Menu terloops
In Sepies [12 Mei 2024]

Sepievoorskou: Bitter pille en swartskape


Rhafiek haal die wind uit Kaashifa se seile, terwyl dinge verby awkward tussen Tracy, Tertius en Conrad is. Hier is waarna kykers hierdie week (13 – 17 Mei 2024) op ‘Suidooster’ en ‘Binnelanders’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Bitter pille en swartskape

Elke familie het ’n swartskaap en ongelukkig vir Rossouw (Altus Theart) in Diepe Waters is hy die Swarts-familie s’n. Hy probeer so hard om sy plekkie binne die familie-empire te vind, maar elke keer as hierdie man een tree vorentoe neem, steek iemand binne die familie hom in die rug en neem hy weer twee tree agtertoe. 

Intussen breek sy eksvrou Sanet (Nadia Valvekens) haar bene om die nuwe dominee en sy vrou te beïndruk. Dit is nie maklik om ’n dominee se vrou te word wanneer jy met so baie baggage en geraamtes in jou kas moet lewe nie. Toe die dominee se vrou vir Sanet so met veroordelende oë aankyk het dit gelyk asof Sanet haar van die anderkant van die tafel af wou klap. Ek sou haar nie dié keer kwalik neem nie. Almal het geraamtes in hul kas en ’n geskiedenis. 

Tshepho (Johnny Potsanyane) se band met sy familie mag dalk sterker geword het, maar nadat sy neef se operasie nie ’n sukses was nie en hulle hom aan die dood moes afstaan, wil Tshepho niks van swem hoor nie. Die arme seun rou, maar Gys (Justin Strydom) sien net rooi. Hoe kan sy ster hom dan nou in die steek laat?

In Arendsvlei loop die spanning tussen die gemeenskap en die Galants hoog. Desmond ( Alistair Izobell) wil ryker word, terwyl Audrey (Taryn Hess) wil wraak neem. Dit veroorsaak nog meer ongelukkigheid tussen hierdie uitgeslape sibbe. Iemand gaan verloor en ek wet jou dit gaan Desmond wees, want Audrey sit beslis nie al haar eiers in een mandjie nie.  

Lee-Roy (Roberto Kyle) en Devon (Braeden Buys) het toe ingegee. Maar ongelukkig het hul geluk nie lank gehou nie. Onverwags daag Lee-Roy se ma se as op – en dit nadat hy nogal sterk geglo het dat die vrou hom ge-ghost het. Ronel (Melanie Du Bois) was maar altyd dramaties, maar hierdie exit vat nou regtig die koek.  

Binnelanders 

Praat van flippen ongemaklik wees! Ek weet nie wat deur Tracy (Melinda Viljoen) se kop gaan nie, maar dit is beslis nie reg wat sy aan Tertius (Reynardt Hugo) en Conrad (Hykie Berg) doen nie. Die dinamiek tussen hierdie drie bereik ’n hele ander vlak van ongemak hierdie week. Tracy word in ’n hoek gedruk en moet besluit vir wie sy gaan baklei. 

Nicolette (Kate Roothman) en Karen (Luandri Reynders) het albei ’n geheim wat Vicky (Roxanne Bornman) se lewe in groot gevaar stel. Maar gaan hulle betyds vir iemand daarvan vertel? 

Die waarheid oor Annetjie (Lorraine Burger) se stokperdjie word uitgelap en dit plaas haar in ’n moeilike situasie.

Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Suidooster

In ’n oogwink is Tim (Marco Spaumer) ou nuus. Dit is seker die vinnigste hofsaak wat ek al ooit op TV gesien het. Maar Tim het te veel mense omgekrap om hierdie een te ontsnap en kykers is bly dat hierdie hond uiteindelik sy dag gekry het. 

Kaashifa (Jawaahier Petersen) is vasbeslote om haar Moslem fine dining restaurant oop te maak. Sy wil nie net ’n koffiewinkel-eienaar wees nie, maar nie almal wil haar ondersteun nie. Rhafiek (Irshaad Ally) haal die wind uit Kaashifa se seile uit wanneer hy vir haar iets sê wat geen vrou ooit van haar man wil hoor nie. 

Gary (Craig Adriaanse) het verniet gedink hy is so slim. Sy nuwe liefde skok hom met ’n bitter pil. Dít terwyl Bianca (Simone Biscombe) en Riaan (Daniel Coetzee) teen die liefde baklei. 

Susan (Natasha van der Merwe) kry uiteindelik haar oorwinning, maar nou neem sy dinge ’n bietjie te ver. 

Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies