Menu terloops
In Recaps & Resensies [22 Sep 2021]

Honde wat aanhou blaf (en aanhou en aanhou…)


As jy die ouer van ’n kleuter is, is daar ’n trop honde wat al op jou spoor is, al probeer jy hoe hard om hulle af te skud: die PAW Patrol.

Deur Riëtte van der Wat

Kyk nou episodes van Paw Patrol

Honde wat aanhou blaf (en aanhou en aanhou…)
Kyk lokprent

As jy die ouer van ’n kleuter is, is daar ’n trop honde wat al op jou spoor is, al probeer jy hoe hard om hulle af te skud.

Hulle is soggens daar op jou kinders se beddegoed; hulle glimlag van die pajamas af; die enigste hempie wat boetie skooltoe wil aantrek, is die een met een van húlle gevrete op en die toebroodjies word in ʼn blou en rooi kosblik met die spul se kenteken daarop verpak en gedra in ʼn sak met dieselde kleurskema, natuurlik.

Hulle is aan die etenstafel en selfs op die strand en wanneer jy die televisie aanskakel, is hulle daar, “on the double”. En daar begin die “trouble”… Want elke episode van PAW Patrol is deel van een lang, weldeurdagte advertensieveldtog om ʼn magdom gelisensieerde produkte aan niksvermoedende ouers te verkoop. Wêreldwyd voer mammas en pappas die monster, sonder om veel daaroor te dink.

In ʼn oomblik van onverwagse ironiese-humor in PAW Patrol: The Movie, wat onlangs in teaters begin draai het, bewonder die brakke hul blinknuwe hoofkantoor in Adventure City.

“Hoe kon ons dié plek bekostig?” wil een van die honde bewonderend by Ryder, die baas van die plaas, weet.
Dié bring ʼn T-hemp met die PAW Patrol se ewebeeld daarop te voorskyn, trek sy skouers op en kondig aan: “Dis danksy al die produkte met ons handelsmerk daarop. Dié goed verkoop soos soetkoek!”

Tik jy “PAW Patrol” in op Amazon se soekfunksie, lewer dit 10 000 resultate op. Daar is ʼn meer konserwatiewe 285 opsies op Takealot en of jy nou by DisChem of Ackermans instap, daar sal die honde wees. Al die T-hempies, lekkergoed en speelgoed wat ouers soos ek en jy gelate vir ons brak-bedonsde spruite koop, het Spin Master, die Kanadese skeppers van die handelsmerk, verlede jaar alleen sowat $2 miljard in die sak gebring.

Popkultuur-fenomeen

Voorheen het Spin Master hulle hoofsaaklik daarop toegespits om aksie-speelgoed vir seuns te vervaardig wat deur animasie- en fliekkarakters uit ander maatskappye se stal geskep is. Maar hoekom die ander ouens verryk, as jy jou eie kinderprogram kan skep waarvoor jy die intellektuele eiendom van nuuts af kan opbou, het hulle in 2010 begin wonder.

Keith Chapman (ook die skepper van Bob the Builder) het die idee van PAW Patrol (hy het dit Robbie and the Rescue Dogs genoem) aan Spin Master verkoop en nadat die eerste episode in Augustus 2013 uitgesaai is, was daar nie omdraaikans nie.

Hulle is aan die etenstafel en selfs op die strand en wanneer jy die televisie aanskakel, is hulle daar, “on the double”. En daar begin die “trouble”…

Dit duur glo gewoonlik sowat 18 maande vandat ʼn nuwe kinderprogram die eerste keer uitgesaai word, voordat winkelgroepe bereid is om ʼn kans te vat op gelisensieerde produkte, maar vanweë die groot aanvraag daarvoor was die eerste PAW Patrol-speelgoed en -klere binne sowat sewe maande op die rak. Die handelsmerk, waarvan die negende seisoen in Februarie begin het, word as popkultuur-fenomeen beskryf en die groot televisie-indoenas meen dit sal moeilik wees om binne die volgende tien jaar nog ʼn kinderprogram te ontwikkel wat die sukses van die Pote Patrollie kan ewenaar.

Vanielje-roomys

Van Asië tot Amerika en Australië tot Amerika sit kinders van twee tot vyf (en dikwels ook hul ses- en sewejarige sibbe) vasgenael voor PAW Patrol. Dít ten spyte van groot verskille in taal, kultuur, lewensomstandighede, sosiale norme en waardes in verskillende wêrelddele.

Die feit dat die hondjies toeganklik moet wees vir enige kleuter in enige land op aarde, dra sekerlik by tot hoe die stories verpak word en die skrywers weet natuurlik presies watter resep hulle vir sukses moet volg. Dit beteken egter ook dat daar in PAW Patrol van nuanses en regte karakterontwikkeling maar min sprake is. Dis seker so ʼn bietjie soos vanielje-roomys: neutraal, voorspelbaar, betroubaar, en hoewel die roomyshorinkie verander, bly die smaak (en die storie) maar altyd min of meer dieselfde.

Al is dit so bietjie grys na my smaak, sal ek jok as ek sê ek los my kinders nie meer gereeld as wat ek moet in die brakke se geselskap nie. Dis ʼn veilige keuse en met enkele uitsonderings bly die inhoud altyd op klein kindertjies se vlak. Buiten die megalomaniese Mayor Humdinger wat gedurig ʼn belaglike obsessie ontwikkel met iets wat hy kan steel, gebeur daar ook nooit regtig enigiets donker of vreesaanjaend nie. Ryder en sy span honde is altyd reg vir ʼn reddingspoging, hulpvaardig, vriendelik en opgewonde oor die lewe – alles goeie goed. Nickelodeon bemark PAW Patrol immers as kindervermaak wat kleingoed leer van vriendskap en spanwerk en ook daarmee kan ʼn mens nie fout vind nie.

Dus, regtig ʼn veilige keuse. Of is dit?

Die eendimensionaliteit van die stories, vriendskappe en karakters is dinge wat al hoe meer aan my hakke begin hap. Ook die subtiele boodskappe wat klein breintjies indrink met elke episode wat hulle kyk.

As ʼn mens mooi daaroor dink, besef jy Ryder is die enigste karakter wat groot besluite neem, bevele uitdeel en dan toekyk hoe ander mense (néé, babahondjies) hulle in gevaarlike situasies begewe. Daar is seker uitsonderings, maar dis yl gesaai. Waar is dié Ryder-kind se ouers in elk geval? En waarom gaan hy nie skool nie? Ek weet, ek weet, suspend your disbelief

Paw Patrol
Van Asië tot Amerika en Australië tot Amerika sit kinders vasgenael voor die popkultuur-fenomeen, PAW Patrol.

Dan is daar die manier hoe volwassenes uitgebeeld word. Hulle is maar simpel, leer PAW Patrol ʼn mens. Grootmense beland gedurig as gevolg van dom besluite in dom penaries en is dan te dom om hulself weer daaruit te kry. Dit is net ʼn spul babahonde en ʼn tienjarige seun wat enigiemand kan red… tot daardie selfde grootmense maar net weer oor ʼn paar dae ʼn dom ding aanvang.

Dan is daar Amerikaanse-kindertelevisie (of Kanadees in hierdie geval) se vreemde obsessie met belaglike burgermeesters. My kinders begin nou al dink “Mayor” is ʼn voornaam soos “Frikkie”.

In die fliek word Mayor Humdinge ʼn soort Donald Trump-figuur – toring en al. En wie dra in elk geval ʼn hoender in haar handsak rond, Mayor Goodway? As Chickaletta minstens ʼn hoender met persoonlikheid was, sou dit ʼn ander storie gewees het, maar dié arme pikkende voël lei verseker aan Stockholm-sindroom en sou al lankal weggeloop het as sy van beter geweet het.

Liam Kennedy, ʼn kriminologie-professor aan King’s College in Londen, het verlede jaar sy skreiende bevindinge oor PAW Patrol in die joernaal Crime Media Culture gepubliseer. Hy meen die belaglike burgermeesters, die een korrup, die ander onbeholpe, leer kinders van kleins af om eerder hulle vertroue in private korporasies as in die staat te plaas. Hy het ʼn groot probleem daarmee dat die PAW Patrol ʼn staatsbefondse polisiediens vervang en meen dit kom alles op kapitalistiese propaganda neer. Sy eie tweejarige is verbied om die reeks te kyk.

Jammer ou Liam, al het jy ʼn punt beet, is ons twee se kritiek soos ʼn lastige luis op die Spin Master-brak se pels. Vir ons, skud hulle vinnig af.

Chase kry lewe

Met hul massiewe gehoor in 160 lande en die middele tot beskikking het Spin Master en Nickelodeon egter beslis ʼn reuse-verantwoordelikheid op hul skouers. Sou Zuma nie dalk meer sinvolle lesse oor herwinning kon oordra nie? Of Marshall dalk af en toe praktiese raad gee oor wat om te doen wanneer ʼn brand uitbreek nie? Dis tog universele dinge waaroor kinders moet leer.

Laat ek eerder nie praat oor die manier hoe sirkusdiere in PAW Patrol uitgebeeld word nie (waarom moet hulle in piepklein treinwaens ry en waarom kan húlle nie ook praat nie?).

Dan is daar ook die vraag oor wat nou eintlik van iemand ʼn held maak en hoe hierdie vraag deur die stories beantwoord word.

Is dit regtig ʼn goeie idee dat kleuters gevoer word met die idee dat jy net goeie goed kan doen as jy allerlei katoeters het om jou te help, of dat jy net heldhaftig kan wees as jy ʼn pup tag het en deel is van die een of ander eksklusiewe klub?

Wat leer ons ons kinders oor emosies en gevoelens, as almal altyd nét gelukkig en paraat is?

Vir my was die eerste sprankie hoop toe ek onlangs saam met my driejarige PAW Patrol: The Movie gaan kyk het en Chase, die polisiehondjie, ʼn meer volronde karakter sien word het.

Vir Chase is Adventure City ʼn groot, skrikwekkende plek waar hy as klein hondjie op straat gelos is. Dit is hier waar Ryder hom gekry het en ʼn tweede kans gegee het. Wanneer hy saam met sy kamerade na die stad moet terugkeer om Mayor Humdinger te laat les opsê, vul die gedagte hom met weersin. Dit is ʼn plek wat hy nooit weer wou sien nie.
In een toneel staan Chase bewend op die lysie van ʼn hoë gebou. Hy moet iemand red, maar hy kan nie, want traumatiese herinneringe uit sy verlede maak hom angsbevange. Later verloor hy sy spesiale toerusting en moet hy dan op sy vernuftigheid staatmaak om vir Ryder te red.

Dís van die beste tonele in die hele franchise, want vir die eerste keer word een van die honde ʼn karakter van vlees en bloed. Skielik het Chase ʼn verlede wat sy persoonlikheid help vorm het. Hy het swakhede en hy word bang en já, hy oorkom sy vrese, al is dit nie maklik nie. Dis iets wat kinders vandag meer as ooit mόét sien: almal word soms bang en daar gaan tye wees wat jy baie diep moet delf om die regte ding te doen.

Nog ʼn hondjie wat haar sout werd is, is Liberty, wat in die fliek bekendgestel word as ʼn vindingryke straatbrak wat graag ʼn lid van die PAW Patrol wil wees. Die skewewiel-waentjie wat sy vir haarself gebou het om te kom waar sy wil wees, dui op veel meer vindingrykheid en innovasie as enige van die patrollie se monstervoertuie. Tog word selfs dit binne ʼn japtrap met ʼn blinknuwe bromponie vervang.

So wat is die lessie? Net blink en mooi en nuut en groot is goed? Tuisgemaak en planne maak is minderwaardig?
Ek weet egter al my geblaffery oor die PAW Patrol is teen die wind. Kinders gaan tien teen een nie optel op Ryder se onderliggende narcisme nie. Hulle hou van die kaleidoskoop rekenaar-geanimeerde kleur en klank; van die rymende slagspreuke en monstervoertuie.

En almal hou van die geheime bestanddeel: babahondjies.

So of siniese ouers en bekommerde akademici dit nou wil aanvaar of nie, die PAW Patrol is hier om te bly. ʼn Mens kan maar net hoop jou kinders vergeet gouer, eerder as later, hoe hulle deur die brakke gebreinspoel is en dat jy self eendag daai dekselse openingsliedjie uit jou kop sal kan kry.

  • PAW Patrol: The Movie is nog nie vir streaming beskikbaar nie, maar jy kan wel die TV-reeks op Showmax en regstreeks op Nick Jr (kanaal 307) op DStv kyk.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies