Menu terloops
In Sepies [13 Aug 2023]

Sepievoorskou: Messe uit, drome in skerwe in ‘Diepe Waters’, ‘Suidooster’


Wanneer is dit te laat om goeie keuses te maak? Dit is die grootste vraag in sepieland die komende week. Waarna kan jy hierdie week (14 tot 18 Augustus) op ‘Diepe Waters’, ‘Arendsvlei’, ‘Suidooster’ en ‘Binnelanders’ uitsien?

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Messe uit, drome in skerwe in ‘Diepe Waters’, ‘Suidooster’

Diepe Waters 

As mense net wil luister sal dit hulle soveel pyn spaar. Tsepho (Johnny Potsanyane) smeek nou al vir weke vir Nina (Reze-Tiana Wessels) om dinge stadiger te vat in Diepe Waters. Nina het egter mos erge tonnelvisie gehad oor die Amerikaanse beurs en haar toekomsplanne. Nou het die dag uiteindelik aangebreek… En dit mag dalk te laat vir haar en haar drome wees. 

Johan (Liam Bosman) mag dalk nie almal se gunsteling-swemmer wees nie, maar hy bewys dié week dat mense kan verander. In ’n oomblik waarin sy besluit die verskil tussen lewe en dood kan beteken, wys hy vir almal wie hy regtig is. 

Pam (Tracey-Lee Olivier) se klein confession teenoor haar pa was nou die finale spyker in Jacques (Werner Coetser) se kis. Gys (Justin Strydom) is nou regtig gatvol. Jacques beter ekstra liggies trap, want Gys soek vir ’n rede om ’n bom te laat bars.   

Lettie (Stephanie Baartman) maak ’n fout sonder Henry se medewete… En ongelukkig is dit nie maklik om iets terug te trek as die skade alreeds gedoen is nie. 

Iets gebeur wat Karla (Daniélle Swanepoel) huis toe laat jaag, maar dalk het die Swarts-familie te vinnig opgewonde geraak. 

Kyk Diepe Waters op kykNET en DStv Stream (kanaal 144).

Suidooster 

Die messe is uit! Daar kan net een Kaapstad Vrou van die Jaar wees, maar beide Bridgette (Denise Newman) en Mymoena (Jill Levenberg) glo hulle is die beste kandidaat. Hier kom lekker sports, want Bridgette is beslis nie so kreatief en goed met haar hande soos Mymoena nie, terwyl Mymoena weer nie Bridgette se vele sake-konneksies het nie. Mense dink dit is soms rof op die speelgrond, maar daar is niks soos ’n kompetisie om volwassenes in kinders te verander nie. Die arme gemeenskap weet nie hoe hulle dit het nie, maar hulle sal vinnig moet besluit of hulle Span Bridgette of Span Mymoena is. 

Intussen dryf jong liefde ’n wig tussen Ruiterbosch se jongste manne. Dit maak dinge baie ongemaklik tussen die Thuli- en Daniels-huishoudings. Hulle sal moet besluit of hulle by hul seuns se liefdesprobleme gaan inmeng en kant kies, en of hulle hul eie vriendskappe gaan beskerm. 

Almal in Ruiterbosch vang gees vir die Wêreldbeker-toernooi wat binnekort afskop en Aiden (Theodore Jantjies) het iets wat almal wil hê. As hy nog vriende gesoek het, is dit nou iets van die verlede, want Aiden het oornag Mr. Popular geword.  

Elana (Esther von Waltsleben) en Susan (Natasha van der Merwe) se verhouding is by ’n kruispad wat besluite oor die toekoms noodsaak. 

Kyk Suidooster op kykNET en DStv Stream (kanaal 144).

Arendsvlei 

Lyk my daar is iets in die water, want dit reën verlowings in Arendsvlei. Whalied (Bobby Stuurman) en Ayesha (Megan Saayman) het lank gewerk aan hul verhouding, maar nou dat dinge uiteindelik vir hulle uitwerk, lyk dit asof Ayesha dalk koue voete kry. ’n Finale ultimatum sal hul lot bepaal. 

Clint (Clayton Evertson) is nou meer as ooit oortuig dat Beatrice (Jolene Martin) die vrou vir hom is. Maar Beaty soek avontuur en is nie bereid om Clint se kaalvoet rent-’n-ma vir Abigail te wees nie. Beatrice is al deur die tienerfase en het net-net haar sanity behou met haar eie dogter. Wie het dan nou lus om oor te begin met ’n rebelse tiener soos Abigail? Beatrice het diep besluite om te maak, veral omdat Clint haar uiteindelik wil gee wat sy nog altyd wou hê. Maar is dit te laat? En doen hy dit vir hulle of vir Abigail se onthalwe? 

Kyk Arendsvlei op kykNET en kie. en DStv Stream (kanaal 145).

Binnelanders

Steve (Clint Brink) en Delia (Odelle de Wet) se verhouding kan net nie die lewe se klappe hanteer nie. Hulle sukkel om mekaar te ondersteun met dié dat Steve steeds sy vermoede het oor dr. Stander (Janel Jordaan) en haar kamma-omgee vir sy pasiënt – veral noudat sy reputasie te sprake is. 

Dawid (Deon Lotz) probeer steeds Milan-bom (Anelma Meiring) te nagivate. Terwyl hy en Birdy (Natasha Sutherland) nie om dieselfde vuur sit nie, bring hierdie hele situasie vir hom en Liam (David Viviers) nader aan mekaar.

Kyk Binnelanders op kykNET en DStv Stream (kanaal 144).

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies