Menu terloops
In Sepies [2 Feb 2025]

Sepievoorskou: Karma kom klop in ‘Skemergrond’, ‘Diepe Waters’


’n Verbode soen, ’n poging tot moord en iemand wat ’n bietjie van hul eie medisyne kry. Lees ons sepievoorskou vir meer oor wat op kykers hierdie week wag. 

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Karma kom klop in ‘Skemergrond’, ‘Diepe Waters’

Hier is waarna jy hierdie week (3 tot 7 Februarie) op Suidooster, Skemergrond, Diepe Waters en Binnelanders kan uitsien. 

Diepe Waters

Julle! Julle gaan nie glo wie hierdie week alweer troos in mekaar se arms vind nie. En die keer praat ek nie net van ’n piksoen nie – hulle sluk byna mekaar se lippe in! Al waaroor ek kon dink, is die nagevolge. Want, genade… Die poppe gaan dans! 

Zelda (Sandi Schultz) lyk asof sy wil skuldig voel oor haar bydra in René (Marijke Coetser) se pyn, maar sy is ook nie té bekommerd nie. Hoe meer Zelda vir haar kan oortuig om te waai, hoe gelukkiger voel sy, maar René wil net nie byt nie. Zelda beter oppas, want as sy so aanhou, gaan sy self veroorsaak dat sy vir Gys (Justin Strydom) verloor. 

Die soektog hou aan, maar of hulle vir Lucas (Caleb Swanepoel) betyds gaan vind, sal julle maar self moet uitvind. Fourie (David Louw) is stomgeslaan wanneer iemand hom onkant vang en vir hom goed op sy plek sit. Dit moes al lankal gebeur het en ek het my daarin verlekker. 

Ek was nog altyd ’n groot aanhanger van Nina (Reze-Tiana Wessels), maar Nina 2.0 raak nou te veel. Sy maak my glad bang. Karla (Daniélle Swanepoel) en Sanet (Nadia Valvekens) het die wit vlag probeer waai, maar Nina kry hierdie week ’n gas en hul mooi gebaar blaas op ’n epiese manier in hul gesigte op. 

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Skemergrond 

Karma is ’n b*$#sh, vra maar vir Christine (Devonecia Swartz)! So ’n lekker toneel, het ek lanklaas gekyk. Ek het so breed geglimlag en hande voor my TV geklap, want die verleentheid was tasbaar en ek het elke oomblik daarvan geniet. Ja, Christine, wraak teen ’n TV skurk is een van die lekkerste dinge vir my. Hierdie een gaan beslis haar ego vir ’n laaaaaaang tyd seermaak, want ná dié week is daar nie ’n rots groot genoeg waaronder Christine kan wegkruip nie. Maar soos ons gas vir haar hierdie week laat verstaan het, dít is mos wat gebeur wanneer jy “’n kanker in die samelewing is”. 

Gloria (Hunter Plaatjies) probeer haar familie red, maar dinge begin nou in ’n gevaarlike rigting draai en ons praat nou van lewe en dood. Hoe gaan sy haarself en haar broer uit die gangsters se kloue kan red?

Junior (Ayden October) het opwindende nuus wat hy met die familie wil deel, maar dis nie so opwindend soos sy ouers se nuus nie. 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Binnelanders

Tracy (Melinda Viljoen) en Gaby (Maude Sandham) doen alles wat hulle kan om teen die donkerte te veg, maar hul tyd raak min en dit dwing vir Tertius (Reynard Hugo) om self in te spring. So romanties soos wat sy gebaar is, sou ek nooit hierdie ekstra stres gedurende my trouweek kon hanteer nie… En nou is Tracy en Tertius se sprokiesdag dalk daarmee heen. Skakel in as jul senuwees dit kan hou, want ek het self meer as een traan gestort vir hierdie week se emosiebelaaide episodes. 

Rian (Erik Holm) is dalk nou nie die mees emosionele mens nie, maar sy hart is altyd in die regte plek. Hy doen hierdie week iets wat weer sy regte karakter wys. 

Louis (Germandt Geldenhuys) moet maar hoop dat hy goed in oranje lyk, want dinge lyk nie goed in sy hofsaak nie. Ten minste sal hy nie alleen wees nie, want dit lyk asof die Binnelanders tronkvoëls mekaar so gereeld in die tronk se gange raakloop soos wat ek vir mense in Canal Walk-winkelsentrum raakloop. Julle sal nie glo wie mekaar hierdie week in die tronk ontmoet nie! 

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Suidooster 

Postpartum depressie is beslis nie speletjies nie, maar neem Kaashifa (Jawaahier Petersen) dinge te ver? 

Riaan (Daniel Coetzee) neem op sy beurt wel beslis dinge te ver en op ’n onverwagse manier: met Ruiterbosch se nommer een spinster. Shame

Damian (Caleb Felix) se dood het nou dalk finaal Wade (Deadn Smith) se lot bepaal en ek weet nie hoe ek daaroor voel nie. Who needs enemies with friends like Wade’s?! 

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

As jy hou van kosprogramme
0

Afrikaans kook groot! 10+ Afrikaanse kosprogramme om op DStv en Showmax te kyk

Ons is maar net mense, ons dink met ons pense... En daar is wraggies baie kosprogramme – in Afrikaans – waarin lipafleklekker geregte opgedis word.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer
Sien alle opsies