Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Julie 2024.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
The Regime S1
Vanaf 15 Julie op Showmax.
In my oë kan die Oscar-wenner Kate Winslet (Mare of Easttown) weinig, indien enigiets, verkeerd doen. Ook in The Regime speel Kate haar karakter, kanselier Elena Vernham, met haar kenmerkende aanvoeling vir die nuanses van beide die kern storielyn, en die konteks (fiktief én regte wêreld) waarin dit afspeel. Soos Salon dit stel: “Winslet is manjifiek.”
Oor die duur van dié HBO-reeks se ses episodes word ’n jaar in die luukse paleis van ’n verbrokkelende outokratiese regime uitgebeeld. Ons sien hoe Elena, wat vir té lank met ’n penorent postuur en ysterhand van binne dié paleis regeer het sonder om dit te verlaat, toenemend paranoïes en onstabiel raak.
Ook in die rolverdeling tel die Oscar-benoemde Andrea Riseborough, Emmy-benoemde Hugh Grant, asook die bekroonde Matthias Schoenaerts.
Sunny S1
Die eerste twee episodes is vanaf Woensdag, 10 Julie 2024, op Apple TV+ beskikbaar. Daarna word nuwe episodes weekliks beskikbaar gestel om te stroom.
Sunny, met Rashida Jones (The Office, Parks & Recreation) in ’n wonderlike hoofrol, is ’n donker komedie gegrond op die roman The Dark Manual deur Colin O’Sullivan. Die reeks kom vanuit die A24-stal – wat ook vir reekse soos die briljante Ramy en uitdagende Beef, sowel as die trefferreeks Euphoria, verantwoordelik is – as sulks is die verwagtinge hoog vir iets skitterend. Storievertel is immers iets wat nie baie vervaardigers so goed soos A24 doen nie. En dit begin met hul oog vir ’n besonderse storie. Hoe meer onverwags die premis of die kinkels, hoe beter. (Ons vergeet maar hul faux pas, The Idol…)
Sunny se premis is beide ongewoon én tydig in ons tegnologie-behepte wêreld. Dit vertel oor Suzie, ’n Amerikaner wat in Kyoto, Japan, woon, wie se hele lewe omgedolwe word as haar man en seun in ’n vliegongeluk vermis raak. As ’n tipe troosprys word sy ene Sunny, een van die robotte wat haar man se maatskappy vervaardig, gegee. Eers is Suzie nie vir enigiets wat met Sunny te doen het, te vinde nie. Hulle ontwikkel egter ’n onwaarskynlike vriendskap en saam ontdek hulle dan mettertyd die waarheid oor wat met Suzie se gesin gebeur het.
Ook in die rolverdeling is Hidetoshi Nishijima, Joanna Sotomura, Judy Ongg, YOU, en die musikant annie the clumsy.
Sullivan’s Crossing S1
Die volledige seisoen is vanaf 26 Julie 2024 op Showmax beskikbaar om te stroom.
As jy nodig het om jou dors vir melodrama te les, dan is Sullivan’s Crossing vir jou. Dié reeks draai om ’n neurochirurg, Maggie Sullivan (Morgan van When Hope Calls), wat met haar stert tussen haar bene na haar grootwordhuis terugkeer ná sy by ’n skandaal betrek word. Maar ook hier is dit stroomop… Sy moet intrek by haar vervreemde pa, Sully (Scott Patterson, Luke Danes in Gilmore Girls), wat die pragtige Sullivan’s Crossing-kampgronde bedryf. En dan is daar ook ’n nuwe (mooi) gesig wat daar werk (Chad Michael Murray, One Tree Hill) en sorg vir groot muisneste.
Die reeks is gegrond op Robyn Carr se gelyknamige boeke – Carr het ook die Virgin River-boeke (wat ook in ’n TV-reeks omskep is) geskryf, en daar is inderdaad baie ooreenkomste… Nietemin, dis TV-kos vir die massas hierdie en ’n tweede seisoen is reeds op pad.
Elite S8
Vanaf 26 Julie 2024 op Netflix.
Die agtste – en finale – seisoen van dié Spaanse reeks bring nie net vir Omar en Nadia terug na Las Encinas nie – daar is ook een laaste raaisel wat vriendskappe op die proef stel en vyande tot uiterstes dryf…
Dié reeks, oor ’n groep studente by ’n spogskool wat in hulle ouers se oë engeltjies is, maar in werklikheid alles (en nog meer) aanvang, het oor die afgelope ses jaar as een van Netflix se gewildste reekse op ranglyste geboer. (Dít ten spyte van die Engelse onderskrifte.) Daai gewildheid was deels te danke aan die reeks se fokus op relevante (sogenaamde hot-button) temas. Veral hul uitbeelding van homoseksualiteit, klassisme en dwelmgebruik, het die kol getref.
Die New Yorker slaan die spyker op die kop met dié beskrywing: “Dit is kronkelig en sexy, wemel van geheime misdade en geheime ontmoetings, maar die reeks stel ook opreg belang in die psige van die ambisieuse tiener.”
En nog ’n paar voorstelle:
- Lady in the Lake, vanaf 19 Julie op Apple TV+ beskikbaar. Natalie Portman vertolk die hoofrol in dié noir rillerreeks, gegrond op die gelyknamige topverkoperboek deur Laura Lippman.
- Simone Biles Rising, vanaf 17 Julie op Netflix beskikbaar. ’n Dokumentêre reeks oor die Olimpiese gimnas Simone Biles soos sy vir haar terugkeer tot Olimpiese Spele voorberei. Veral haar reis met haar geestesgesondheid kom onder die loep
- Beverly Hills Cop: Axel F, vanaf 3 Julie op Netflix. Dis 40 jaar sedert Detroit-polisiebeampte Axel Foley se eerste ondersoek in Beverly Hills. Sy terugkeer is… chaoties.
- The Man with 1000 Kids, vanaf 3 Julie op Netflix. Sjoe. Hierdie is wild. Dié dokkiereeks vertel oor ’n groep families wat ontdek dat die charismatiese man wat hulle almal vertrou het, eintlik die spermskenker van honderde, indien nie duisende, kinders reg oor die wêreld is.
Nog nuwe flieks beskikbaar
- Mean Girls, Showmax, vanaf 1 Julie 2024
- Fly Me to the Moon, Apple TV+, vanaf 12 Julie 2024
- Lobola Man, Netflix, vanaf 12 Julie 2024
- Anyone But You, Showmax, vanaf 15 Julie 2024
- Find Me Falling, Netflix, vanaf 19 Julie 2024
- Moneyball, Showmax, vanaf 29 Julie 2024
Nog nuwe reekse beskikbaar
- Killing It S2, Showmax, vanaf 1 Julie 2024
- Vikings: Valhalla S3, Netflix, vanaf 11 Julie 2024
- Bookie S1, Showmax, vanaf 12 Julie 2024
- The Irrational S1, Showmax, vanaf 12 Julie 2024
- Cobra Kai: S6 Deel 1, Netflix, vanaf 18 Julie 2024
- Alert: Missing Persons Unit S2, Showmax, vanaf 19 Julie 2024
- The Curse S1, Showmax, vanaf 22 Julie 2024
- Time Bandits, Apple TV+, vanaf 24 Julie 2024
Nog nuwe dokkies beskikbaar
- Skywalkers: A Love Story, Netflix, vanaf 19 Julie 2024
- Dirty Pop: The Boy Band Scam, Netflix, vanaf 24 Julie 2024