Menu terloops
In Sepies [9 Des 2024]

‘Diepe Waters’: Dié was die 5 grootste storielyne van 2024


Van Lettie en Henry se romanse wat uiteindelik tot hul troudag gelei het tot Wim se tragiese dood en Sanet se ewigdurende slegte geluk… Dié storielyne het vanjaar ‘Diepe Waters’-kykers vasgenael voor die skerms gehad.

Stroom 'Diepe Waters'

‘Diepe Waters’: Dié was die 5 grootste storielyne van 2024

In geen spesifieke volgorde – hier is die grootste storielyne en oomblikke van vanjaar in Diepe Waters afgespeel het. 

1

Lettie en Henry se troue

Op 20 Maart het Lettie (Stephanie Baartman) en Henry (Stiaan Bruwer) uiteindelik hul ewige liefde aan mekaar verklaar. Die pad na hul groot dag was egter nie sonder drama nie… Madam Fifi het met die trouringe weggedwaal, wat chaos veroorsaak het. Gelukkig is sy betyds opgespoor, en die troue het sonder verdere voorvalle plaasgevind. Die dag was gevul met liefde, lag en trane, terwyl hul geliefdes die pragtige geleentheid saam met hulle gevier het.

2

Mari veroorsaak groot drama

Mari (Diandra Slabbert) kon nooit vrede maak met die verhouding tussen haar pa, ds. Ben (Eric Bouwer), en Sanet (Nadia Valvekens) nie. Hoewel sy vroom voorgekom het, het sy tot die uiterstes gegaan om hulle uitmekaar te dryf. Sy het valse gerugte oor Sanet versprei en selfs so ver gegaan as om Sanet te bedwelm. Haar planne is egter betyds in die kiem gesmoor, en sy is na haar oom en tannie se rehabilitasiesentrum in Potchefstroom gestuur.

In November het Mari haar slinksheid weer voortgesit nadat Sanet haar verlowing met Ben verbreek het. Sy het amper daarin geslaag om Sanet valslik te laat skuldig lyk aan die dood van ’n voetganger. Gelukkig het die waarheid in die hof na vore gekom – Mari was eintlik verantwoordelik vir dié ongeluk. Sy is skuldig bevind en moet nou haar vonnis in ‘n psigiatriese hospitaal uitdien.

3

Zelda en Gys vind mekaar weer

Diepe Waters
Gys en Zelda het ’n stormagtige liefdesgeskiedenis… Foto: Verskaf

Vir jare was Zelda (Sandi Schultz) en Gys (Justin Strydom) vyande, maar ’n gedwonge samewerking aan ’n projek in Augustus het ou herinneringe laat opvlam. Kykers het toe uitgevind dat hulle ’n romantiese geskiedenis deel. Tydens hul werk saam het die vonke weer gespat, en hul liefde het herleef – op die mees onwaarskynlike plek: ’n stukkende hysbak. Hierdie hartroerende storielyn het gewys dat ware liefde altyd ’n kans verdien.

4

Sanet en Wim se affair – en Wim se tragiese dood

Sanet en Wim (Neels van Jaarsveld) het mekaar ondersteun as rehabiliterende alkoholiste wat persoonlike pyn moes verwerk. Hul vriendskap het vinnig in ’n intense affair ontwikkel, en hulle het oor ’n toekoms saam begin droom. Maar hul geluk was kortstondig. Op pad lughawe toe, waar Wim sy vrou, Rose, vir ’n egskeiding sou vra, het hy tragies in ’n motorongeluk gesterf. Sanet is verpletter, nie net oor sy dood nie, maar oor die verlies van die liefde wat sy nie openlik kon treur nie.

5

Theresa se amperse verdrinking

Theresa (Mandi Baard) is amper deur haar eksman, Wessel (Francois van Rensburg) vermoor. Foto: Verskaf

Theresa (Mandi Baard) het na Boskruin gekom om ’n nuwe lewe te begin en haar gewelddadige man, Wessel (Francois van Rensburg), agter te laat. Nadat sy uiteindelik van hom kon skei en ’n nuwe verhouding met Jacques (Werner Coetser) begin het, het die spook van haar verlede teruggekeer. Wessel het haar ontvoer en probeer verdrink in die Swartmarlyne se swembad. Jacques het egter op die nippertjie opgedaag en Theresa se lewe gered. 


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies