Dinge is weer deurmekaar op die kassie dié week. Ek skakel natuurlik in vir die drama, spanning en angs, maar elke nou en dan wil ek ook darem glo dat geluk vir ons almal beskore is. Maar ag, dit het ook seker sy eie plek op Disney.
Hier is waarna kykers hierdie week (22 tot 26 Julie) op Suidooster, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.
Skemergrond
Die gemeenskap van Gemoedsdrif word hierdie week geruk deur die sterfte van ’n groot steunpilaar in die gemeenskap. Terwyl hierdie skok dood vir meeste ’n tragedie is, is daar iemand na aan die oorledene wat baie verlig is…
Dit veroorsaak vrywing in een van die gesiene families in Gemoedsdrif. JP (Charlton George) en Jasmine (Khadija Heeger) mag dalk nou weer op dieselfde bladsy wees wanneer dit by hul cash flow kom, maar hulle deel definitief nie dieselfde gevoelens oor hul verlore dogter, Lily (Hildegardt Whites), nie. Jasmine kry uiteindelik ’n blue tick nadat sy sekere inligting met Lily deel en dít gee haar hoop, maar as ek so na sake kyk, lyk dit asof JP baie meer inligting rondom Lily se verdwyning weerhou.
Gloria (Hunter Plaatjies) word gedwing om vinnig ’n plan te maak anders is daar dalk nog ’n sterfte op Everlasting, want die cardboard gangsters is op ’n mission. Ongelukkig onderskat hulle vir Kevin Johannes (Gershwin Mias), maar dit het vir groot sports en ’n lekker Karate Kid-oomblik gesorg.
Ek het nie geweet daar is so baie lae aan Ruan Smit (Dann-Jaques Mouton) nie, maar ná hierdie week sien mens ’n ander kant van hom soos dit Fabian (Marunzo Thomas) en Patty (Gretchen Ramsden) betref.
Skemergrond saai weeksdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream uit. Dit sal ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar wees.
Suidooster
Wie nie waag nie, wen nie! Maar soms kom dit teen ’n groot prys soos arme Godfrey (Lochner de Kock) hierdie week moes uitvind. Maak nie saak hoe slim mens dink jy is nie, ’n skelm soos Nazeem (Irvine van der Merwe) is uitgeslaap en laat nie toe dat jy hom vir ’n ride vat nie. Hy hou nog minder daarvan as jy tussen hom en sy geld kom. Maar ek wonder hoe diep in die moeilikheid ou Texas (Donovan Pietersen) gaan wees as Zimpie vir Mymoena (Jill Levenberg) in Lonestar Casino kry?
Moena kan nou byna die Sassa-lyn sien, want sy blaas geld teen ’n blitsige spoed. Boonop kan sy nie meer met haar eie leuens byhou nie. Nadat iets haar wakker laat skrik, raak sy desperaat vir Gary (Craig Adriaanse) se hulp. Maar hoe lojaal is Gary? En dan is daar natuurlik die hoop dat Mymoena haar gemors gaan los… Maar as daai geldduiwel jou eers byt, is dit maar moeilik.
Kate (Annelisa Weiland) en Siya (Gantane Kusch) het amper met hul geheim weggekom. Maar dan ontvang hulle nuwe inligting en moet besluit of hulle hulself gaan ontmasker.
Thys (Emile Tredoux) se jaloesie laat hom iets drasties aanvang. In plaas van sy huwelik red, dink ek hy het sopas finaal vir Lisa (Elsje Slabbert) in Aiden (Theodore Jantjies) se arms gestoot.
Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.
Binnelanders
Nicolette (Kate Roothman) en die res van die Binneland-span probeer nog sin maak van Steve (Clint Brink) se besluit. Boonop was dit die finale spyker in Nicolette se chirurgie-drome se doodskis. Sy vind egter interessante nuwe gereedskap om haar hande mee besig te hou.
Tracy (Melinda Viljoen) reël ’n spesiale funksie by Conrad (Hykie Berg) se huis wat sy hoop sal opmaak vir die mylpale waarop hy reeds uitgemis het. Ella (Marlee van der Merwe) en Naomi (Je-ani Swiegelaar) sit vas wanneer dit by LJ (Julian Robinson) kom. But boys will be boys en Louis (Germandt Geldenhuys) vind nuwe maniere om met LJ te bond.
Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.