Menu terloops
In Sepies [14 Des 2024]

Van dodelike skietgevegte tot ewige liefde: Die beste sepie-oomblikke van 2024


Die jaar is amper op sy rug! Maar voordat ons 2024 groet, dink ons terug aan vanjaar se wipwarit in ons sepiewêreld. Ons gunsteling-sepies het onvergeetlike oomblikke gelewer wat ons vasgenael voor ons skerms gehou het – met kinkels wat skokkende verraad tot hartverwarmende reünies (en selfs aksiebelaaide drama!) ingesluit het. 

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Van dodelike skietgevegte tot ewige liefde: Die beste sepie-oomblikke van 2024

Hierdie storielyne het ons laat huil, uit ons maag uit laat lag en soms selfs ons geloof getoets – net nog ’n bewys van hoe sepies die hoeksteen van ons daaglikse plaaslike vermaak geword het. 

Ons het ’n lysie saamgestel van die grootste oomblikke wat vanjaar in ons sepies afgespeel het – van asemnemende cliffhangers tot kykers se gunsteling-verliefdes wat uiteindelik hul gelukkige einde gekry het. 

1

Dramatiese, dodelike einde

In ’n ware Arendsvlei-crescendo, ná jare se geskel op sosiale media, het die Galants se reign of terror tot ’n epiese einde gekom toe Desmond (Alistair Izobell), Bompie (Jarrid Geduld) en Rachel (Kim Syster), tydens die grootste skietgeveg van skurke elk hul doodskoot ontvang het. Natuurlik sou ’n cameo appearance van Wengrid (Rehane Abrahams) en Dorothy (Ilse Klink) my jaar gemaak het, maar die aksie, die musiek, die akteurs, en natuurlik daai laaste skoot van Audrey (Taryn Hess), het hierdie ’n onvergeetlike toneel gemaak… Dalk selfs my top-toneel van die jaar… 

2

Uiteindelik saam!

Arendsvlei, SEPIES
Dié twee het uiteindelik voor die kansel gedraai. Foto: Skermgreep

Asof die skietgeveg nie genoeg was nie, het ons almal die trane weggevee toe Arendsvlei se skrywers uiteindelik vir ons eie Meredith Grey en McDreamy hul sprokiestroue gegee het. Clint (Clayton Evertson) – ja hy was toe nooit dood nie – en Beatrice (Jolene Martin) het uiteindelik hul oomblik voor die kansel gekry. Een met baie liefde, familie, vriende en tradisie. Dit was lekker om van die ou gesigte te sien vir een laaste kuier in Mortlocks. En in plaas van something old, something new, something borrowed and something blue, het Thys (Sherman Pharo) vir sy suster en sommer vir kykers ook ’n nuwe tradisie begin met something lost, something found, something old and something gold.

3

Sanet se diepe rou

Min skrywers werk so hard soos die Diepe Waters-skrywers wat vir Sanet (Nadia Valvekens) storielyne skryf. In een van die mees hartverskeurende tonele vanjaar het kykers na hul asems gesnak toe Sanet uitvind dat Wim (Neels van Jaarsveld) in ’n motorongeluk gesterf het. Haar AA-bestie het haar kort voor sy sterfte vir haar oortuig om in Boskruin te bly en haar dominee-verloofde vir hom te los. Hy was juis op pad lughawe toe om van sy vrou te skei toe hy verongeluk. Die volgende paar weke was so emosioneel. Nadia het diep in kykers se harte geklim met haar egte vertolking van Sanet se rou. Bravo!

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

4

Mari verloor kop

SEPIES, DIEPE WATERS
Mari (Diandra Slabbert) was ’n nagmerrie uit ’n Hollywood-riller wat Sanet se lewe hel op aarde gemaak het. Foto: Verskaf

Sanet se storielyne was so goed hierdie jaar, sy kry sommer twee plekke op ons lysie! Toe sy hierdie jaar liefde vind by ’n dominee met ’n sagte hart was dit ’n omkeerpunt in haar lewe. Die enigste probleem was dat sy dogter nie die verhouding ondersteun het nie. Mari (Diandra Slabbert) was ’n nagmerrie uit ’n Hollywood-riller wat Sanet se lewe hel op aarde gemaak het. Dit het natuurlik vir lekker drama gesorg, want sy het haar selfs probeer afmaai! Maar gelukkig het die dominee toe vir Sanet gekies. Toe Sanet die dominee vir Wim los, het dit Mari finaal laat snap. Sy het Sanet vir moord ge-frame, maar het toe self in die tronk beland. Die verpletterende uitdrukking op die dominee se gesig sal ek nooit vergeet nie.

5

Mymoena en die dobbelduiwel

Sepievoorskou Suidooster
Mymoena (Jill Levenberg) het kop verloor toe die dobbelduiwel eers vatplek gekry het. Foto: Skermgreep

Vir weke moes kykers van die gewilde kykNET-sepie, Suidooster, toekyk hoe hul geliefde Mymoena (Jill Levenberg) haarself en haar waardes aan dobbelverslawing verloor. Nie net was dit haram vir Moena, wat ’n gesiene Moslem in die gemeenskap van Ruiterbosch is nie, maar dit was ook bloot ongewoon vir haar karakter. Die storielyn het die tonge op sosiale media laat klap danksy die skandaal. Maar mense het ook hul empatie en kommer teenoor een van hul gunsteling TV-anties gewys. Jill het weereens bewys hoekom sy ’n bekroonde aktrise is, want haar vertolking van hierdie storielyn was uitstekend. Jy het nie geweet of jy vir Mymoena moet skel of bid nie. Dit was briljant! En natuurlik was ou Texas (Donovan Pietersen) ook nie te sleg nie; dié het omtrent dinge in Ruiterbosch kom omkrap. 

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

6

Timmy Boy kry verdiende loon

Niemand stoot kykers se bloeddruk op soos ou Tim (Marco Spaumer) nie. Dit is hoekom Tim se fall from glory juis vir kykers so lekker was. Ná Pam October (Melanie du Bois) se skokonthulling dat Ian eintlik Zoë (Lauren Joseph) se biologiese pa is, gryp Tim die kans van ’n leeftyd aan om vir eens en vir altyd Bridgette (Denise Newman) tot ’n val te bring. ’n Volskaalse oorlog breek toe tussen dié twee uit. Tim vra toe hulp van Nazeem (Irvine van der Merwe) om sy wraakplan uit te voer. Ongelukkig vir Tim is Bridgette Queen B vir ’n rede en sy wraakplan het toe sy einde beteken. Kykers was beslis bly om vir Tim te groet, maar welgedaan aan Marco wat sy rol so goed vertolk het dat kykers regtig nie ooghare vir sy karakter gehad het nie. 

7

Wie’s jou pappa? (Maar rêrig…)

Tracy (Melinda Viljoen) en Tertius (Reynardt Hugo) in Binnelanders was verlief en verlore, maar toe bars die bom dat Tracy se eks, Conrad (Hykie Berg), die pa van haar kind is. Tracy moes toe die hartverskeurende nuus aan Tertius breek dat sy en Conrad vir oulaas ’n aand saam gedeel het kort voordat sy en Tertius hul verhouding begin het. Dit het maande van drama tussen die drie veroorsaak, wat kykers op die punt van hul stoele gehou het. Jy het nooit geweet watter pa in hierdie love triangle die ma en kind sou wen nie. 

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

8

’n Brenda vir ons almal

Niemand het my meer as Ciska (Deoudoné van der Merwe) geïrriteer nie. Ek weet sy bedoel goed, maar sy is een karakter wat nooit haar neus uit ander mense se sake kan hou nie. Sy het amper vir arme Brenda (Elisabeth Nisbet) in die tronk laat beland in Binnelanders toe sy besef dat daar iets vreemds met Brenda en haar aanneemseun is. Dit het toe uitgekom dat die kind eintlik Brenda se biologiese seun is, maar dat sy hom sonder toestemming gevat het van sy aangenome huis waar hy mishandel is. Hierdie storielyn het my stresvlakke behoorlik opgestoot. Maar dit was so mooi geskryf en almal verdien ’n Brenda in hul lewens wat vir jou sal baklei.  

9

New kid on the block

Sepies, skemergrond
Khadija Heeger vertolk die rol van Jasmine Louw in Skemergrond. Foto: Skermgreep

Skemergrond is dalk the new kid on the block, maar daar is genoeg bekende gesigte en drama om jou in te trek. In die paar maande wat Skemergrond al op die lug is, het my mond al klomp keer op die grond gehang vir die een bom wat ná die ander bars. Die grootste skok hierdie jaar was toe kykers uitvind dat die Louw-familie se oudste dogter, Hazel (Carmen Maarman), toe nie ’n Louw is nie. Haar ma en ’n ouer seun op die plaas was destyds verlief… En dit is toe die skurk Christine (Devonecia Swartz) se pa! Christine is besig om hierdie hele familie se lewens te verwoes, maar sy is nog nie klaar nie. Hier kom nog groooot drama! 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

21

21+ Afrikaanse flieks wat jy nou aanlyn kan kyk

Op soek na jou volgende gunsteling-fliek? Hier is van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax – van 'Hans steek die Rubicon oor' tot 'Eksie Perfeksie'.

Meer
26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies