Menu terloops
In Sepies [23 Feb 2025]

Sepievoorskou: Noue ontkomings in ‘Diepe Waters’, ‘Binnelanders’


Niks bly ooit vir lank ’n geheim nie. Terwyl een voormalige TV-skurk deur haar verlede gedreig word, word ’n ander se ou tricks die rede hoekom sy gevang word. Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek uitspeel.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Noue ontkomings in ‘Diepe Waters’, ‘Binnelanders’

Hier is waarna jy hierdie week (24 tot 28 Februarie) op Suidooster, Diepe Waters en Binnelanders kan uitsien. 

Binnelanders 

Ons het lanklaas ’n lekker aksiebelaaide episode gehad, maar hierdie week stel beslis nie teleur nie. Vir weke nou al wonder mense of LJ (Julian Robinson) net te fyngevoelig is en of Riekie (Zandélle Meyer) nie regtig ’n nuwe bladsy omgeslaan het nie. Wel, alles word hierdie week onthul. Van wie die toutjies trek, wie Ella (Marlee van der Merwe) se lewe in gevaar stel, en wie nou eintlik die vark in die verhaal is – álles kom uit. En niks is eintlik soos wat ons gedink het nie! Die week eindig werklik op ’n hoogtepunt met ’n naelbytende toneel en cliffhanger wat dalk meer as een dokter se talente in gedrang bring… En in ’n poging om Ella, Binnelanders se eie kat met nege lewens, te red, beland iemand anders in warm water! Julle wil nie hierdie week se riller mis nie. 

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Diepe Waters 

Elke hond kry sy dag, al het daai hond nou kamstig in ’n engel verander. Karma vergeet nooit van jou nie en al draai die wiel van geregtigheid stadig, draai dit wel. En tensy jy al jou kaarte op die tafel geplaas het toe jy verander het, sal jou geheime áltyd by jou kom spook. Vra maar vir Zelda (Sandi Schultz), wie se kombuistee amper in ’n gedenkdiens hierdie week verander het. Ek weet nie waar Zelda die geld vandaan gaan kry nie, maar as sy nog met Gys (Justin Strydom) wil trou, sal sy maar ’n paar miljoen moet uitkrap. Zelda word heeltyd deur iemand gedreig of afgepers. Dit is maar hoe dit gaan as jy vir jou met die verkeerde dinge besig hou.

Shame, ek voel nogal vir haar. Verlede week het ek gedink René (Marijke Coetser) is haar grootste probleem, maar René en Gys se ou piksoen is niks in vergelyking met die situasie waarin sy haarself nou bevind nie. Onthou julle toe Zelda vir Gys wou bykom en toe vir Charity (Dané De Waal) en Karla (Daniëlle Swanepoel) amper hul drome gekos het? Wel, ons is nie die enigstes wat dít onthou nie. As dit uitkom, mag dit dalk net vir Gys en René in mekaar se arms laat beland.

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Suidooster 

Lyk my dan nou Rhafiek (Irshaad Ally) wil in sy pa se spore volg. Kaashifa (Jawaahier Petersen) het groot berou oor wat sy aan Dullah gedoen het, maar Rhafiek kan mos hardkoppig wees. Dit help ook seker niks dat Kaashifa weereens die Carmen-kaart (Desiré Gardner) voor Fiekie se kop gooi nie. Sy glo mos steeds dat Fiekie saam met Dullah en Carmen happy family wil speel. En al is dit nie waar nie, is haar uitbarsting genoeg om Fiekie te laat twyfel. En al weet ek die storielyn maak mense warm onder die kraag, moet ons vir Jawaahier vir haar uitstekende toneelspel prys. Ek het hoeveel keer voor die TV geskel hierdie week, maar nie so hard soos toe Mymoena (Jill Levenberg) iets doen wat die Samsodiens se huwelik kan omdolwe nie. Fiekie gaan nie hierdie een sommer laat gaan nie. 

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies