Menu terloops
In Wat om te kyk [11 Sep 2024]

Silwerskermfees 2024: Dié kortfilms hierdie week op TV


Plaaslike filmmakers het – oudergewoonte – uitgehaal en gewys op die 12de Silwerskermfees. Die tweede sarsie stories vanaf vanjaar se fees word hierdie Saterdagaand, 14 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Silwerskermfees 2024: Dié kortfilms hierdie week op TV

Hierdie Saterdag, 14 September 2024, om 20:00 word die volgende kortfilms op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai: Baas se honne, Selah, Ons, Steek vir steek, en Groot Twis.

Baas se honne

Wenner van die Silwerskermtoekenning vir beste redigering (Leon Visser) en beste shotgun-kortfilm.

Met ’n klankbaan deur Peach van Pletzen en ’n rolverdeling wat skermgunstelinge soos James Borthwick en Albert Pretorius insluit, skep die draaiboekskrywer, regisseur en mede-vervaardiger van Baas se honne, Bennie Fourie, ’n donker komedie wat diepte uit die verspotte myn.

Baas se honne draai om Gys (Albert Pretorius), wie se morsige lewe hom in ’n besonder donker hoekie laat beland. Sy baas, Roelf (Carel Nel), moet sorg vir, en skoonmaak agter ’n hondjie wat hy uitdruklik nie wou hê nie. Nou dwing hy vir Gys om sy vuilwerk te doen en vir Buksie van kant te maak – dis óf sy werk óf die woef. Gys moet vinnig ’n plan maak …

“Ek is baie lief vir donker stories en ek word gelok na stories waar mense in moeilike situasies is, wat donkerder uitspeel as wat mense verwag,” vertel Bennie oor die prent.

“Ek is gewoond aan komedie, maar ek is baie afhanklik van dialoog-komedie en met Hotel, Taktiek en Vuil wasgoed het ek baie gesteun op grappies in die dialoog. Maar ek wou myself uitdaag om ’n fliek te maak wat nie eintlik op die dialoog van die komedie fokus nie, eerder op wat gebeur. Ek wou só kyk of ek ’n bietjie ernstiger komedie kan doen, soos die Coen-broers baie goed reggekry het met Fargo en daai klas van storie. Ek wou nie komedie ondermyn deur hoofsaaklik op dialoog staat te maak nie.”

Lees die volledige onderhoud met Bennie.

Selah

  • Wenner van die 2024 Silwerskermtoekenning vir beste aktrise in ’n kortfilm vir Erica Wessels

In Brett Michael Innes se ontnugterende kortfilm Selah vertolk Erica Wessels ’n slaap-ontneemde ma wat worstel met die wrede werklikhede van moederskap terwyl sy na haar koliekbaba omsien. In die looptyd van tien minute beeld die kortprent die dikwels versweë uitdagings uit van nuwe ouers wat sukkel om die fisieke, emosionele en geestelike eise van ouerskap baas te raak.

Met dié prent bring die veelbekroonde regisseur en vervaardiger ’n ingetoë, ontstellende verkenning van postnatale depressie na kykers.

“Omdat Selah ’n statiese film van 10 minute is, het ons geweet die hoofrol moet gevul word deur iemand wat besit kan neem van die skerm, sonder dat daar noodwendig veel gebeur. Erica het diep binne haarself gedelf om gestalte aan die karakter te gee. Wanneer mens na die film kyk, kan jy dit tot in haar liggaam sien. Dit was ’n groot eer om twee meter ver van haar vertolking te kon wees,” vertel Brett.

Lees ook Herman Eloff se volledige onderhoud met Brett oor die kortprent – én die film se verkenning van postnatale depressie (PND).

Ons

Die kortfilm Ons, wat in die Silwerskermfees se opkomende filmmaker-kategorie aangebied is, sien hoe ’n getroude paartjie se verhouding oor die loop van ’n enkele nag onherroeplik verander. ’n Reeks onthullings en ’n noodlottige voorval neem vir Liezl (Izel Bezuidenhout) en Dirk (Jacques Adriaanse) op ’n stormagtige emosionele reis van verraad, misverstande en kinkels soos hulle in die donker nag se kloue verstrengel word.

Christopher van der Westhuizen, regisseur en mede-draaiboekskrywer, vertel dié senutergende howdunnit/whodunnit-drama se hooftema is die vraag: Wat beteken ’n lewe as daardie lewe joune kan vernietig? “Dit het ons toegelaat om oor ’n verhouding, veral ’n huwelik, te praat – die verhouding wat veronderstel is om die belangrikste te wees. Wat beteken dit as daardie persoon jou verraai? Of as daar misverstande is?”

Lees die volledige onderhoud met Christopher.

Steek vir steek

Steek vir steek, met geliefde akteurs soos Susan Coetzer en Jürgen Helberg in die rolverdeling, is ’n komedie met ’n unieke aanslag en stoute humorsin. 

Steek vir steek, Silwerskermfees
’n Toneel uit die komieklike Steek vir steek. Foto: Verskaf

In Jaco van Bosch en Jacqueline Viljoen se Steek vir steek is ’n groep breiklub-tannies op die punt om uit hul ouetehuis geskop te word. As die ontvangsdame, Koekie (ook vertolk deur Viljoen), en Rita (Susan Coetzer) dan ’n dating app skep waarmee Rita en haar breiende makkers ouer mans – teen ’n prys – ontmoet om só fondse vir ’n huurhuis in te samel, steek die jong eienaar, Gertjie, egter ’n stok in die wiel. Nie net is die dak oor Rita se kop nou in gedrang nie, maar ook haar romantiese verhouding met Gertjie se oupa …

Volgens Jaco, die film se mede-draaiboekskrywer en regisseur, vertel dat dit ’n baie groot eer was om met sulke fantastiese en welbekende name in die bedryf te werk. “Hulle het my taak eintlik baie maklik gemaak. Ek het net ’n paar gesprekke met elke akteur oor hul karakter gehad en hulle het dadelik verstaan wat ek wou hê. Hulle het die karakters dimensies gegee wat ek self nie eens kon opmaak nie! Ek is verskriklik dankbaar aan elkeen.”

Lees die volledige onderhoud met Jaco.

Die Groot Twis

  • Benoem vir 2024 Silwerskermtoekennings vir beste regie van ’n kortfilm deur ’n opkomende filmmaker, beste kortfilm deur ’n opkomende filmmaker, en beste redigering in ’n kortfilm

Van die uitgestrekte Karoovlaktes tot die ruwe Drakensberge speel ’n Afrikaanse koeng foe-komedie met marionette hom af in die kortfliek Die groot twis. “Pop, skiet en donder” beloof die lokteks van die skrywer en regisseur Johann Vermaak se satiriese fliek, wat die geskiedenis van Die Groot Trek én Suid-Afrika op die kop keer. Dis ’n Afrikaanse Western met ’n retro-aanslag en ’n goeie skoot feminisme op die koop toe.

Die groot twis,Silwerskermfees
’n Toneel uit Johann Vermaak se satiriese kortanimasie, Die groot twis. Foto: Verskaf

As hoof-poppespeler by die politiese satire ZA News, gegrond op die werk van die spotprentkunstenaar Zapiro, het Johann, ’n akteur, en sy kollegas lank gespeel met die idee van poppe wat kan baklei.

Hy doen self al jare lank koeng foe en toe die geleentheid hom voordoen om in te skryf vir vanjaar se Silwerskermfees, het hy sy aweregse komedie voorgelê oor twee mans, Jakobus (Eben Genis) en Mhlope (Wiseman Sithole), wat alles in die stryd werp om te baklei vir wat hulle dink aan hul elkeen behoort. Cintaine Schutte het die stemwerk vir Marietjie gedoen. ’n Meisie wat die ene onskuld is. Of is sy?

Lees Johann se onderhoud met terloops se Riëtte van der Wat.

En die res?

Hier is wanneer die res van die titels op kykNET en DStv Stream uitgesaai word.

21 September 2024, 20:00

  • Liminale
  • In die verloop van
  • Deuntjie
  • Die Boodskapper
  • O! Griet, Sy’s droog

28 September 2024, 20:00

  • Maak stil die geblaf
  • Tussen die draad en die dropper
  • Vergeet van my
  • By die soutwater

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies