Menu terloops
In Onderhoude [14 Jun 2023]

Justin Strydom oor ‘Diepe Waters’-karakter: Gys Swarts só slu, ‘selfs ek is verstom’


Selfs hy is geskok oor hoe laag sy karakter in die telenovela ‘Diepe Waters’ kan daal om te kry wat hy wil hê, vertel die akteur Justin Strydom. Vir die aartsskurk Gys Swarts is dit immers altyd sy manier – of niks.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Justin Strydom oor ‘Diepe Waters’-karakter: Gys Swarts só slu, ‘selfs ek is verstom’

Nog nie van Gys Swarts gehoor nie? Dan lewe jy heel moontlik onder ’n klip, want sedert Oktober verlede jaar hou hierdie TV-skurk kykers vasgenael op die puntjie van hul stoele. Gys, vertolk deur die veteraanakteur Justin Strydom, staan aan die hoof van die Swarts-familie en is die eienaar van die Swartmarlyne-swemklub in kykNET se telenovela Diepe Waters.

Toe die skrywers van dié telenovela die drama en plot twists uitgedeel het, het Gys oënskynlik voor in die ry gestaan, want elke week bars daar net nóg ’n bom in hierdie karakter se gesig. Dat hy steeds staande is, is werklik ’n wonderwerk. En Gys laat hom ook nie onder kry nie!

Sy standaarde vir sy familie en sy swemmers is belaglik, en sy verlede haal hom nou vinnig in en dreig om sy toekoms en sy nalatenskap te vernietig. 

terloops het met Justin gesels oor sy eie ouerskapstyl, die lekkerte van Gys Swarts wees en die rustigheid van sy eie lewe.

Dit is Gys se way of die highway

Ná 30 jaar in die bedryf wonder ’n mens soms of ’n slinkse karakter soos Gys nog vir ’n gesoute akteur soos Justin kan verbaas. Glo dit as jy wil of nie, maar Gys het hom wraggies verstom. 

Kykers het al vir Justin in verskeie rolle gesien, maar selfs Justin is onkant gevang deur die dinge wat Gys, kamma uit liefde vir sy familie, aanvang. 

“Aan die begin het hy my regtig verstom. Hy is ’n mengsel van intens lief wees vir sy familie maar terselfdertyd sleep hy hulle deur die modder,” vertel Justin. 

“Ek was soos, ‘Wat vang hierdie ou nou weer aan?’ En nou is dit nie meer oor wat hy doen nie, maar dat hy bly voortgaan (daarmee)!”

Maar tog is hy gaande daaroor om die baddie te speel. Justin glo dié tipe karakter is the life of the party en dryf die storie vorentoe. Dit help ook natuurlik dat die skurke, volgens Justin, oor die algemeen briljante lyne het. 

“Gewoonlik, as ek die hoofkarakter speel, is daar iets goeds daar. Maar met Gys moet ek diep grawe om daardie stukkie goud te vind en terselfdertyd hoop die gehoor verstaan waar hy vandaan kom,” erken hy.

“Met Gys . . . Dit is asof hy in sy eie wêreld is. Jy dink miskien hy gee nie om nie, maar diep binne voel ek dat hy baie omgee. Dis asof hy oortuig is dat hy die geheime resep vir sukses het en nie kan sien wanneer hy verkeerd is nie.”

Die verskil tussen Justin en Gys

Vir Gys is dinge altyd swart of wit; reg of verkeerd. Daar is geen balans of grys nie. Dit is sy manier of niks. En as jy nie na sy pype dans nie, word jy blitsvinnig uit sy lewe of swemklub gegooi. 

Anders as Gys glo Justin dat almal foute maak en dat dít nie noodwendig ’n slegte ding is nie. En hy gaan sy geliefdes nie sommer afskryf soos Gys nie. 

“Gys het hierdie ‘kampioen of niks’-houding met sy familie. En jislaaik, hy vat dit persoonlik as hulle nie die mas opkom nie. Dis asof sy eie wêreld in duie stort,” vertel Justin ernstig. 

Die strewe na balans

“In my eie lewe is ek oor balans hou. My kinders is groot, hulle gaan foute maak, en dis oukei. Ek is altyd hier as pa.”

Daar’s niks soos die opwinding van akteur wees nie, maar om inhoud te skep – dis ’n ander soort towerkuns. 

Justin Strydom

As jy met Justin gesels, kom jy sommer vinnig agter dat familie vir hom bitter belangrik is. En soos met alles in sy lewe, soek hy altyd na daardie balans tussen sy passie vir sy werk en die kosbare tyd saam met sy gesin. 

Hy beskryf sy familie as sy vennoot op hierdie wilde rit as akteur. 

“Ek probeer om hulle saam te bring op die reis waar ek kan. Maar as ons paaie skei, is die oomblikke wat ons weer saam het, pure goud.”

Justin agter die skerms

So lief soos wat Justin vir sy gesin is, is daar geen twyfel dat hy ook ’n geweldige liefde en passie vir sy werk het. Die kreatiwiteit en opgewondenheid borrel oor as hy oor sy studente en die vermaaklikheidsbedryf praat.  

Ja, kykers mag hom dalk onthou as Wickus in Binnelanders, of Dries van Egoli, maar as Justin nie voor die kamera is nie, werk hy ook agter die skerms as skrywer en vervaardiger. Hy was onlangs die hoofskrywer van die dokumentêre reeks, My Name is Reeva, wat kyk na die lewe van wyle Reeva Steenkamp. (Dit is op Showmax beskikbaar om te stroom.)

As jy vir Justin vra wat hy verkies, kom die antwoord maklik: om inhoud te skep is vir hom spesiaal. 

“Daar’s niks soos die opwinding van akteur wees nie, maar om inhoud te skep – dis ’n ander soort towerkuns,” vertel hy opgewonde. 

“Dis soos om iets van voor af te kook. Natuurlik is dit moeilik, neem vir ewig, en dit mag in jou gesig opblaas, maar as dit werk, is dit soos om die lotto te wen.”

Justin Strydom Gys Swarts Diepe Waters
Anders as sy karakter in Diepe Waters, Gys Swarts, glo Justin Strydom dat almal foute maak en dat dít nie noodwendig ’n slegte ding is nie. Foto: Verskaf

’n Storieverteller soos min

Sy passie agter die skerms stop nie by inhoud skep nie. Justin is ook baie betrokke by die nuwe generasie akteurs en bied gereeld meesterklasse aan. Dit is ook hierdie passie en die talent van die nuwe generasie akteurs saam met wie hy die verhoog en stel deel, wat ’n storieverteller soos Justin baie positief laat voel oor die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. 

“Ons is nie te ver daarvan om ons akteurs wêreldwyd golwe te sien maak sonder om ’n Amerikaanse aksent op te sit nie. En hierdie jonges, as hulle hulle ritme vind, pasop!,” sê hy. 

“Die nuwe geslag akteurs het ’n moeilike taak, maar ’n kans om ’n impak te maak. Daar is soveel inhoud; hulle moet baklei. Maar, ek moet sê, die wêreld is nou hul verhoog. Hulle het ’n kans om Suid-Afrika op die kaart te sit soos nog nooit tevore nie.”

Wanneer dit by sy eie loopbaan kom, skets hierdie storieverteller ’n kleurvolle prentjie as hy sy loopbaan as ’n buffet van verskillende geure beskryf. 

“Daar’s studente-films waar almal ten volle betrokke is, en dis ’n wilde rit. Dan is daar iets soos Diepe Waters, wat soos ’n marathon is wat jy (saam) as ’n span hardloop. Dit is intens, maar man, daardie band wat jy bou, is die werklike ding.” 

‘Dis soos jazz-improvisasie’

En natuurlik is dit nog lekkerder as jy ’n toneel saam met ’n bekende gesig kan deel – soos Sandi Schultz saam met wie Justin al voorheen op die stelle van Binnelanders en Assignment gewerk het.

In Diepe Waters is Gys en Sandi se karakter, Zelda, ou lovers wat vyande geword het en elke dag aktief werk om mekaar te sink. 

“Wat ’n power house! As sy in ’n toneel is, moet jy jou bes bring. Sy is die tipe persoon wat altyd gewillig is om te eksperimenteer. Ons speel graag rondom die lyne tussen wat Gys en Zelda sê of nie sê nie. Dis soos jazz-improvisasie.”

Maar so lekker soos wat dit vir Justin in Gys se skoene is, is daar vir hom niks lekkerder as sy eie lewe nie. 

“As ek nie Gys is nie, is ek besig om ’n miljoen dinge te doen… Van nuwe stories brou tot reekse oorstem, komedie doen, of net ontspan met my hond. Miskien loop ek rustig langs die strand en luister na die geheime wat die golwe vertel. Dis my lewe nou . . . en dis flippen lekker.”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies