Menu terloops
In Sepies [10 Sep 2023]

Sepievoorskou: Nuwe liefde en noue ontkomings in ‘Diepe Waters’, ‘Binnelanders’ en ‘Suidooster’


Vriendskap en liefde is nie altyd genoeg om jou gelukkig te maak nie. En soms is dit juis die mense naaste aan jou wat die mat van onder jou voete uitruk. Hier is wat jy hierdie week (11 tot 15 September) op sepies soos ‘Binnelanders’, ‘Diepe Waters’ en ‘Suidooster’ kan verwag.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Nuwe liefde en noue ontkomings in ‘Diepe Waters’, ‘Binnelanders’ en ‘Suidooster’

Ons het die inside scoop oor die grootste storielyne wat hierdie week in Binnelanders, Diepe Waters en Suidooster gaan uitspeel. Moenie worry nie, dié sepievoorskou het geen spoilers nie!

Diepe Waters

Karla (Daniélle Swanepoel) wil haar brood aan albei kante gebotter hê. Maar dit is ongelukkig nie hoe die lewe werk nie. Sy sal maar moet besluit of sy nog ’n tiener wil wees of ’n volwasse, want jy kan nie met ’n man weghardloop en dan verwag dat jou vriende sy lewens moet stilstaan nie. 

Karla het erge FOMO en voel ook effens jaloers op Charity (Dané de Waal) se verhouding met haar familie en bestie. Sy neem dié week ’n groot besluit, wat meer as een persoon gaan raak.

Dit is ook ’n groot week vir Pam (Tracey-Lee Olivier), wat onverwags die man van haar dromme ontmoet. Maar niks in sepieland is ooit per toeval nie en Pam gaan nog uitvind dat hierdie eintlik die man van haar en haar ma se nagmerries is. 

Vir Lettie Lettie (Stephanie Baartman)  wag daar ook ’n nagmerrie: sy en haar ma sit glad nie om dieselfde vuur nie, maar nou wil sy vir Lettie kom kuier. Lettie kan aan niks erger dink nie, maar Henry (Stiaan Bruwer) sien hierdie kuier as die perfekte geleentheid om ’n groot stap in hul verhouding te neem.  

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar. 

Binnelanders

Almal by Binneland is angsbevange met die dat Conrad (Hykie Berg) steeds vir sy lewe in die intensiewe sorgeenheid baklei. Selfs die magtige At (Hans Strydom) se senuwees is klaar. 

Nicolette (Kate Roothman) het nog nie een keer Conrad se sy verlaat nie en besef dat sy dalk dieper gevoelens vir hom het as wat sy gedink het. 

Daleen (Desiré Gardner) sukkel ook om haar gevoelens vir Tertius (Reynardt Hugo) te verbloem. Dít veroorsaak groot ongemaklikheid en potensiële probleme vir Tertius se verhouding met Tracy (Melinda Brink). 

Tracy wil graag daar wees vir Nina, wat dié week ’n groot bom gaan laat bars, maar bevind haarself ook tans in ’n penarie. Die universe verstaan mos nie altyd wanneer jy ’n break nodig het nie. Alles gebeur mos altyd op dieselfde tyd en arme Tracy gaan swaar trek met moeilike besluite wat soos ’n swaard oor haar kop hang. Wat ook al sy besluit, haar en Tertius se toekoms gaan vir altyd verander.  

Intussen is Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi (Je-ani Swiegelaar) glad nie op dieselfde bladsy nie. Hierdie keer neem ek Louis nie kwalik nie, want ek sou ook nie ’n slang soos Bets in my huis vertrou nie. Ouer mense kan ook duiwels wees! Hulle is glad nie so weerloos soos wat hulle voorgee nie – veral nie iemand soos Bets nie… 

Delia (Odelle de Wet) en Steve (Clint Brink) vat nie grond nie en sal binnekort moet besluit wat gaan gebeur as Conrad nie wakker word nie. 

Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Suidooster

Dinge ruk handuit in Ruiterbosch en daar is geen lojaliteit onder vriende nie. Siya (Gantane Kusch) en Danni (Vashti Prins) neem drastiese stappe om geregtigheid vir Brendan (Caleb Arnolds) te kry. Maar soms is slagoffers glad nie so onskuldig nie!

Carlo (Jadon Booysen) breek uiteindelik sy stilte, maar dit mag dalk te laat wees, veral omdat die polisie nou op sy spoor is. 

Enigiemand wat sê dat die liefde ’n ouderdomsbeperking het, het obviously nog nie vir Kate (Annelisa Weiland) en Rassie (Jürgen Hellberg) saam gesien nie. Dinge kook tussen dié twee. En al is dit soms ’n bietjie awkward om na hulle interaksie te kyk, is dit tog so oulik. Rassie wil net vir Kate bespring, maar hy behoort te weet dat Kate ’n “regte dame” is. Hy gaan hard moet werk voordat sy hom naby haar lippe gaan toelaat. 

Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies