Menu terloops
In Redakteurskeuse [1 Feb 2024]

Redakteurskeuse vir Februarie 2024: Mode, manewales, en Messi


Wat om te kyk: ’n Besonderse dokkie oor die legendariese sokkerenigma, Lionel Messi; ’n reeks oor hoe moderne mode tydens die Tweede Wêreldoorlog gestalte gevind het; en die nuwe Showmax se propvol kykspyskaart wat ikoniese reekse soos ‘The Office’ en ‘Parks & Recreation’ insluit – hier is ons keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Februarie 2024: Mode, manewales, en Messi

Met Showmax wat behoorlik uithaal en wys met ’n reuse-aanbod van nuwe inhoud (wat golden oldies, ikoniese stories én splinternuwe programme insluit) vir die bekendstelling van dié stroomdiens se nuwe platform, was dit besonder taai om vandeesmaand my keur van kykstof vir ons lesers in te perk. Maar al is die keuses volop, is kyktyd ’n skaars hulpbron wat jy liefs nie moet mors nie. Hier is dus my redakteurskeuse vir wat om te kyk vandeesmaand.

The Office S1-9

Redakteurskeuse, The Office op Showmax
The Office word wyd beskou as een van die heel beste TV-komedies van alle tye. Foto: Chris Haston/NBC

Binge vanaf 12 Februarie 2024 op Showmax.

Die oorspronklike, Britse weergawe van The Office het van Ricky Gervais ’n household name gemaak. Dieselfde geld vir die spelers van die Amerikaanse The Office met akteurs soos Steve Carell, Rainn Wilson, Mindy Kaling en John Krasinski wat met hul aweregse karakters diep, diep, diep in kykers se harte gekruip het. 

Die reeks, wat draai om die vreeslik banale alledaagse bestaan van die werknemers van die Dunder Mifflin Paper Company, word wyd beskou as een van die heel beste TV-komedies van alle tye. Met talle toekennings op sy kerfstok is dit geen wonder dat die resensent Michael Hewitt die einde van die reeks betreur het nie: “Vir nege jaar het The Office ons oneindig baie laat lat, en enigiemand wat dit nie op hul lys van die Top 10 TV-komedies van alle tye het nie, moet hul lys oordoen.”

Parks & Recreation S1-7

Parks and Recreation Redakteurskeuse Showmax
Adam Scott as Ben Wyatt in Parks and Recreation. Foto: Colleen Hayes/NBC

Binge vanaf 12 Februarie 2024 op Showmax.

Parks & Recreation tel onder my persoonlike lys van beste TV-reekse van alle tye, nevermind beste TV-komedies. Hierdie een boer bo-aan die lys saam met The Sopranos, The Wire en Six Feet Under. Ek dink nie ek was al ooit so mal oor ’n karakter soos wat ek oor Leslie Knope (die Emmy- en Golden Globe-wenner Amy Poehler) is nie.

Soos met The Office, is die geniale Michael Schur hier die skepper en vervaardiger (saam met Greg Daniels). Schur is ook die medeskepper van die ewe briljante The Good Place en  Brooklyn Nine-Nine. Sy vertellingstyl en aanslag is kenmerkend, die humor so heerlik herkenbaar-hy, dat jy al glimlag nog voordat die episode begin het. 

Dié reeks volg ook, soos The Office, ’n mockumentary-trant, met die fokus op die werknemers van die plaaslike regering van Pawnee, Indiana se parke- en ontspanningsdepartement.

Entertainment Weekly het dit as “een van die beste TV-reekse wat al ooit gemaak is” bestempel – iets waarvan sy 25 toekennnings ook getuig. 

Die ongelooflike rolverdeling sluit onder andere Nick Offerman (The Last of Us), Aubrey Plaza (The White Lotus), Adam Scott (Severance), Rob Lowe (9-1-1: Lone Star), Aziz Ansari (Master of None) en Chris Pratt (aka Marvel se Star-Lord and Jurassic World se Owen Grady) in. 

’n Absolute moet-kyk!

Wyfie

Vanaf 12 Februarie 2024 op Showmax beskikbaar om te stroom met twee nuwe episodes elke week.

Wyfie is ’n universiteitsdrama vanuit die veelbekroonde Homebrew Films-stal (Trompoppie, Magda Louw). Dié Showmax Original volg vier wildvreemde eerstejaar-kamermaats in die Pantera-koshuis aan die fiktiewe Eike-universiteit. 

“Mense moet Wyfie kyk omdat ons nie bang was nie, omdat ons nie skaam was nie,” vertel die reeksregisseur Johan Cronjé.

“Ek het in pre-produksie daarna verwys as ’n storie wat nie skaam mag wees nie; dis ’n baie eerlike storie en nie bang om universiteitslewe te wys soos dit werklik is nie. Ek glo mense wil hulself op skerm herken, en baie daarvan kom daarop neer dat jy (as TV-skepper) nie wegsteek hoe die lewe regtig is nie. Enigiemand wat al koshuislewe ervaar het, gaan kan aanklank vind by die storie en karakters van Wyfie.” 

Lees meer oor die rolverdeling, die musiek en die skryfspan van dié drama.

Catch Me A Killer

Weeklikse episode vanaf 12 Februarie 2024 op Showmax beskikbaar om te stroom.

Catch Me A Killer is ’n Showmax Original wat draai om Suid-Afrika se eerste reeksmoordenaar-profiler, Micki Pistorius. Die rol van Pistorius word deur Charlotte Hope, bekend vir haar rolle as Myranda in Game of Thrones en as Catherine van Aragon in The Spanish Princess, vertolk.  

Die reeks is gegrond op Micki se gelyknamige memoires, en sien hoe dié forensiese sielkundige oor die loop van tien episodes op Suid-Afrika se mees gevreesde moordenaars jag maak. Elke episode fokus op een van die ondersoeke waarop sy gewerk het – insluitend die sogenaamde Cleveland Killer-saak en die bloedspoor wat Stewart ‘Boetie Boer’ Wilken, agtergelaat het.

Lees meer oor dié rillerreeks.

Messi’s World Cup: The Rise of a Legend

Vanaf 21 Februarie op Apple TV+ beskikbaar om te stroom.

Messi’s World Cup: The Rise of a Legend vertel die storie van een van die wêreld se top-sportsterre (dalk selfs die een heel, heel, heel bo-aan daai lys…) Die reeks is in vier dele opgebreek om ’n besonderse blik op dié Argentynse sokkerlegende se reis deur vyf Sokkerwêreldbekertoernooie, en al die hoog- en laagtepunte wat daarmee saamgegaan het, te gee. Dit sluit intieme gesprekke met Messi self in, asook onderhoude met sy spanmaats, afrigters, mededingers en aanhangers. Sportkenners praat ook oor die ongelooflik impak en invloed wat hy op die wêreldverhoog het en wat van hom só ’n ikoniese figuur maak.

The New Look

Vanaf 14 Februarie 2024 op Apple TV+ beskikbaar om te stroom.

The New Look se aangrypende tien episodes speel af teen die agtergrond van die Nazi-besetting van Parys tydens die Tweede Wêreldoorlog. Dis veral besonders in hoe dit ’n ongelooflike verhaal na vore bring – dié van die mode-ikoon Christian Dior en hoe hy as’t ware weer lewe in Parys geblaas het met grensverskuiwende ontwerpe. Ook sy tydgenote (en mededingers), soos Coco Chanel, Pierre Balmain en Cristóbal Balenciaga, en hoe hulle midde die gruwels van oorlog die fondasie vir moderne mode gelê het, kom onder die loep in dié treffende vertelling. 

Die rolverdeling is benydenswaardig vir enige storieverteller. Daar’s byvoorbeeld Maisie Williams as Catherine Dior, John Malkovich Lucien Lelong, Emily Mortimer as Elsa Lombardi, Glenn Close as Carmel Snow, asook Ben Mendelsohn as Christian Dior en Juliette Binoche as Coco Chanel. Chef’s kiss.

Die klankbaan is deur die Grammy-wenner Jack Antonoff en sluit covers van gewilde liedjies van dié era in, opgevoer deur kunstenaars soos Lana Del Rey, Florence Welch, Bleachers, Nick Cave en meer. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies