2023 was ’n rowwe jaar vir die televisiebedryf. Die tweeledige staking – deur Amerika se skrywers, sowel as sy akteurs – het gedui op ’n forever changed and changing TV-landskap. Een wat die hoogtes van “Peak TV” (met sy nagenoeg 600 oorspronklike reekse in 2022) vaarwel geroep het. Die staking het die impak van streaming platforms op die mense wat die bedryf maak wat dit is, in die kollig geplaas. Moeilike vrae is geopper rondom veral die gebruik van AI in die skrywerskamers van reekse, flieks en so meer, asook die vergoeding wat menslike talent en werk behoort te kry.
Die impak van die staking, wat gelei het tot maande waarin geen vervaardiging kon plaasvind nie, sal eers werklik later in 2024 vir kykers duidelik word as daar meer herhalings as premières op die skedule is.
Nietemin, 2023 het ’n jaar van fantastiese stories en storievertelling opgelewer en dit was ’n amperse onmoontlike taak om dié lys bymekaar te sit. Ons het dit beperk tot ’n top-vyf, maar daar is etlike ander reekse wat ewe maklik die lys kon haal (…en juis daarom meld ons ’n paar ekstras).
Beef, Netflix

Beef, ’n komedie-drama met Ali Wong en Steven Yeun in die hoofrolle, is sonder twyfel een van vanjaar se TV-kroonjuwele. Soos The Hollywood Reporter se Dan Fienberg dan tereg in sy resensie uitwys: “Geen reeks het 2023 se onderstroom van ongefokusde ontevredenheid met die intensiteit, empatie en onderliggende humor van Lee Sung Jin se Beef vasgevang nie.”
Die reeks, bestaande uit tien episodes, draai om die nagevolge van ’n padwoedevoorval tussen twee vreemdelinge. Yeun vertolk Danny Cho, ’n sukkelende kontrakteur met ’n groot chip op sy skouer, terwyl Wong haar voete in die skoene van ’n entrepreneur met ’n prentjiemooi lewe plaas. Ons kan maar net toekyk hoe ’n intense vete ná die voorval tussen die twee ontwikkel. Niks – geen verhouding of deel van hul lewens – is veilig van die tentakels van hul langdurige twis nie.
Die vertelling, onberispelik en geheel en al onvoorspelbaar, maak van Beef ’n uitsonderlike reeks wat ’n haas perfekte balans tussen drama en komedie handhaaf om temas van obsessie en woede met gesag uit te beeld.
The Last of Us, Showmax

Craig Mazin moes sekerlik geweet het dat hy moeilik iets meer dramaties menslik en meesleurend as Chernobyl sou kon maak. En tog, so onwaarskynlik soos dit mag klink, oortref hy toe homself met The Last of Us.
HBO se verwerking van Naughty Dog se bekroonde videospeletjie plaas die storielyn (’n diepe een, een wat krap om te laat bloei) nie net in die hande van Mazin nie, maar ook in dié van die speletjie se skrywer en regisseur, Neil Druckmann. Dié twee kry dit reg om die aksie-elemente van ’n storie oor zombies en die apokalips met komplekse temas van oorlewing (fisiek en emosioneel), gekose familie (teenoor bloed) en die tol en prys van mens-wees te verweef.
The Last of Us speel af in ’n post-apokaliptiese zombie-wêreld. ’n Virus het die menslike beskawing soos ’n vrot stuk hout laat muf totdat als tot niet is. Of amper als. Daar is nog iets, óftewel iemand, te redde. Joel (Pedro Pascal, Narcos, Game of Thrones) moet dié einste iemand, ’n 14-jarige meisie, Ellie (Bella Ramsey, Game of Thrones), uit ’n kwarantyn-gebied smokkel. Bestemming? “West.” Dit beteken Joel en Ellie moet oor die hele, zombie-besaaide Amerika reis – ’n oorlewingstryd begin.
Die skeppers het besonder mooi gemaak met hul keuse van Pascal en Ramsey. Dis immers juis van dié karakters se komplekse verhouding waarvan ’n groot deel van die storie se geslaagdheid afhang. Met boeiende high stakes as dryfkrag raak hulle van mekaar afhanklik om te oorleef met wrede, hartverskeurende ompaaie en afdraaie op hul reis.
Die tweede seisoen sal na verwagting die storielyn van die speletjie se tweede aflewering, The Last of Us II, volg.
Poker Face, Showmax

Die Emmy-benoemde aktrise Natasha Lyonne, veral bekend vir haar briljante spel in Russian Doll en Orange Is The New Black, speel Charlie Cale in die Oscar-benoemde Rian Johnson (Knives Out, Glass Onion) se raaiselreeks, Poker Face.
In die reeks, bestaande uit tien episodes, beskik Lyonne se karakter oor die buitengewone vermoë om vas te stel as iemand lieg. Ná een van Charlie se vriende vermoor word, vat sy die pad en oral waar sy met haar Plymouth Barracuda stop, is daar (heel toevallig…) ’n nuwe raaisel om op te los.
Onder die ander spelers tel Adrien Brody, Joseph Gordon-Levitt, Chloë Sevigny, Jameela Jamil, Cherry Jones, Stephanie Hsu en nog.
Poker Face is reeds vir ’n tweede seisoen hernu met Ed Power van die Daily Telegraph (UK) wat na Lyonne as “sjarme op ’n stokkie” verwys.
Entertainment Weekly se Darren Franich was dit ook eens dat Poker Face selfs as die “beste misdaadreeks van die jaar” beskou kan word. ’n Rits ander resensente meen dié reeks herinner ook sterk aan die beste dele van die ikoniese reeks, Columbo.
Succession S4, Showmax

Jesse Armstrong se vurige satire wat die wispelturige (en soms straight-up hateful) aard van familiebande onder die loep neem, het met ’n onverbeterlike vierde seisoen tot ’n einde gekom.
The Guardian verwys – tereg – na Succession as “Game of Thrones met werklike bloed: ons s’n”.
Dié reeks se bekroonde blik op die mag van rykdom – hetsy om verwoesting te saai, lewens te vernietig, redder te speel of wat nog – word dan ook deur Buzzfeed as die “toppunt van televisie” verwys. Ek’s eintlik baie jaloers as jy nog nie hierdie reeks gekyk het nie. Wat ek nie sal gee om dit van voor af te ontdek nie!
Dis storie draai om ’n opvolgstryd wat in ’n rugsteek-oorlog ontaard as die patriarg en sakemagnaat Logan Roy (Brian Cox) se gesondheid ’n knou kry. Maar die man klou vas aan sy heerskappy. Hy meen nie een van sy vier kinders – Connor, Kendall, Roman en Shiv – is opgewasse om by hom oor te neem nie.
Die vierde seisoen het begin met Waystar Royco amper in die hande van die tech visionary, Lukas Matsson (Alexander Skarsgård). Dís ’n vooruitsig wat eksistensiële angs en verdeeldheid onder die Roys aanvuur… Veral omdat hulle heelwat minder belangrik gaan wees as dié deal eers deur is.
Een van Succession se sterkste elemente is die ongelooflike toneelspel van akteurs soos Jeremy Strong is in die rol van Kendall, Kieran Culkin as Roman, Sarah Snook as Shiv, en Alan Ruck as Connor.
Barry S4, Showmax

Die vierde – en finale – seisoen van Barry was ’n amperse viering van die reeks se ommeswaai van donker komedie na malle rillerreeks.
Met die komedie-genie Bill Hader in die skoene van Barry, ’n huurmoordenaar wat ’n onverwagte en onwaarskynlike liefde vir toneelspel ontdek, is dit maklik om met die punt van 98% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes saam te stem. Variety bestempel dit as “’n meesterstuk… Snaakser en skerper as ooit” en meen die hoofkarakter is een van die boeiendste protagoniste tans op TV.
Die reeks is ’n mengelmoes van alles wat ons mens maak. Ook ons onvervulde lewensdrome. Soos as Barry sy ware passie in die ontdek, maar sukkel om die bloed van sy hande te was en sy ou lewe agterweë te laat. Die eerste twee seisoene het ses Emmy-toekennings ontvang, waaronder vir beste akteur in ’n komediereeks vir Hader.
Eervolle vermelding aan…
- The Bear S2, Disney+/Hulu
- Yellowjackets S2, Showmax
- The Righteous Gemstones S3, Showmax
- I’m a Virgo, Prime Video
- Dead Ringers, Prime Video
- Lessons in Chemistry, Apple TV+
- Gen V, Prime Video
- Colin From Accounts, Showmax
- Only Murders in the Building S3, Disney+
- Heartstopper, Netflix
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →