doen net dié werk om vir sy ma te sorg, goeie man…).  Maar soos dit met hierdie tipe goed gaan, wil Elsa niks weet nie en Jules se hart vermurwe. Wat gaan sy doen as sy uitvind wie hy regtig is? 

Die reeks voel so bietjie soos ʼn kombinasie tussen Mills and Boon en ʼn Franse-weergawe van Friends, wat ʼn mens meer insig gee in hoe dertigplussers in Parys deur die lewe gaan.

3

Offspring, Netflix

Dié Australiese reeks wentel om dr. Nina Proudman (Asher Keddie) en haar maltrap familie. Daar is agt seisoene, wat beteken ʼn mens kan maklik ingesuig word in die maalkolk van Nina se lewe – die eerste twee of drie seisoene is egter die bestes. Later ontrafel dinge so bietjie.

Die eksentrieke Nina is ʼn verloskundige by ʼn groot hospitaal, maar haar persoonlike lewe is ʼn gemors. Haar verbeeldingsvlugte is pure plesier en sy beland gedurig in ongemaklike situasies.

Keddie is ʼn puik aktrise en dieselfde geld vir die res van die rolverdeling, wat haar vrygeestige pa Darcy (John Waters) en grootbek suster Billie (Kat Stewart) insluit.

En dan is daar dr. Chris Havel (Don Hany), Nina se aantreklike nuwe kollega, die middelpunt van haar romantiese obsessie en net die man om ʼn mens aan die einde van die jaar van die realiteit te laat vergeet.

4

Velvet, Netflix

Dié Spaanse romantiese reeks speel af in ʼn luukse klerewinkel in Madrid in die 1950’s en dis ’n art deco-wonderwêreld met lieflike klere, verbode liefde en hope Spaanse lewenslus.

Die produksie van elke episode van die reeks (daar is vier seisoene en twee spesiale ekstras) het glo derduisende Euro gekos.

Ana (Paula Echevarría) en Alberto (Miguel) kom uit verskillende wêrelde – sy is ʼn kleremaker en het grootgeword onder die winkel in die werkers se woonkwartiere; hy is die eienaar van die winkel se seun en word vir jare weggestuur koshuis toe om hom van Ana te laat vergeet. Natuurlik bly sy altyd sy groot liefde, maar met hope struikelblokke.

Buiten vir die puik produksiewaarde, voer die storielyn en karakters ʼn mens mee – dis soos ʼn baie, baie goeie telenovela.

Slapbandkykstof op sy beste.

5

Polisie-komedies was nog nooit regtig my ding nie, maar na ’n lang dag aan die einde van ’n lang jaar, is Brooklyn Nine-Nine dikwels al waarvoor ek kans sien.

Andy Samberg se speurder Jake Peralta is net die regte kombinasie onskuld, waagmoed en verspotheid om van dié sitkom ʼn plesier te maak.

Die sitkom is skerp en lighartig en soms plein simpel, maar dit maak dit soveel pret.

Al die akteurs in hoofrolle is fantastiese komediante. Stephanie Beatriz is briljant as die kurkdroë Rosa Diaz en Andre Braugher is die immer-ernstige kaptein Raymond Holt.

Peralta en Charles Boyle (Joe Lo Trugio) se bromance raak nooit afgesaag nie en vir Gina Linetti (Chelsea Peretti), die Nine-Nine se luidrugtige administratiewe beampte, lag ʼn mens die hardste.

Dié tyd van die jaar sal ʼn goeie skoot van Gina se selfvertroue baie handig wees.

6

New Amsterdam, Showmax

Ja-ja, ʼn hospitaaldrama is nie noodwendig ligte kykstof nie, maar die ding van New Amsterdam, is dat dinge (meestal) baie goed uitwerk as dr. Max Goodwin (Ryan Eggold) iets daarmee te doen het.

Mediese rekening te hoog vir ʼn pasiënt? Max maak ʼn plan en boom, die probleem is opgelos. Hawelose-pasiënt dink heeltyd siektes uit sodat hy in die hospitaal kan slaap en ʼn goeie bord kos kan kry? Max maak ʼn plan en, ja, jy’t reg geraai – boom, die pasiënt kry ʼn woonstel en ʼn werk. Dís die tipe goeie eindes wat ʼn mens nodig het aan die einde dié jaar waarin daar steeds ʼn donker (mediese) wolk oor ons koppe gehang het.

Klits daarby die persoonlike uitdagings en romantiese onderstrominge van die hospitaal se hardwerkende, eksentrieke dokters en jy het ʼn wenresep.

7

Noem my maar oppervlakkig, maar die akteur Matthew Goode sorg vir een van die sexyste, slimste vampiere wat tot nog toe op televisie was, en daarom is A Discovery of Witches op my Novemberitis-lysie.

Die reeks is gegrond op die skrywer Deborah Harkness se All Souls-trilogie. ʼn Historikus (en teësinnige heks) Dianna Bishop (Teresa Palmer) ontdek ʼn betowerde manuskrip in Oxford se Bodleaian-biblioteek en moet kragte saamspan met die charismatiese vampier en genetikus Matthew Clairmont om die boek se geheime te ontrafel, ten spyte van die jare lange wantroue tussen hekse en vampiere.

Palmer en Goode het onteenseglike chemistry en ʼn spul interessante karakters sorg vir aksie, avontuur en romanse wat teen ʼn vinnige pas ontvou.

Die eerste seisoen speel af in moderne Oxford en in die tweede seisoen reis die twee geliefdes deur tyd, terug na Elizabethaanse-Londen.

Die derde en laaste seisoen is in die pyplyn.

8

Hierdie eg-Suid-Afrikaanse komedie is ideale einde-van-die-jaar-kykstof. Veral as jy genoeg gehad het van self-ingenome influencers wat klaarblyklik nooit ʼn afdag het nie.

Julia Anastasopoulos (van SuzelleDIY-faam) is skreeusnaaks as Tali, ʼn karakter wat die momfluencer/influencer-fenomeen perfek opstuur, terwyl sy steeds ʼn karakter bly waarvan ʼn mens teen jou beterwete hou.

Die mockumentary is nootvas in sy uitbeelding van Suid-Afrikaners en laat ons lekker vir onsself lag.

9

Pursuit of Love, Showmax

Met kwessies soos feminisme, die onderdrukking van vroue en oorlog wat onder die loep kom, is Pursuit of Love seker nie eintlik “lig” nie. Maar die aktrise Emily Mortimer se regisseursdebuut is heerlike kykstof en voel soos ʼn lang-verlore uitstappie Cinema Nouveau toe.

Die drie-episode minireeks is gegrond op Nancy Mitford se gelyknamige roman van 1945 en speel af tussen die twee wêreldoorloë.

Dit wentel om twee niggies, die romantiese, vrygees Linda Radlett (Lily James, perfek vir dié rol) wat met ʼn ysterhand deur haar pa, Matthew (ʼn fantastiese, malse Dominic West) regeer word en haar meer ingetoë, belese niggie Fanny Logan (die uitstekend onderspeelde Emily Beecham), wie se maltrap ma (deur Mortimer vertolk) elke nou en dan die pad vat met ʼn nuwe man.

10

The Holiday, Netflix

Geen Novemberitis-lysie sal volledig wees sonder dié fliek nie. Selfs al het mens The Holiday al meer keer gekyk as wat jy kan onthou, bly dit die ideale uitlaatklep vir opgekropte emosies en een van die laaste regte goeie Hollywood-romcoms.

Goeie huilsessie nodig oor verlore liefde/ nuwe liefde/ vriendskap/ dierbare ou ooms wat jou help om met nuwe oë na die lewe te kyk? Kyk The Holiday.

’n Herinnering nodig dat die liefde regtig kan wen? Kyk The Holiday.

ʼn Lieflike klankbaan nodig ? Kyk The Holiday.

Jude Law in kasjmier-rolnektruie nodig? Kyk The Holiday.

ʼn Vakansie nodig? Jy kry die idee.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies